Dan Roodt: Volksmoord en terrorisme moet in SA beveg word

Deel op

Die politiek in Suid-Afrika is nie baie gesofistikeerd nie. Sedert 1994 word daar baie hard gewerk om van ons “net nog ‘n Afrikaland” te maak, terwyl die politiek in slagspreuke rondom “apartheid” en “rassisme” verval het. Die linkse beweging in Suid-Afrika hits reeds dekades lank swart rassegevoelens teen blankes aan, met klinkklare sukses want vandag word die land gedeeltelik deur die Suid-Afrikaanse Kommunsiteparty geregeer.

Daagliks moet ons hoor dat “apartheid ‘n misdaad teen die mensdom was” en dat veral Afrikaners daaraan skuldig is. Engelse akademici in ons land beweer dat ons “miljoene swartes doodgemaak het” en niemand bevraagteken dié ekstreme stellings nie.

Hoe reageer ons op dié intense en vernietigende propaganda-oorlog wat daar teen ons in die media, aan die universiteite en op die internet gevoer word?

Die enigste manier is om ‘n ewe klinkklare stel slagspreuke in antwoord te herhaal. Teenoor “apartheid en rassisme” staan “volksmoord en terrorisme”. As ‘n mens al die elemente van etniese en rassediskriminasie teen Afrikaners, asook plaasmoorde en huisaanvalle in ag neem, dan pas huidige toestande die definisie van volksmoord. Dit moet wyd en syd, plaaslik en internasionaal, gekommunikeer word.

Mnr. Kallie Kriel van Afriforum beskuldig Afrikaners daarvan dat hulle “rassiste” is omdat hulle nie met kleurlinge, Indiërs en swartes wil ondertrou nie. Kriel en sy geesgenote beywer hulle vir volksmoord op die Afrikaner deur assimilasie, wat een van die internasionaal erkende vorme van volksmoord is.

In die boek Modern Genocide: The definitive resource and document collection, lees ons:

Assimilation policies are often a common precursor to genocide because they can be used by the pepetrators in the initial stages as a way to deligitimize or dehumanize the victims by portraying them as “nonhumans” from a “backward” culture in need of reintegration into society. This can also be used later on during the genocide as a way for the perpetrators to “justify” the use of increased brutality against the victims if assimilation is seen as an ineffective method for achieving their goals.

As die Afrikanerbeweging enige vordering wil maak, moet hy van enige dubbelsinnige standpunte soos dié van Afriforum en verwante organisasies ontslae raak. Dit sluit Flip Buys van Solidariteit se aanvaarding van die kommunistiese/marxistiese weergawe van ons geskiedenis in.

Flip Buys gee voor om nie links te wees nie, maar aanvaar die ekstreemlinkse voorstelling van ons geskiedenis as ‘n “misdaad teen die mensdom” wat deur Afrikaners “gepleeg” is. Op sy kinderlike manier het hy al gesê: “Ek veg nie vir ‘n beter verlede nie, maar vir ‘n beter toekoms.” Ja, ons weet hoe lyk daardie toekoms: die ineenstorting van ons ekonomie en die voltrekking van etniese suiwering of volksmoord. Zimbabwe verteenwoordig die model vir Suid-Afrika, behalwe dat ons geen land suid van ons het om heen te vlug nie. Dit is die “beter toekoms” wat op ons wag en waarin die Afrikaner-establishment soos Solidariteit, Afriforum en die FW de Klerk-stigting berus.

Teenoor die aanvaarding van die SAKP se weergawe van ons geskiedenis as die “slegte apartheidsverlede” het ek al male sonder tal George Orwell se bekende woorde aangehaal:

“Hy wat die hede beheer, beheer die verlede. Hy wat die verlede beheer, beheer die toekoms.”

Tensy ons die groteske karikatuur van “apartheid” en die morele vlekkeloosheid van die ANC en SA Kommunisteparty kan aftakel, gaan ons nooit ‘n “beter toekoms” sien nie.

Om egter in genuanseerde debatte oor die geskiedenis betrokke te raak, gaan ons nie veel in die sak bring nie. Kallie Kriel of Max du Preez of Christi van der Westhuizen of Adriaan Basson en al die ander “progressiewe”, “anti-rassistiese aktiviste” gaan ons net op die gewone, voorspelbare manier van “rassisme” beskuldig. Daarom moet ons die geskiedenis van die ANC se terreur teenoor apartheid opstel as die ware “slegte verlede” in Suid-Afrika. Tot onlangs kon stedelike terreur nog gerasionaliseer of selfs as “politieke stryd” verromantiseer word. Ná die terreurvoorvalle vanjaar in die Franse hoofstad, is dit nie meer moontlik nie.

Hoe gaan dit in die praktyk werk? Die linkse propagandiste in ons land verwys na enigiets vóór 1994 met die term “apartheid-”. Op Engels word daar gepraat van die apartheid era wat van 1652 tot 1994 geduur het, alvorens ons deur die terroriste van die ANC-SAKP “bevry” is. Mimi Coertse was ‘n “apartheidsoperasangeres”, Afrikaans is ‘n “apartheidstaal”, Stellenbosch is ‘n “apartheidsuniversiteit”, ens. Enige Afrikanerregering van voor 1994 word getipeer as ‘n “apartheidsregering”.

As deel van dié onophoudelike semantiese oorlog, is alle aspekte van ons lewens in Suid-Afrika tot “apartheid-” herdoop. Enigeen wat dit nie aanvaar nie, word onmiddellik deur Kallie Kriel, Leopold Scholtz, Max du Preez, Piet Kopdoek en die ander werfbobbejane van die SAKP as “rassiste”, “fasciste” en “Nazi’s” uitgekryt.

Op ons beurt moet ons die huidige bewind tot “die ANC-SAKP-terroristebewind” herdoop. Nooit moet ons van dié term afwyk nie, of dit nou in kommentaar op die internet, akademiese referate of geskiedenisboeke is. Die geskiedenis van hul terreur en samewerking met voormalige Oos-Europese kommunistiese state moet deeglik nagevors en geboekstaaf word.

Onthou dit: die ANC-SAKP-terroristebewind.

Dan die kwessie van Afrikanervolksmoord. Dit moet die tweede bousteen in ons repliek op die semantiese oorlog teen ons wees. As iemand sê “apartheid” moet elkeen dadelik en baie harder terug antwoord: “Volksmoord!” Ons moet volksmoord tot die belangrikste debatspunt in Suid-Afrika verhef.

In dié opsig is PRAAG besig om ‘n akademiese konferensie vir aanstaande jaar te organiseer rondom die tema van “Afrikanervolksmoord”. Daar wil ons dit deeglik navors, verklaar en beredeneer. Maar in aanloop tot so ‘n konferensie, moet ons die bestaan van ‘n volksmoord in ons land wêreldkundig maak en daarop aandring dat ons nie langer onder die juk van die ANC-SAKP-terroristebewind wat so ‘n volksmoord aanhits en toelaat, wil ly nie.

Dit is die uitdaging waarvoor ons staan: om die intense retoriese en semantiese aanslag op ons, en wat ten doel het om ons finaal te vernietig, die hoof te bied.

Dit moet helder en onverskrokke gedoen word. Die hoofstroom- Afrikaanse organisasies wat reeds halfpad in die ANC-SAKP se sakke is, gaan ons niks help nie. Inteendeel, gewoonlik beveg hulle die geringste poging van Afrikaners om die huidige bestel te verwerp.

Vir hulle gaan dit daaroor om die spreekwoordelike “dekstoele op die Titanic rond te skuif”. Hulle werk heelhartig met die ANC en die ANC Lite, die DA, saam om enige morele en intellektuele grondslag vir ons voortbestaan te ondermyn.

En, soos gesê, ondersteun hulle die mengkultuur. Saam met miljoene Europeërs en Amerikaners, is ons egter in opstand teen die mengkultuur. Ons wil nie meng nie. Ons wil nie Standaardafrikaans vir “Kaaps” of Engfrikaans of mengtaal verruil nie.

Ons eis die reg op om te bly soos ons is. Daarvoor is ons bereid om te veg, saam met die res van die Westerse wêreld, asook Rusland. Ons staan saam met Marine Le Pen, Geert Wilders, Donald Trump, Wladimir Poetin en ander in die stryd om die behoud van die Westerse, christelike beskawing.

Ons vordering sal gemeet word aan die hoeveelheid kere wat ons #volksmoord en #terrorisme op die internet en elders plak en kritiseer.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.