Dan Roodt: Die dames Le Pen op vooraand van ‘n triomf in Frankryk?

Deel op

Die eerste rondte van die Franse streeksverkiesing wat Sondag plaasvind, trek nie soveel aandag buite die land nie, maar hou enorme implikasies vir sowel Frankryk as Europa in. Meningsopnames na die terreuraanvalle op 13 November in Parys toon dat die Front National van mevrou Marine Le Pen, wat deur die Franse media steeds as “verregs” getipeer word, die meeste steun bygekry het. In die noordelike streek wat as Nord-Pas-de-Calais-Picardie bekendstaan, het Le Pen se steun byna onmiddellik met drie tot vier persentasiepunte gestyg en staan tans op 40%.

Verder op die horison wink die Franse presidentsverkiesing van 2017. Indien Marine Le Pen in die huidige streeksverkiesing goed vaar, versterk dit haar kanse om die volgende Franse president te word, iets wat aardskuddende gevolge vir die Europese Unie sou hê. Want nie net is die Front National sterk ten gunste van “die herstel van Franse nasionale soewereiniteit” nie, maar wil selfs die euro as geldeenheid opsê. Dit mag die Griekse skuldkrisis na ‘n vulletjie laat lyk as die eurosone se naasgrootste ekonomie hom aan die Europese geldeenheid sou onttrek.

Afgesien van die Islamitiese terreuraanvalle op Parys wat in Januarie en November vanjaar plaasgevind het, speel die migrantekrisis in Europa insgelyks byna volmaak in die guns van die Front National wat reeds jare lank waarsku dat Frankryk gevaar loop om deur derdewêreldimmigrante “verswelg” te word.

Die invloedryke Britse meningsvormer en rubriekskrywer van die Britse Financial Times, Gideon Rachman, het vandeesweek geskryf dat daar ‘n “nagmerrie” is wat by hom spook, en dit is dat ‘n nasionalistiese troika van Wladimir Poetin (Rusland), Donald Trump (VSA) en Marine Le Pen (Frankryk) oor ‘n jaar of twee aan bewind mag wees. Volgens hom “spreek die blote feit dat Donald Trump en Marine Le Pen sterk aanspraakmakers vir die Amerikaanse en Franse presidentskappe is, van iets kommerwekkends aangaande die toestand van liberale demokrasie in die Weste”.

Of ‘n mens Rachman se kommer deel, aldan nie, is die tektoniese plate beslis besig om in Frankryk te skuif, met heftige debatte en selfs rusies oor die radio en TV, asook die gedrukte en digitale media. In ‘n land waar skrywers, filosowe en akademici ‘n groot rol in die openbare lewe speel, is insgelyks ‘n witwarm intellektuele stryd aan die gang wat in boeklengte essays, romans en selfs strokiesprente gevoer word. So pas in November het ‘n akademikus en ‘n kunstenaar ‘n grafiese roman met die titel La présidente gepubliseer waarin Marine Le Pen se aanstelling as president voorgestel word, wat dan stakings en onluste in die land ontketen as linkses teen haar bewind in opstand kom.

Soos wat Afrikanerskap in Suid-Afrika ‘n twispunt kan raak, is “Fransmanskap” deesdae dié onderwerp in Frankryk wat in haarfyn besonderhede ontleed en bespreek word. Die woord “identiteit” is op almal se lippe en die byvoeglike naamwoord “identitêr” word vir buiteparlementêre groepe gebruik wat regs van die Front National betogings teen immigrasie op straat of selfs op die dakke van geboue reël met ‘n geurtjie van opstand en revolusie. Op YouTube bestaan daar “patriotiese” musiekgroepe wat openlik politieke liedere sing en maskers dra om nog verder die allure van verbode optrede daaraan te verleen.

Terwyl die voormalige Franse president, Nicolas Sarkozy, en leier van die nuwe sentrum-regse party bekend as die Republikeine, aanmekaar sê, “Ons moet ophou om advertensie vir die Front National te maak”, doen die koerante niks anders nie. Selfs die Facebook-blaaie van alle FN-kandidate word wyd en syd deur Le Monde en Le Figaro gepubliseer om sommige van hulle grensoorskrydende uitlatings oor immigrante of Islam te toon. Veral kandidate wat “bande met identitêre groepe” sou hê, word aan die kaak gestel in ‘n poging om hulle by die stembus te diskrediteer.

Na ‘n konsolidasie van sommiges, kan die 13 streke in metropolitaanse Frankryk met Suid-Afrika se nege provinsies vergelyk word. Hulle beheer veral die hoërskole (lycées), vervoer, ekonomiese ontwikkeling en belastinginvordering met aansienlike begrotings van ongeveer €3 miljard (R45 miljard) elk. Dan is daar nog vier buitelandse streke ook, waaronder Réunion-eiland digby Suid-Afrika in die Indiese oseaan.

Marine Le Pen: verguising deur die Franse media bring haar nie van stryk nie
Marine Le Pen: verguising deur die Franse media bring haar nie van stryk nie

Vandat Marine Le Pen die leisels van die Front National by haar vader, Jean-Marie Le Pen, op 16 Januarie 2011 oorgeneem het, het die party se kiesersteun ondanks die media se vyandigheid byna konstant toegeneem. Daarom het die ou Links-Regs-verdeling of bipolêre stelsel in Frankryk verval om “tripolêr” te word. Die jongste meningsopname deur Harris Interactive toon dat Links oor 24% steun en Regs oor 27% beskik – met die Front National op 28%. Ander onlangse opnames bespeur tot 30% steun vir die Front. Vanweë die ingewikkelde kiesstelsel vir streke wat ‘n sogenaamde “bonus” of prime van ‘n verdere kwart van die setels aan enige party toeken wat meer as 35% van die stemme op hom verenig, kan selfs ‘n minderheid van stemme dus aan ‘n party die meerderheid setels in die streeksraad verskaf. Dié maatreël is juis ingestel om te sorg dat die streke nie met ‘n staking van stemme eindig sodat geen besluite geneem kan word nie.

Eintlik is die stelsel kwadripolêr, want daar bestaan nog verlinkse partye (waaronder die Kommuniste) ook, maar wat altesaam nie meer as 8% steun geniet nie en dus ‘n mindere rol speel, aangesien ‘n party ten minste 10% stemme in die streeksverkiesing moet verkry om na die tweede rondte deur te gaan.

Manuel Valls, die Sosialistiese eerste minister en die seun van Katalaanse immigrante. Hy meen Marine Le Pen is 'n "gevaar vir Frankryk".
Manuel Valls, die Sosialistiese eerste minister en seun van Katalaanse immigrante (gebore in Barcelona). Hy meen Marine Le Pen is ‘n “gevaar vir Frankryk”.

Hoewel die beleërde Sosialistiese president, Francois Hollande, se gewildheid kort ná die terreuraanval op 13 November gestyg het, staan kiesers steeds baie skepties teenoor sy party wat sukkel om veel bokant die 20%-merk uit te styg. Hy word veral vir die hoë werkloosheid geblameer, met Marine Le Pen wat hom gereeld daaroor kasty. Aan Hollande se sy is die eerste minister, Manuel Valls, wat sy bes probeer om skadebeheer toe te pas en die Front as ‘n “gevaar vir Frankryk” beskryf.

Vanuit ‘n media- en reklame-oogpunt is die Franse verkiesingstryd baie interessant, want dit toon dat slegsê en etikettering naderhand teenproduktief raak. Marine Le Pen word gereeld as ‘n “fascis”, “rassis”, “Nazi”, “Islamofoob” en “verregse” getipeer, maar dis asof die stortvloed beledigings merendeels simpatie by die Franse kiesers wek. As iemand wat in ‘n politieke familie gebore is en reeds jare lank sulke taal verduur, is sy so bedrewe in TV- en radiodebatte dat sy byna outomaties met snydende sarkasme terugkap en gewoonlik die debat in haar guns beklink.

Haar voorkoms en styl het min in gemeen met dié van ‘n tradisionele aspirantdiktator. Boonop is haar adjunk en partystrateeg, Florian Philippot, ‘n jaar of wat gelede “ontmasker” as gay. Die derde mees sigbare politikus in die party is die aanvallige Marion Maréchal-Le Pen, Marine se kleinniggie, wat op 22 die jongste parlementslid in die Franse geskiedenis geword het as verteenwoordiger vir die Vaucluse-kiesafdeling.

Indien die Front National ‘n “fascistiese” party is, is dit die eerste in die geskiedenis wat deur twee blondines en ‘n gay man gelei word! Maréchal-Le Pen staan in die suide in ‘n streek met die afkorting PACA (Provence-Alpes-Côte d’Azur) waar sy insgelyks ‘n golf van ongeveer 40% steun in meningsopnames ry. Twee ander streke waar die Front sterk steun geniet, is dié wat aan Duitsland grens, Alsace-Champagne-Ardenne-Lorraine, waar Philippot hom as streeksleier beskikbaar stel, asook Bourgogne-Franche-Comté.

Die enigste manier waarop streeksoorwinnings vir die Front National gestuit kan word, is indien daar ‘n Regs-Linkse alliansie tydens die tweede rondte sou plaasvind. Dit sou beteken dat die Sosialistiese Party en die Republikeine hul lyste sou moes saamsmelt binne 48 uur nadat die stembus vir die eerste rondte gesluit het. ‘n Ander moontlikheid is dat die Sosialistiese party, wat volgens die meningsopnames oral swak gaan vaar, eenvoudig in sekere streke voor die tweede rondte onttrek. In so ‘n geval sou kiesers soos tydens die presidensiële verkiesing van 2002 gevra word om ‘n verenigde front teen die Front National te monster. In daardie verkiesing het Marine se vader, Jean-Marie Le Pen, in die tweede rondte teen die regse kandidaat, mnr. Jacques Chirac, te staan gekom, met linkse én regse kiesers wat en masse vir Chirac gestem het om aan hom 82% van die stemme te besorg. In die Noorde waar Marine Le Pen staan, dreig die Sosialis, Pierre de Saintignon, reeds om “sy verantwoordelikheid na te kom” en aan die tweede rondte te onttrek sodat sy Regse eweknie, Xavier Bertrand, ‘n beter kans staan om haar te klop. Sarkozy, wat besef dat die Sosialiste teen die toue verkeer, is egter langtand om hoegenaamd enige ooreenkoms aan te gaan, dus lyk dit asof daar insgelyks driehoekige kragmetings in die tweede rondte gaan plaasvind.

Marine Le Pen is veel gewilder as haar veglustige pa, ‘n veteraan van die Algerynse oorlog. Vroeër vanjaar het sy hom ook uit die party geskors nadat hy ‘n tweede keer die Joodse konsentrasiekampe in Duitsland as ‘n “detail van die geskiedenis” bestempel het. Anders as in die presidentsverkiesing waar ‘n blote appèl op kiesers geloods kan word, is die samesmelting van lyste ‘n ingewikkelde proses. Boonop bestaan beide die linkse en regse blokke uit ‘n paar groot en enkele kleiner partye wat reeds onderling allerlei delikate ooreenkomste oor kandidaatlyste aangegaan het. Om inderhaas aan dié lyste te torring, mag veroorsaak dat die blokke uitmekaar skeur en ‘n selfs groter oorwinning aan die dames Le Pen besorg.

Hollande, Valls en Sarkozy sien glad nie uit na die gesig van twee triomfantelik glimlaggende vroue in hul gewone sjiek uitrustings wat in hul onderskeie streke met die Franse driekleur in die agtergrond vir die kameras poseer nie. Die datum tydens die tweede rondte sal 13 Desember wees, presies een maand ná die afskuwelike Islamitiese terreuraanvalle op onskuldiges in die Franse hoofstad.

Marion Maréchal-Le Pen, wat soos haar oupa Jean-Marie met die regtervleuel van die party geassosieer word, het op die vooraand van die verkiesing gesê:

“Ons is nie ‘n Moslemland nie, en as Franse die Moslemgeloof mag aanhang, is dit op voorwaarde dat hulle hul by die waardes en lewenswyse neerlê wat Griekse en Romeinse invloed, asook sestien eeue van Christendom gevorm het. By ons dra ‘n mens nie die djellaba (die lang gewaad vir vroue) nie, ook nie die volle sluier nie en dwing ook nie katedraal-moskees aan ons op nie.”

Sy het verder in die rugbystad Toulon gesê dat iemand wat “nie aan die bewe gaan” by die katedraal van Reims waar die Franse konings voorheen gekroon is of by die Federasiefees waar die republikeinse bestorming van die Bastille gevier word, “nie regtig Frans kan wees nie”. Daarmee het sy die handskoen neergesmyt teenoor diegene wat meen dat Franse burgerskap van Franse patriotisme en identiteit losgemaak kan word.

Indien Rachman se nagmerrie bewaarheid word en beide Donald Trump en Marine Le Pen tot die hoogste amp in hul onderskeie lande verkies word, mag dit interessante gevolge vir Suid-Afrika hê. Nie net is Frankryk een van die Afrikaner-stamlande en ‘n wapenverskaffer aan die ou NP-regerings nie, maar die feit dat Hollande se Sosialistiese Party eens gehelp het om die ANC-SAKP in Suid-Afrika aan bewind te stel, mag dalk net vir Le Pen oorreed om met groter simpatie na Suid-Afrika se beleërde Westerse en Christelike minderheid te kyk.

Anders as mev. Hillary Clinton, gaan Donald Trump ook nie in Johannesburg Afrika-danse saam met ANC-politici kom uitvoer nie, maar eerder begin wonder of Suid-Afrika nie ‘n moontlike kandidaat vir “regimeverandering” is nie. In Rachman se Brittanje mag die kombinasie Poetin-Trump-Le Pen ‘n nagmerrie verteenwoordig, maar wat kan verskrikliker as die ANC-SAKP, met die EFF as opvolger op die horison, wees? Dit pas by die reël uit James Joyce se Ulysses: “Die geskiedenis is ‘n nagmerrie waaruit ek probeer wakkerskrik.”

Gelukkig is een se nagmerrie ‘n ander se aangename droom. Noudat ek daaraan dink: ek het ook al in daardie katedraal te Reims, in die hart van die pragtige Sjampanjestreek, gestaan en die vibrasies waarvan Maréchal-Le Pen praat, gevoel…

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.