Donkerblou golf oor Frankryk: Marine Le Pen behaal 42% in streeksverkiesing

Deel op

Die woordspel rondom “vlootblou” wat gebruik word om Marine Le Pen, leidster van die Franse Front National aan kiesers te bemark, “Bleu Marine”, is toepaslik, want die blou golf het Sondag oor Frankryk gebreek met haar party wat in die eerste rondte voorloop in ses uit 13 streke. Self het Le Pen ‘n stempersentasie van 41% behaal teenoor haar naaste teenstander Xavier Bertrand van die Republikeine op 24,6%, gevolg deur die uitgaande Sosialis Pierre de Saintignon op 18,2%. Die Front National-leidster se niggie, die 25-jarige Marion Maréchal-Le Pen, het insgelyks uitstekend gevaar en ‘n vorige minister van die Republikeine, Christian Estrosi, met 41,7% teenoor 25,3% geklop.

In totaal het 30,6% van Franse kiesers vir die Front National gestem, teenoor 27% vir die Republikeine en 22,7% vir die regerende Sosialistiese Party van mnr. Francois Hollande. Die party het in ses van die 13 Franse streke die meeste stemme van enige party behaal.

uitslae_1ste_rondte

Binne ‘n halfuur ná die sluiting van die stembusse het Mevrou Le Pen in haar triomfantelike toespraak gesê:

Die Franse volk trots kan wees dat hy nie ingegee het voor feodale politieke en media-intimidasie nie. Ons het vertroue in die helderheid en die volwassenheid van ons burgers om die intimidasieveldtogte te oorkom.”

Marine Le Pen, kort na die aankondiging van die eerste verkiesingsuitslae

In antwoord op oproepe dat sowel die Republikeine as die Sosialiste ‘n verenigde “repubikleinse front” teen haar vorm, het sy gesê:

“Die Front National is die enigste werklik republikeinse front want hy is die enigste wat die nasie en sy soewereiniteit verdedig. Die FN is die enigste wat die verlore gebiede van ons platteland weer in ere kan herstel. Die FN is (ook) die enigste wat ‘n republiek verdedig wat geen ander roeping as die ontwikkeling van Franse indiensneming het nie. Die FN is die enigste wat ‘n republiek verdedig wat geen ander roeping het as om ons lewenswyse te handhaaf nie.”

Tot en met tienuur Suid-Afrikaanse tyd het die regerende Sosialistiese Party nie gereageer nie, hoewel daar verwag word dat die eerste minister, Manuel Valls, een of ander tyd ‘n verklaring sal maak. Volgens Franse joernaliste wat by die party se hoofkantoor in die rue Solférino in Parys op reaksie wag, “stamp hulle mekaar nie uit die pad om eerste te wil praat nie”.

Die uitgaande streeksvoorsitter, die Sosialis Pierre de Saintignon, in die Nord-Pas de Calais-Picardie-streek waar Marine Le Pen staan, lyk asof hy hom aan die stryd wil onttrek om die veld vir sy regse eweknie, Xavier Bertrand, oop te laat. Op Twitter het ‘n joernalis getwiet dat “Cambadélis die onttrekking van Pierre de Saintignon in die Nord-Pas de Calais bevestig”.

Jean-Christophe Cambadélis is die eerste sekretaris van die Franse Sosialistiese party.

Daar word hewig gespekuleer oor samewerkingsooreenkomste tussen die Republikeine en die Sosialiste om Marine Le Pen se opmars te stuit, maar Nicolas Sarkozy, leier van die Republikeine hou voet by stuk dat geen van sy kandidante hulle gaan onttrek nie.

tous_contre_elle[Bywerking Maandagoggend 08:01] Intussen het die Sosialistiese leiers insgelyks hul suidelike leier in die PACA-streek waar Marion Maréchal-Le Pen insgelyks uitstekend gevaar het, gedwing om hom aan die verkiesing se tweede rondte te onttrek. Die linkse Franse koerant Libération berig dat Christophe Castaner “die swaar en moeilike besluit geneem het (om te onttrek), ek dink aan ons linkse volk wat sodoende van hul verteenwoordigers op streeksvlak ontneem word, maar ‘n mens moet ‘n sin vir verantwoordelikheid hê”. Die suidelike koerant Nice-Matin vertoon in reaksie vanoggend ‘n foto van Marion Maréchal-Le Pen op die vooblad met die opskrif: “Tous contre elle” (Almal teen haar).

Indien Regs en Links teen Marine Le Pen saamstaan, gaan dit water op haar meul wees, want sy beskryf die twee partye as die UMPS (die UMP synde die Republikeine se vorige naam), waardeur sy haar eie posisie as “enigste ware opposisie” in die Franse politiek teenoor kiesers bevestig.

Sowel Marine Le Pen as haar kleinniggie Marion Maréchal-Le Pen het egter so ‘n groot voorsprong in die eerste rondte opgebou dat dit moeilik is om te sien hoe hulle in die tweede rondte aanstaande Sondag geklop sal word, selfs al word ‘n verenigde front teen hulle opgestel. Ten minste twee streke sal dus aan die FN behoort, met ‘n sterk kans vir ‘n derde onder Philippot in Elsas-Lotaringe en selfs ‘n vierde onder Louis Aliot in Languedoc-Roussillon. Alle Sosialistiese kiesers sal nie vir die sentrum-regse kandidaat stem nie, met meningsopnames wat voorspel dat tot 75% van alle Franse werkers in Nord-Pas de Calais-Picardie vir Marine Le Pen kan stem. Die Sosialistiese steun kom tradisioneel van Franse blou- en witboordjiewerkers.

Die onderleier van die FN, Florian Philippot, het kiesers gewaarsku dat die twee hoofstroompartye gaan probeer om vrees by kiesers in te boesem:

“Hulle gaan u probeer bang maak in die week wat kom. Moenie na hulle luister nie. Daar is geen apokalips nie.”

Philippot het beklemtoon dat sy party ‘n groot patriotiese liefde vir Frankryk koester en daarom graag na alle Franse wil omsien. In ‘n land wat deur sy vyandigheid teenoor die kleiner streekstale en dialekte gekenmerk word, het hy bygevoeg:

“Ons is baie lief vir ons plaaslike streke en vir die streekstale.”

Die sentrum-regse koerant Le Figaro het ‘n groot foto van Marine Le Pen op sy voorblad vir Maandag se uitgawe met die opskrif “Le choc”, die skok.

lechoc

Die veldtog vir of teen die Front National sal in aanloop tot aanstaande Sondag se tweede en finale rondte ‘n nog groter intensiteit bereik, met die hele Europa wat die drama met belangstelling dophou. Marine Le Pen is ook bekend om haar simpatie vir die bewind van Wladimir Poetin in Rusland, sodat Amerikaanse en Britse meningsvormers haar opgang in Frankryk waarskynlik met skerp kritiek sal beantwoord.

 

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.