Leon Lemmer: Heindrich Wyngaard: Koop bruin mense se steun vir Afrikaans

Heindrich Wyngaard is tydens die redakteurskap van Henry Jeffreys (2006-2011) tot politieke redakteur van Die Burger verhef. Toe Jeffreys se redakteurskap summier beëindig is, was dit ook die einde van die buitensporige bevoordeling van bruin joernaliste aldaar. Wyngaard het spoedig ‘n staatsdienspos verkies. Toe die Universiteit Stellenbosch (US) tydens die rektorskap van Russel Botman (2007-2014) om etniese redes oordrewe voorkeur aan bruines gegee het, het Wyngaard ‘n skakelpos daar gekry. Ek onthou hoe hierdie oudjoernalis vertel het dat hy matriek in Caledon met (as ek reg onthou) ‘n D-gemiddeld geslaag het. Toe ek vra of Die Burger dan nie kandidate van beter stoffasie kon aanstel nie, was hierdie Caledonner hewig ontsteld.

Onlangs was Wyngaard ietwat in die nuus met die publikasie van sy boek, A Home for Zephany (LitNet 2 September). In die boek vertel hy vertel van ‘n bruin meisie wat as baba ontvoer is en die volgende 17 jaar by haar skynouers gewoon het. Soos dit ‘n ontwikkelde bruine betaam, het Wyngaard die teks in Engels geskryf. Leopold Scholtz het onlangs die aandag gevestig op bruines se onbetrokkenheid by die Afrikaanse taalstryd, bv aan die US, onder die opskrif: “Vat nou hande oor Afrikaans” (Die Burger, 3 deser, p 16). Dit het aanleiding gegee tot Wyngaard se jongste skrywe: “Hoekom is bruines dan nie in die boedel?” (Die Burger, 8 deser, p 15). Om lesers te herinner aan sy eertydse joernalistieke glorie, begin Wyngaard sy artikel deur Scholtz as “oudkollega” aan te spreek. Daar is egter geen sprake van gelykheid by hierdie twee oudkollegas nie, want Scholtz het bv ‘n doktorsgraad en baie meer joernalistieke ondervinding.

Scholtz noem homself “‘n gematig-konserwatiewe Afrikaner”. Sy oogmerk is om wit en bruin Afrikaanssprekendes te versoen. Daarom vind hy dit nodig om te bieg dat “ons Afrikaners … ons bruin taalgenote … baie stief behandel” het. “Ons Afrikaners het Afrikaans geannekseer as ons eksklusiewe besit. Dat dit ook aan bruin mense behoort, dat hulle die taal saam met ons geskep het, was te lank ‘n half vergete nagedagte.” Scholtz trek dinge hier doelbewus bruinwaarts skeef. Die soort Afrikaans wat tereg deur sommige as hoofsaaklik Afrikanerbesit beskou word, is Standaardafrikaans. Daar moet ook duidelik tussen die ontstaan en ontwikkeling van Standaardafrikaans onderskei word. By die ontstaan van Afrikaans, dus proto-Afrikaans, het nie-wittes ‘n rol gespeel maar die ontwikkeling, erkenning en triomf van Standaardafrikaans is feitlik uitsluitlik aan Afrikaners te danke. In die geledere van polities korrektes is dit ‘n ongewilde waarheid.

Tereg merk Scholtz op: “By ‘n beduidende deel van die bruin elite kry jy ‘n neersien op Afrikaans.” Maar blankes mag in die nuwe Suid-Afrika eintlik nie kritiek op nie-wittes lewer nie. Kritiek word in groot mate gereserveer vir blankes. Daarom versuiker Scholtz die pil met ‘n onoorspronklike en oordrewe oproep: dat wit en nie-wit Afrikaanssprekers “regtig hande vat … Ons het dieselfde moeder. En haar naam is Afrikaans (in al haar variante) … ek en my bruin taalgenoot het dieselfde moeder. Taalgenoot, help ons asseblief om haar te verdedig!” Wat Scholtz sê en hoe hy dit sê, sal hom ongetwyfeld guns laat vind in die harte van die direksie van die Afrikaanse Taalraad. Maar Wyngaard sien daarin ‘n geleentheid tot etniesgedrewe politieke aktivisme. Hy skryf oor die “ekonomie van Afrikaans” ten einde by bruines se “ekonomiese selfbemagtiging” uit te kom. Maar daar word nie van bruines verwag om dit werklik self te doen nie. Wyngaard soek geld vir bruines voordat hulle iets pro-Afrikaans sal doen en daardie geld moet glo van Afrikaners kom.

Vir Wyngaard gaan dit glad nie om die kulturele waarde van Afrikaans en die outomatiese lojaliteit wat Afrikaanssprekendes aan hulle moedertaal verskuldig is nie. Hy soek geen verskoning vir die gebrek aan steun uit bruin geledere in die heersende Afrikaanse taalstryd nie. Bruines, soos ander nie-wittes, is skynbaar geregtig op alles wat hulle verlang, insluitende die reg om, ten spyte van hulle ooglopende gebreke, van kritiek vrygestel te word. Hy gaan selfs sover om Scholtz te verwyt omdat hy homself glo nie sover kon kry om apologie aan te teken nie. Wyngaard skryf van “die onregte” wat blankes “gepleeg het”, sonder ‘n enkele woord oor die baie lofwaardige dinge wat wittes gedoen het en steeds doen. Scholtz kry stank vir die dank van sy oorgematigde aanslag. Onderliggend aan Wyngaard se houding is daar myns insiens heelwat astrantheid; eintlik vermetelheid.

Scholtz se stelling dat gesonde verstand die oorwinning met die jongste US-raadsbesluit behaal het, word deur Wyngaard twee keer tussen aanhalingstekens geplaas, want hy wil kennelik hê dat die US soos die Universiteit van Wes-Kaapland eentalig Engels moet word. Hoe min Wyngaard van die saak verstaan, blyk uit sy opmerking: “Dit is onduidelik waarteen Scholtz meen die taal ‘verdedig’ moet word.” Die ondergang van Afrikaans aan die US en elders is vir Wyngaard klaarblyklik geen hartsaak nie. Soos in die geval van Michael le Cordeur (LitNet 13 November) is daar by Wyngaard blykbaar “geen hartseer” oor Wim de Villiers se verengelsingsprojek nie.

In die eerste kwart van Wyngaard se artikel word herhaal wat Scholtz geskryf het. Daarna vestig hy aandag op die feit dat dit nie net die bruin elite is wat Engels wil wees nie. In toenemende mate probeer minder gegoede bruines deesdae ook om Engels te wees. Hulle kinders word dus by voorkeur na Engelse skole gestuur. Ontwikkelde bruines, soos Christo van der Rheede en Danny Titus, stel hierin ‘n bedenklike voorbeeld; soos Franklin Sonn en Russel Botman dit voor hulle gedoen het. Maar dit is ‘n verskynsel wat hom ook in blanke geledere voordoen, soos in die geval van Max du Preez. Onder bruines bring dit mee dat etniese hibriditeit/verbastering met taalhibriditeit aangevul word: “Met die resultaat dat hulle dikwels nie in staat is om hulself in een van die twee tale ordentlik uit te druk nie. Of dikwels presteer hulle stukke beter in hul Afrikaans as ‘eerste addisionele taal’ as hul sogenaamde Engels as ‘huistaal’.” Uiteraard veroordeel Wyngaard nie hierdie pro-Engelse dwaasheid by Afrikaanssprekendes nie. Sy ingenomendheid met hibriditeit vind aansluiting by dié van Nico Koopman, wat homself reeds talle kere tot die toonbeeld van algoeie hibriditeit verhef het.

Hierna staan Wyngaard met sy kollektebussie nader. Hy vestig die aandag op die groot werkloosheid by bruines, hulle lae huishoudelike inkomste en hoe min van hulle nagraadse kwalifikasies verwerf. Hiervoor verwyt hy nie die bruines nie en ook nie die ANC-regering nie. Hy koppel dit, hoe onwaarskynlik ook al, aan Afrikaans, want hy wil Afrikaans as voertuig misbruik om geld van Afrikaners na bruines te kanaliseer. Hierdie voorstel is so vergesog dat die outeur se rasionaliteit bevraagteken kan word, asook die insig van die joernalis(te) wat besluit het om sy artikel te publiseer. Maar Sandra van die Paarl het Wyngaard se teks “insiggewend” gevind (Die Burger, 11 deser, p 13).

Die ANC-regering se skandalige beleid van Swart Ekonomiese Bemagtiging (SEB) is daarop ingestel om swart swartes te bevoordeel en nie soseer bruin swartes nie. Pleks van die ANC-regering te kritiseer, soek Wyngaard vergoeding by Afrikaners. “Jy ondersteun entrepreneurs en sakelui uit dié gemeenskap met afskopkapitaal en sakelenings en vennootskappe om hul ondernemings aan die gang te kry, of om hul in staat te stel om noemenswaardige aandele in bestaande ondernemings te bekom.” Dit is alles dinge wat SEB veronderstel is om vir bruines te doen.

Die ekonomiese situasie vir bruines kan glo “verander as bruin Afrikaanssprekendes die geld daarvoor het; as hulle sien die saamstry vir Afrikaans se behoud word in ekonomiese welvaart of vooruitgang omgeskakel.” Volgens Wyngaard is bruines se ondersteuning van Afrikaans dus koopbaar. Hoe onbetroubaar bruines voorheen taalgewys was, word nie te berde gebring nie. Ook nie hoe anti-blank en veral anti-Afrikaner baie bruines se misdadige UDF/ANC-gedrag was nie. Bruines het egter nie die monopolie van griewe nie. Blankes en veral Afrikaners het rede om ongelukkig te voel oor die dikwels ongegronde verwyte wat deur bruines soos Wyngaard na hulle geslinger word en die valse, negatiewe beeld wat moedswilliglik van wittes geskilder word.

Daar word dikwels maar valslik beweer dat blankes en bruines se kultuur identies is. Taal is ‘n kernelement van kultuur. Wat die bostaande uiteensetting duidelik maak, is dat Afrikaners en (baie) bruines se gesindheid jeens Afrikaans heeltemal verskil. Scholtz het dit reeds in 2010 verwoord. Hy het geskryf dat “vir bruin mense Afrikaans ‘n instrument is, maar vir Afrikaners ‘n deel van hulle identiteit” is (Pieter Kapp, Maties en Afrikaans, 2013, p 186). Dit is waarom Afrikaans vir bruines opsioneel is terwyl ware Afrikaners bereid is om daarvoor te veg en Afrikaans nie vir Engels of enige ander taal sal verruil nie. Hierdie situasie veroorsaak dat die wysheid van pogings om bruines op die hoogste vlak by besluitneming oor Afrikaans te betrek, bv in die Afrikaanse Taalraad, die Afrikaanse Taalmuseum en -monument en die ATKV, bevraagteken moet word. Taallojaliteit is nie iets wat gekoop word nie. Dit kom spontaan uit ‘n mens se gees; sy hart en verstand.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.