Leon Lemmer: Adam Small en Michael le Cordeur: Twee anti-Afrikaanse Afrikaanses

Op 11 deser het die Universiteit Stellenbosch (US) ‘n eredoktorsgraad aan Adam Small, “die akademikus, digter en dramaturg”, toegeken. Dit het aan Michael le Cordeur die geleentheid gebied om om etniese en politieke redes ‘n artikel tot lof van Small te skryf (Die Burger, 10 deser, p 19). Soos gebruiklik is Le Cordeur se teks nie vry van lof vir homself nie. Onderaan help Die Burger hiermee deur te kenne te gee dat Le Cordeur, wat ‘n senior lektor aan die US is, bevorder gaan word. Hierdie inligting, wat seker van Le Cordeur afkomstig is, help ‘n mens om te verstaan waarom Le Cordeur, wat homself al as een van die “Who’s who” van Afrikaans beskryf het, sy ondersteuning aan Wim de Villiers se verengelsingsbeleid toegesê het.

Le Cordeur begin sy artikel, soos talle van sy ander geskrifte, met ‘n loflied vir Kaaps. Hierdie mengeltaal is een van die bande wat hom aan Small bind. Albei het hulle (ongekwalifiseerde) steun aan De Villiers se Engelsmanie belowe, gevolglik kritiseer Le Cordeur glad nie vir Small hieroor nie. In werklikheid verwag Le Cordeur dat daar groot waardering vir Small se menings en geskrifte moet wees.

“Daar word wêreldwyd aanvaar dat onderrig in die moedertaal die doeltreffendste manier van leer is.” Hoe voorkeur vir onderrig in Engels, wat Afrikaanssprekendes betref, met die bewese voordele van moedertaal versoen kan word, word nie gesê nie. Die afleiding wat ‘n mens moet maak, is dat Le Cordeur Afrikaans as die moedertaal van Afrikaners, dus sommige blankes, beskou, terwyl Kaaps die moedertaal van sommige bruines, soos Small en Le Cordeur, is. Omdat Kaaps so ‘n groot (en seker groeiende) komponent Engels bevat, vind hierdie twee mense dit maklik om dislojaal teenoor die een deel van Kaaps (naamlik in soverre dit Afrikaans is) te wees en hulle lojaliteit aan die ander deel van Kaaps, naamlik Engels, toe te sê.

Om sy dislojaliteit teenoor Afrikaans te probeer regverdig, (oor)beklemtoon Le Cordeur eerder die verskille as die ooreenkomste tussen Afrikaans en Kaaps. Hulle word as twee verskillende tale voorgehou. Dit help Le Cordeur om aan bruin skoolkinders die status van benadeeldes te gee. “Die verskille tussen Standaardafrikaans en Kaaps het daartoe gelei dat Kaapssprekende leerlinge agtergekom het dat hulle ‘n ander ‘taal’ moet aanleer wanneer hulle skool toe gaan.” Daarna stal Le Cordeur sy politieke bagasie uit met woorde soos diversiteit, ongelykheid, transformasie, inklusiwiteit, geregtigheid, ens. Die standaardisering van Afrikaans het glo “met baie maatskaplike ongeregtigheid gepaard gegaan.” Ter ondersteuning hiervan haal hy iemand soos die ANC-aktivis Hein Willemse aan wat beweer “dat Standaardafrikaans ‘die stempel van sosiale, kulturele en politieke voorkeure’ dra deurdat Afrikaans as besitting deur Afrikanernasionalisme opgeëis is.” Dít gebeur deesdae baie minder as voorheen, hoewel Afrikanersnasionalisme sekerlik net so regverdigbaar as swart of Afrika-nasionalisme is. In ‘n era waarin gepoog word om Afrikaners meer as ooit van (al) hulle besittings (kultureel en selfs materieel) te beroof, is dit sekerlik geregverdig as alle middele ter oorlewing, insluitende Afrikaans, deur Afrikaners toegeëien en ingespan word.

Le Cordeur gebruik hierdie Afrikanerreaksie om die skuld vir bruines se Afrikaansdislojaliteit (soos dié van Small en Le Cordeur) op Afrikaners te pak: “die vervreemding van die Kaapssprekers. Daar is ‘n sterker groeiende vereenselwiging met Engels as ‘n taal van studie en taal van werk.” Maar bruines se geneigdheid tot Engelslojaliteit dateer baie verder terug as die tragiese gebeure van 1990/1994. Na die aanvang van die eerste Britse bewind in 1795 en veral dié van die tweede Britse bewind in 1806, het baie bruines hulle rug oorgretig op Hollands/Afrikaans probeer draai. Eenogig word die Britte nie hulle wêreldwye vergrype toegereken nie. Boosheid word net plaaslik gesoek en by voorkeur slegs by Afrikaners gevind. Maar Le Cordeur dink dat die herstandaardisering van Afrikaans, spesifiek die (groter) verkaapsing daarvan,* “haas onvermydelik is.” Volgens polities gedrewe taalaktiviste, soos Frank Hendricks (UWK) en Gerda Odendaal (US), “sal die herstandaardisering van Afrikaans lei tot die bemagtiging van al [!] sy sprekers; op sielkundige, ideologiese, ekonomiese en akademiese gebied.” Die klem word dus eerder op materiële as geestelike voordele geplaas; sekerlik nie op kulturele verryking en die uitbouing van beskawing en spesifiek algemeen beskaafde Afrikaans nie.

[* Wat Le Cordeur eintlik wil hê, is die verkaapsing van Standaardafrikaans. Die hergestandaardiseerde Afrikaans “sal [bruin] leerlinge aanmoedig om Kaaps in die klaskamers te praat. Hulle sal meer tuis voel in die klas wanneer daar minder kritiek op hul taal is wat tot verbeterde selfbeeld sal lei.” Le Cordeur wil dus hê dat Afrikaans se herstandaardisering misbruik moet word om bruines te bevoordeel en ongetwyfeld om Afrikaners terselfdertyd te benadeel. Daardie benadeling sal veral werklikheid word wanneer ‘n Engelsbesmette, gestandaardiseerde mengeltaal geen daadwerklike weerstand teen verswelging deur Engels kan bied nie. Die taalscenario (Afrikaans word deur Engels verswelg) word dus soortgelyk aan die etniese scenario (blankes word deur swartes verswelg). Dit is ‘n infame leuen dat Le Cordeur se herstandaardiseringskema tot die bemagtiging van alle Afrikaanssprekers (kyk die vorige paragraaf) sal lei.]

‘n Deurwinterde taalkundige, Tom McLachlan, het Le Cordeur tot orde geroep. Hy lees in Le Cordeur se eis dat Standaardafrikaans (meer) moet verkaaps “die ligte dreigement dat … ‘die sprekers van Kaaps toenemend Afrikaans die rug (sal) toekeer'” (Die Burger, 12 deser, p 12). Hy stel dan vyf duidelik geformuleerde vrae oor wat iemand soos Le Cordeur beoog. “Tensy vrae soos dié behoorlik beantwoord word, bereik ons niks deur Standaardafrikaans al hoe meer verdag te maak nie.”

Die grootste deel van Le Cordeur se artikel handel oor sy politiek-deurweekte standpunte, wat hy al talle kere gestel het. Heelwat minder word oor Small geskryf. Dit is waar dat Small as dosent destyds onrus by die UWK-studente gestook het. Dit is egter nie waar dat dit “hom sy werk as professor in filosofie gekos” het nie. As ek reg onthou, het Small bedank. Hy was toe ‘n senior lektor en nie ‘n professor nie. Jare later, nadat Small uiteindelik ‘n doktorsgraad aan die Universiteit Kaapstad verwerf het, het hy na die UWK teruggekeer as professor in maatskaplike werk. Die akademies-wetenskaplike waters van die filosofie was te diep vir hom.

“As akademikus, digter en dramaturg het Small die brandende vraagstukke van ‘n verdeelde Suid-Afrika op deurdagte dog onverskrokke wyse aangeroer en hom só as denkende revolusionêr en revolusionêre denker onderskei.” Dit hang van ‘n mens se politieke oortuiging af of dit as lof behoort te kwalifiseer. As ‘n mens, soos Le Cordeur, ‘n bewonderaar van die sterk kommunistiese ANC, insluitende ‘n geweldenaar soos Nelson Mandela, is, is revolusie seker iets om op te roem, nieteenstaande die katastrofiese gevolge daarvan. Van werklik groot skrywers word verwag om suiwer literêr uit te munt, onafhanklik van watter ideologie vertroetel word. Dit klink maar hol as Le Cordeur beweer dat “Small Kaaps tot vryheidstaal, maar bowenal tot literêre taal verhef” het. Net so hol is sy verwysing na die nuwe Suid-Afrika as “‘n vrye land.” Vry van wat? Sekerlik nie van rassediskriminasie nie. Ook nie vry van geweld, misdaad, kommunisme, korrupsie, onreg, agteruitgang, ondoeltreffendheid, ens, nie.

Le Cordeur sluit sy artikel af met ‘n pluimpie vir die De Villiers-US, wat Small vereer het: “Dit wys onteenseglik dat die universiteit op ‘n onomkeerbare pad na ware demokrasie* is.” Myns insiens sal daardie demokratiese kragte in die vorm van bv Open Stellenbosch die US in 2016 na verwagting verder op die revolusionêre pad aanhelp. [* Kyk die laaste twee paragrawe hier onder oor demokrasie.]

‘n Variasie op hierdie artikel is op Netwerk24 (11 deser) onder die opskrif, “Lank lewe Adam Small,” gepubliseer. Small het glo daarin geslaag “om Kaaps te verhef tot ‘n effektiewe taal van verset teen politieke onreg.” Le Cordeur kan nie aan Afrikaans vry van sy linkse politiek dink nie, maar Afrikaners word verkwalik as Afrikaans hulle nasionalisme aanvuur. Dit is in hierdie teks weer vir Le Cordeur moeilik om iemand op te hemel, naamlik Small, sy “mentor en inspirasie”, sonder om darem ook aansien aan homself te verleen: “Die universiteit het my die eer aangedoen om … by die Kanseliersete ‘n heildronk in te stel op Adam Small.”

Op 11 deser het die US vier eredoktorsgrade uitgedeel. Van Small word die grootste ophef gemaak (US-webwerf 11 deser). Hy het glo geskryf oor “‘n verlede wat hom nooit mag herhaal nie.” By implikasie word (seker) gesê dat die blanke bewind/apartheid net sleg was. Small was “‘n stem vir die stemloses” en hy het Afrikaans “ryk en divers” gemaak. Vir die US en Le Cordeur gaan dit primêr om linkse politiek en nie om die heil van Afrikaans nie. Geen wonder dat sowel Small as Le Cordeur Wim de Villiers se verengelsingsprojek aan die US steun nie.

Duidelike erkenning van die grondige Afrikaansdislojaliteit wat daar in ontwikkelde bruin geledere bestaan, word by ‘n US-dosent, Ronelle Carolissen, aangetref. Sy kyk na Afrikaans uitsluitlik uit die hoek van bruines en swartes. Na bewering word Afrikaans dan ‘n akademiese taal van “pynlike uitsluiting.” Wim de Villiers se anti-Afrikaansprojek “sal Afrikaans van stereotipes en historiese veroordeling verlos. Afrikaans kan ‘n vooruitstrewende wedergeboorte beleef” (Die Burger, By, 12 deser, p 2). Hoewel Carolissen Afrikaanse ouers het, erken sy dat sy “nie emosioneel geheg aan Afrikaans” is nie. Afrikaans en Afrikaners het die steun van Afrikaansontroues soos Carolissen werklik nie nodig nie.

As opvoedkundige kan Le Cordeur gerus tot die insig en daadwerklike besef kom dat ‘n universiteit, anders as die nuwe Suid-Afrika, nie veronderstel is om ‘n demokrasie te wees waarin almal gelyk verklaar is nie. (In die praktyk van die nuwe Suid-Afrika het blankes egter ‘n mindere status as die res.) ‘n Universiteit behoort wesenlik elitisties pleks van demokraties te wees. Normaalweg behoort die volgende te geld. ‘n Eerstejaarstudent is nie die akademiese gelyke van ‘n voorgraadse student in sy finale jaar nie. ‘n Voorgraadse student is nie die akademiese gelyke van ‘n nagraadse student nie. ‘n Student is nie die akademiese gelyke van ‘n dosent nie. ‘n Klerk in die universiteitsadministrasie is nie die akademiese gelyke van ‘n dosent nie. Die akademiese rangorde van dosente, van laag tot hoog, is bv: junior lektor, lektor, senior lektor, medeprofessor en professor.

In die praktyk word hierdie rangorde versteur as ‘n universiteit, soos die US, toelaat dat nie-akademiese oorwegings, bv etnisiteit en geslag, swaarder as akademiese verdienste, bv formele kwalifikasies, ondervinding en publikasies, weeg. Die punt is dat ‘n universiteit wesenlik ‘n gemeenskap van akademies ongelykes is. Dit is dus heeltemal misplaas en onverskoonbaar as studente (en politieke kamerade, bv oud-“vryheidsvegters”) hulle aanmatig om voor te skryf hoedanig ‘n universiteit as akademiese inrigting moet wees. Dit is katastrofies as die akademiese personeel polities korrek toelaat dat sulke mense wegkom met hulle politieke agendas, gebaseer op nie-akademiese, revolusionêre dwaasheid. Aan ‘n gesonde universiteit het studente hoogstens inspraak. Aan die US word toegelaat dat ‘n klein groepie studente voorspraak doen.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.