Cosatu waarsku David van Rooyen oor kerntransaksie

Deel op

Cosatu het Donderdag die nuwe minister van finansies, David van Rooyen, gemaan dat hy nie behoort voort te gaan met die staat se beplande kernkragtransaksie nie.

Die Franse Areva-kerntender vir Eskom is pas deur ‘n appèlhof ter syde gestel.

Volgende maand sal die reuse kernkragtender aan die Russe, onder aanvoering van Tina Joemat-Pettersson, die minister van energie, beslis word.

Joemat-Pettersson sê die tender moet reeds voor die begin van die volgende finansiële jaar in April aan die suksesvolle bieër toegeken word.

Die vorige minister van finansies Nene was gekant teen die beplande tender en het in ‘n onderhoud gesê die regering se plan om 9,600MW van kernkragkapasiteit te bekom, sal eers goedkeur word as dit bekostigbaar is.

Ontleders meen Nene is in die pad gesteek oor sy besware. Die waarde van die kernkragtransaksie sal na verwagting tussen R650 miljard en R1000 miljard wees.

Kommer heers in sekere kringe oor die kernkragplanne wat deur die presidensie ondersteun word, omdat dit reuse geopolitieke implikasies het.

Gordon Mackay, die DA se woordvoerder oor energie, het Donderdag gesê Zuma se besluit om ontslae te raak van Nene hou direk verband met Nene se teenstand teen die kernkragplanne.

Die tesouriedokument waarin die finansieringsmodel vervat is, is steeds geklassifiseer sodat die portefeuljekomitee oor energie nog nie insae daarin gehad het nie.

Die kernkragkontrak wat Suid-Afrika met Rusland wil sluit, sal glo mbv ‘n leningskema gefinansier word.

Alhoewel die SAL-kontrak van R6 miljard voorgehou word as die rede waarom Zuma van Nene ontslae geraak het, meen ontleders dat die kernkontrak die werklike rede is.

In ANC-besprekingsdokumente voor sy nasionale algemene raadsvergadering het die party verklaar dat ‘n deursigtige bekostigbaarheidstudie oor kernkrag gedoen behoort te word.

Wat duidelik is, is egter dat sulke besluite weens politieke oorwegings geneem sal word.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.