Regbank straf Franse Areva oor Eskom-tender

Deel op

Die Amerikaanse firma Westinghouse se kanse om ‘n reuse Eskom-tender te bekom het aansienlik verbeter nadat die Appèlhof ‘n tender aan die Franse kernmaatskappy, Areva, ter syde te stel het.

Britse en Amerikaanse invloedsmouse het die beslissing verwelkom wat Eskom se toekenning aan Areva in die wiele ry.

Die DA het gesê dit is ‘n bewys van grootskaalse “tenderkorrupsie” by die maatskappy, alhoewel dit wil voorkom asof die beslissing dui op ‘n politieke keuse van die regbank teen Frankryk en nie geskoei is op gesonde regsbeginsels nie.

‘n Woordvoerder oor Energie, Gordan Mackay, het selfs die besluit van die Appèlhof verwelkom omdat dit die politieke inmenging in die toekenning van tenders aan Hitachi vir die bou van die Medupi kragstasie omkeer.

Hy het vermoedens bevestig dat die afdanking van Nene as Minister van Finansies verband hou met die staat se kerntenders.

Die tender van sowat R5 miljard wat Eskom aan die Franse kernmaatskappy Areva toegeken het, is deur ‘n direkte mededinger, die Toshiba-filiaal Westinghouse uitgedaag.

Eskom wil hê dat Areva die ses stoomkragopwekkers vervang by die Koeberg-kragstasie. Westinghouse was Areva se enigste mededinger, maar het in Maart ‘n hofstryd teen Areva verloor. Hulle het toe teen die beslissing geappelleer.

Woensdag se uitspraak het gehandel oor Eskom se besluit om weens “strategiese” faktore die tender toe te ken.

Areva en Westinghouse was die enigste bieërs wat aan die tegniese kriteria kon voldoen, daarom sal Westinghouse outomaties die tender kon ontvang na die jongste uitspraak.

Eskom het die tender in Augustus verlede jaar aan Areva gegee as gevolg van strategiese oorwegings wat insluit dat Areva die oorspronklike vervaardiger van die toerusting by Koeberg was en oor meer ervaring beskik.

Areva het daarbenewens ‘n gedetailleerde skedule vir die voltooiing van die werk met hulle tenderaansoek ingehandig met slegs ‘n drie-maande-marge wat toelaat vir foute, iets wat Westinghouse nie kon ewenaar nie.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.