Trump stel sy besoek aan Israel af

Deel op

Die handskoene is af in die stryd tussen ‘n Amerikaanse presidentskandidaat en Israel.

Politici in Israel het Woensdag hul regering gevra om Donald Trump, voorloper in die Republikeinse Party se benoemingstryd vir 2016 se presidentsverkiesing, die land te verbied.

“Ek beveel aan dat teen terroriste en ekstremistiese Islam geveg word, maar ek sou nie ’n boikot van, verwerping van of oorlog teen Moslems in die algemeen verklaar nie,” het Yuval Steinitz, minister van energie, aan Army Radio in Israel gesê.

Benyamin Netanyahu, Israeliese premier, het ook Trump se opmerkings dat Moslems verbied moet word om na die VSA te reis, in ’n verklaring skerp veroordeel.

“Israel respekteer alle gelowe en beskerm die regte van sy burgers met ywer,” het hy gesê.

Trump het intussen getwiet dat hy eers besoek sal bring aan Israel nadat hy tot Amerikaanse president verkies is. Na wat berig word het Trump beplan om die Tempelberg te besoek.

Trump se voorneme om Israel te besoek het konsternasie by Joodse leiers veroorsaak wat in ‘n felle stryd teen Palestyne gewikkel is en daarvan beskuldig word dat hulle onverpoos ‘n ongenaakbare veldtog teen Arabiese Moslems, ook vroue en kinders, voer.

Trump se anti-Moslemuitsprake het hom intussen ’n eredoktorsgraad van ’n Skotse universiteit gekos.

Die Robert Gordon University in Aberdeen, Skotland, het ’n eredoktorsgraad wat in 2010 aan Trump toegeken was, teruggetrek.

Die universiteit het getwiet Trump se stelling is “totaal in stryd met die etos en waardes van die universiteit”.

Die Landmark-groep, een van die grootste kleinhandelmaatskappye in die Midde-Ooste, gaan glo alle “Trump Home”-handelsware van hul rakke verwyder uit protes teen Trump se uitlatings.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.