Ons psigotiese massamedia

Deel op

Dikwels funksioneer ‘n gehele samelewing soos een indiwidu. In samelewings is daar byvoorbeeld verskillende range en stande en ordes wat saamwerk om ‘n funksionele eenheid te bewerkstellig, soortgelyk aan die verskeidenheid organe in ‘n mens se liggaam. Daar is ook teenstrydige menings oor ‘n bepaalde plan van aanpak in groot groepe, net soos wat ‘n mens teenstrydige opvattings kan hê. In ‘n ernstige graad kan hierdie teenstrydighede tot sielkundige ongemak lei, net soos ‘n gebrekkige samehang ‘n samelewing uitmekaar kan trek.

Kom ons kyk eers na sielkundige verskynsels soos depressie en psigose. Interessant genoeg werk die huidige kommunistiese mafiamedia op dieselfde beginsel, vandaar dat ons die aard daarvan moet identifiseer om ons sielkundige en kulturele integriteit te beskerm.

‘n Mens is van mening dat ‘n kliniese depressie weens ‘n gebrek aan energie ontstaan. Dit is ‘n halwe waarheid. Elkeen van ons kan onsself hierdie gemoedstoestand voorstel. ‘n Depressie is die resultaat van ‘n stroom nare gedagtes en denkpatrone uit die verlede wat ons daaglikse aktiwiteite ontwrig. Jy sit byvoorbeeld agter die stuurwiel of by die huis met ‘n boek en ewe skielik duik daardie imbesiel wat jou twintig jaar gelede verneder het in jou gedagtewêreld op. Dit was alweer byna vergete gewees totdat ewe skielik hierdie ongenooide gas so uit die bloute jou begin slegsê. As jy toevallig alleen by die huis is, herleef jy selfs hierdie insident en begin omtrent te argumenteer met hierdie “persoon”, maar nou is jy beter voorberei en stoei jy hierdie gadagteboelie om met jou beter ontwikkelde teenargumente. Jou oorwinning is egter van korte duur. ‘n Minuut later kom hierdie gedagte terug en begin jou weer uit te daag en sleg te sê. Selfs al het jy die beste verdediging teen hierdie irriterende gedagte wil dit nie gaan lê nie.

Wanneer iemand aan ernstige depressie ly, werk daardie gedagteboelie oortyd. Hy en sy makkers het hul Red Bull en brandewyn gedrink en kap jou die hele tyd met pynlike gedagtes uit jou verlede, tot soverre mate dat jy in jou gedagtewêreld soos ‘n verslane bokser voel. Elke keer as jy wil opstaan, slaan hulle jou neer. Die gebrek aan energie tydens depressie is met ander woorde ‘n verslaenheid wat ‘n gevolg is van hierdie ooraktiewe stroom pynlike gedagtes.

Wanneer ‘n mens ernstig geestessiek is, praat ons van ‘n psigose. Dit werk op dieselfde beginsel. Die verskil is dat dit voel asof iemand die volumeknop oopgedraai het, en nou is daardie pynlike gedagtes heelwat meer werklik en aanwesig as by ‘n depressie. Daardie gedagteboelie skel nou nie meer vanagter ‘n muur of geslote hek nie, maar die hek het oopgebreek en nou skel en skree hy direk op jou. Dikwels ly mense aan hallusinasies en hoor stemme wat hulle uitskel, of hulle sien figure van mense wat hulle uitskel of uitlag, soos mooi uitgebeeld was in die rolprent A Beautiful Mind. Dit lyk met ander woorde werklik, maar dit is nie, en het streng gesproke niks met die empiriese werklikheid te make nie. Desondanks rig dit ondraaglike pyn aan.

Dit is belangrik om te weet dat daardie gedagteboelie wat sulke pynlike gedagtes voortbring dit vir sy eie genot doen. Dit moet letterlik beskou word as ‘n aparte entiteit in ons gees wat dit ongelooflik geniet om op ons swakhede te teer en ons te verneder. Die rede waarom ons hierdie pynlike gedagtes nie maklik weg kan dink of verslaan nie, is omdat hulle juis afhanklik is van ons energie. Hoe meer aandag ‘n mens bestee aan hierdie negatiewe gedagtes hoe sterker word hulle. Egter, sodra iemand wat in ‘n psigose is sy hallusinasies konfronteer, sal daardie stem hoogs waarskynlik terug antwoord met: “Ek doen dit vir jou eie beswil”, wat natuurlik nie waar is nie. Dit is bloot ‘n lis om sy “slagoffer” verder te verwar en belaglik te maak.

In elk geval is die gedagteboelie se doel baie duidelik. Hy wil nie hê dat jy jou hoër vryhede moet nastreef nie. Hy wil jou verlam en die aandag aflei van die goeie dinge waartoe jy in staat is. Enige poging om jou gees te suiwer en verryk wil hy afbreek en bespot. As voorbeeld dink ek aan ‘n straatmusikant wat viool speel en dat een of ander onnosel puber verbyloop en die spot dryf met die musikant, soos ek in Amsterdam af en toe sien. Daardie puber weet dat hy nooit so ‘n instrument sal kan bemeester nie, en toon minagting vir diegene wat dit wél doen. Die gedagteboelie is ‘n soortgelyke puber: ‘n lae gees wat die hoër geeste wil vernietig.

Interessant genoeg het klassieke aria’s ‘n positiewe uitwerking teen depressie en hallusinasies. Mense wat deur derglike siektes gekwel word en na skitterende uitvoerings van byvoorbeeld Amazing Grace, Mozart se Lacrimosa of soortgelyke koorgesange luister, meen dat die pynlike gedagtes en hallusinasies minder word, vergelykbaar met hierdie onbeskofte puber wat nie dood gevind sal word voor ‘n kerkkoor of in ‘n Weense konsertgebou nie. Gebed en Bybeltekste soos Psalm 23 help ook om die gedagteboelie te verdryf en kan ‘n verklaring wees waarom gelowige mense vinniger genees van geestessiektes as ongelowige mense.

Wanneer hierdie gedagteboelie jou belaster met onaangename herinneringe uit jou verlede, is hy besig om propaganda teen jou te maak. Deur gebruik te maak van jou eie geheue lyk dit asof dit jou eie gedagtewêreld is wat dié gedagtes voortdurend voortbring, wat nie waar is nie. Volgens Emanuel Swedenborg se beskrywings is daar inderdaad sprake van slegte geeste wat ons gedagtes op hierdie manier beïnvloed en wil wegstuur van die wêreld van hoër spirituele bewussyn. Gelukkig kan ons met moderne psigoterapie ook ‘n deeglike insig kry in hierdie nare gedagtes en van daaruit leer om hulle te identifiseer en tegelyk onklaar te maak deur die inhoud daarvan met die werklikheid te toets en ‘n meer realistieser blik op ons bestaan te werp.

Net soos hierdie bogenoemde voorbeeld van die gedagteboelie ‘n sielkundige/metafisiese verklaring bied vir geestessiektes, werk die huidige politieke propagandamasjinerie op ‘n soortgelyke manier. Dit is ‘n georkestreerde massadepressie of psigose. Die massamedia vertolk die rol van die gedagteboelie.

As ons na die Christi van der Westhuizens, Max du Preez’s of Piet Croukamps van hierdie wêreld kyk, sien ons dieselfde patroon. Hulle is die tasbare manifestasie van die gedagteboelie. Elke keer as daar ‘n skrywe van hulle in die perse verskyn is dit die alewige stroom propaganda oor hoe sleg ons is as ons nie ons eie ondergang wil bespoedig nie. Ons is nou al meer as twintig jaar onder ANC heerskappy en die eindelose laster wil eenvoudig nie ophou nie. Elkeen van hulle haak vas oor wit bevoorregting en bekrompenheid en dat ons geestelik swak is omdat ons nie die huidige Suid-Afrika wil omhels nie. As volk is ons ook nou “depressief” of miskien selfs “psigoties” soos wat hierdie stemme die hele dag op ons skel en skree.

Sodra ons die bogenoemde skrywers sou vra wat hulle motiveer om so neerhalend oor ons te berig, sal die antwoord ook ongetwyfeld wees dat dit vir ons eie beswil is. Hulle wil ons bekrompe wesentjies na die ware verligting lei. Dit is natuurlik ‘n volslae twakstorie. Hulle skryf dit nie vir ons nie, maar vir hulself. Húlle vind baat daarby, nie ons nie. Net soos depressie keer dat ons nie onsself volwaardig kan ontwikkel of ontplooi nie, doen hierdie rubriekboelies dieselfde. Hulle wil verhoed dat ons as volk doen wat ons graag sou wou doen. Hulle wil ons afstomp en die aandag aflei van ons hoër, innerlike vryhede, juis omdat hierdie suiwer vryhede weer tot moontlike ongelykheid tussen bevolkingsgoepe kan lei. Hulle wil ons geestelik verlam, tot die punt dat ons uit wanhoop tot moord of selfmoord gedryf word. En as ons moord of selfmoord pleeg, wen hulle weer. Dan is dit alweer die soveelste “bewys” van hoe ongelooflik en inherent sleg ons is.

Net soos in die geval van depressie en psigose, is die propagandastryd  wat hulle voer ‘n sielskwessie. Ons wil ons siel op ‘n bepaalde manier uitdrukking gee en hulle wil dit belemmer. Dit kan ons duidelik sien hoe hulle ons skel as ons nie méér doen om swartes uit hul ellende te verlos nie, maar oor Zimbabwe, waar twee miljoen swartes so swaarkry dat hulle weer tot kannibalisme oorgegaan het, is hulle doodstil. Erger nog, ek onthou dat Mal Max iewers geskryf het hoe goed en stabiel dit nou daar is. Die werklikheid is dat hierdie hoofstroomkwetteraars eintlik geen flenter omgee vir swartes of apartheid nie. Soos met alles wat hulle sê en skryf, is hul simaptieë slegs illusies en bedrog wat in stand gehou word deur hul haat vir Afrikaners.

Aan hulle totale onopregtheid met die feite kan ons hulle ontmasker vir wat hulle werklik is. Daar is niks realisties aan wat hulle kwytraak nie. Laat ons eerlik wees, die daadwerklike harde apartheid waarmee ons so gestraf word het maar net sewe jaar geduur, van 1959 tot Verwoerd se moord in 1966. Vorster en Botha het destyds begin om apartheid geleidelik af te takel. Dit was nie net efwee se doen nie. Laat staan nog dat onder Verwoerd was daar slegs drie miljoen swartes in Suid-Afrika gewees, wat ‘n druppel in die emmer is vergeleke met die vyf en veertig miljoen swartes vandag wat almal meen dat hulle slagoffers van daardie stelsel was. Om maar te swyg oor die grootskalige ontwikkeling wat Verwoerd onder swartes daargestel het.

Net soos die gedagteboelie ‘n lae gees is wat net uit is om te treiter, is hierdie ekstreemlinkse kwetteraars dieselfde kategorie lae geeste. Vandaar meen ek dat hierdie konflik hoofsaaklik ‘n sielskwessie is om nie net die Afrikaner nie, maar die Christelike Weste se siel te vernietig sodat hulle selfvoldaan hul kleingeestige oorwinning kan behaal, soos Engelse sokkervandale wat net na wedstryde toe gaan om verwoesting te saai.

Swedenborg skryf in Divine Providence (par. 43):

…if we are caught up in loving what is evil, we cannot help feeling that hellish freedom is freedom itself; while if we are caught up in loving what is good, we feel that heavenly freedom is freedom itself. As a result, each freedom regards the other as slavery.

Inderdaad, vryheid vir boelies is noodgedwonge slawerny vir goeie mense, en andersom.

Kan iemand dalk ‘n bietjie Clozapine vir Naspers gee?

Massapsigose

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.