Rand val soos ‘n klip ná Zuma MK-terroris as minister van finansies aanstel

Die rand het gistermiddag en vanoggend soos ‘n klip begin val nadat Jacob Zuma ‘n voormalige MK-terroris, David van Rooyen, as sy minister van finansies aangestel het. Die vorige minister, Nhlanhla Nene, is summier van sy pos onthef. Die geldeenheid het deur die vlak van R15 per dollar gebreek, asook R16 per euro, en daal nog steeds.

Die ekonoom Cees Bruggemans het vanoggend in sy gereelde nuusbrief gesê:

“Om die rand te voorspel, is ‘n standaardgrap, want die oneindigheidsimbool is die enigste gepaste een om te gebruik.”

Bruggemans voorspel ook dat belastings, rentekoerse en die petrolprys as gevolg van dié stap sal styg. Van Rooyen sal waarskynlik alle staatsbesteding voor die voet goedkeur, wat dan agterna van die belastingbetaler verhaal sal word.

Die nuwe minister van finansies het sy loopbaan as ‘n terroris van Umkhonto we Sizwe in die tagtigerjare begin. Sedertdien was hy ‘n uitvoerende burgemeester van die Merafon-munisipaliteit en ‘n vorige Noordwes-voorsitter van die Suid-Afrikaanse vereniging vir plaaslike regering.

Blykbaar het die Universiteit van Londen in 2014 ‘n MSc Finansies aan Van Rooyen toegeken. Thabo Mbeki beskik insgelyks oor ‘n Britse graad in ekonomie, meesal marxistiese ekonomie.

 

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.