Leon Lemmer: Universiteit Stellenbosch: Afrikaans as HOP-huis

Deel op

Op 12 November het Wim de Villiers, die rektor van die Universiteit Stellenbosch (US), met die ondersteuning van sy bestuurspan, aangekondig dat hy Engels met ingang volgende jaar “die primêre taal van kommunikasie en administrasie” van die US wil maak. Op 15 November het die uitvoerende komitee van die US-raad De Villiers se verengelsingsvoorstel verwerp en aangekondig dat die taalbeleid, waarvolgens Afrikaans en Engels veronderstel is om gelyke status te hê, in 2016 onveranderd gehandhaaf sal word. Daar is uitdruklik verklaar dat Afrikaans nie “verwater” sal word nie. Op 30 November is sake tydens ‘n sitting van die volle US-raad op die spits gedryf.

Ek het voorspel dat die waarskynlikste uitkoms sal wees “dat die ondergang van Afrikaans aan die US ietwat uitgestel word” (Praag 28 November). Elke keer as die US-raad deesdae oor die taalbeleid besluit, is dit ‘n afskaling van Afrikaans; ook hierdie keer, soos ek hier onder aantoon. Tom McLachlan beaam dat die jongste besluit “net tydelike grasie” vir Afrikaans is (LitNet 3 deser). Andries Visagie skryf tereg: “Die nasionale afskaling van die oorblywende spatsels Afrikaans is deel van dié golf van destruksie wat elke ooreenkoms net as ‘n tydelike ruspunt beskou” (Die Burger, 18 November, p 10).

In hierdie rubriek poog ek om ‘n oorsig van die afgelope week se gebeure te gee.

Voor die US-raadsbesluit

Voor die US-raadsvergadering het Die Burger (30 November, p 1, 4) berig dat die US-senaat, dus die professore, op 27 November met ‘n “oorweldigende meerderheid” De Villiers se verengelsingsvoorstelle gesteun het. Dit was klaarblyklik ‘n poging van De Villiers om steun vir sy anti-Afrikaansgesindheid te werf. Dit gaan lynreg in teen die jongste besluit van die US-raad se uitvoerende komitee. Ook om daarmee die US-raad vooraf sag te probeer maak; dus te intimideer. Enersyds kan die houding van hierdie meerderheid US-professore dui op die mate waarin die wesenlike aard van die tradisionele blanke, Afrikaanse US reeds met etniesgebaseerde aanstellings op die hoogste akademiese vlak getransformeer en kultureel vermurwe is. Andersyds is dit die resultaat van die ANC-regering se beleid om by die vasstelling van owerheidsubsidies net een onderrigtaal in ag te neem. Dit is hierdie bose regime se manier om Afrikaans as onderrigtaal aan al ons universiteite uit te wis. Die dosente wil nie hulle werklading vermeerder deur onderrig in twee tale aan te bied sonder die aanstelling van ‘n afdoende getal ekstra doserende personeel nie. Die US-senaat het dus ten gunste van die aanbieding van minder akademiese onderrig gestem sodat dosente meer tyd vir hulleself (en hopelik ook meer tyd vir navorsing) kan hê.

Op 12 en 27 November is die US-senaat byeengeroep blykbaar sonder om die nodige dokumentasie oor die taalbeleid ruim voor die tyd te versprei, gevolglik kon daar nie vooraf deeglik oor De Villiers se voorstelle besin word nie. Volgens sommige berigte is daar by die eerste byeenkoms nie formeel gestem nie. Die klimaat is bloot getoets. By die tweede byeenkoms is ‘n minder radikale taalkoersverandering voorgestel, wat aanvaar is, maar ‘n verteenwoordigende getal senaatslede was nie teenwoordig nie (Lektor, Stellenbosch, se brief, Die Burger, 3 deser, p 17). Dit lyk asof De Villiers proseduregewys die mening van senaatslede ten gunste van sy verengelsingsmanie probeer manipuleer.

Op 28 November is ‘n landswye Afrikaanse Alumni-vereniging, met Johann Rossouw as voorsitter, op Stellenbosch gestig; nie net om Afrikaansbelange te bevorder nie, maar ook bv akademiese vryheid. Die US-studenteraad het by monde van James de Villiers, nog ‘n De Villiers-hanskakie, hom ten gunste van Wim de Villiers se beoogde verengelsing uitgespreek. Open Stellenbosch (OS) het (soos gebruiklik seker sonder vooraf goedkeuring) ‘n nagwaak voor een van die administrasiegeboue gehou om die US-raadslede te probeer intimideer. Die studentevereniging Adam Tas, wat pro-Afrikaans is, het op 30 November, sonder veel publisiteit, ‘n memorandum aan die US-bestuur oorhandig. Die Afrikaanse Taalraad (ATR) het hom ook in ‘n mate ten gunste van Afrikaans uitgespreek. Die probleem is dat sowel Adam Tas as die ATR meertaligheid propageer pleks van kompromisloos pro-Afrikaans te wees. Dieselfde geld die US se Departement Afrikaans en Nederlands, wat in hierdie late stadium wakker geskik het deur uiteindelik te erken dat die Afrikaansdosente “bekommerd [is] oor die potensiële [!] verskraling van Afrikaans as akademiese en administratiewe taal” (LitNet 30 November). Daar is reeds jare lank werklike, maklik sigbare verskraling, sodat “potensiële verskraling” sekerlik erg eufemisties is.

Die Burger het op 30 November, toe hy vroegoggend met ‘n sterk geformuleerde mening ‘n verskil ten gunste van Afrikaans kon maak, redaksioneel geswyg. Daar is selfs verder gegaan. André le Roux, die dwars Sarie-joernalis, is toegelaat om in die rubriek Maandag Aktueel (p 8), onder die opskrif “Ons muf in dié klein dampkring”, sy stem dik teen Afrikaans te maak: “dat die gesprek oor die toekoms van Afrikaans nie veel wyer strek as ‘n selfkwetsende bekgeveg onder wit Afrikaners nie … As ons as liefhebbers van ons taal nie tred hou met en ‘straatslim’ aanpas by die snelle politieke en ekonomiese omwentelinge wat nou ná 21 jaar eers regtig momentum en vastrapplek kry nie, skakel ons onsself vinnig uit as pleitbesorgers van Afrikaans se regmatige belange.”

Le Roux hou van Wannie Carstens se taalkompomieë (bv ophemeling van Afrikaansvariëteite pleks van Standaardafrikaans, (oor)beklemtoning van die rol van bruines eerder as dié van wittes, bevordering van veeltaligheid en versoening pleks van Afrikaans en Afrikanerkultuur). Vir Le Roux gaan dit klaarblyklik om assimilasie met die verswelgende swart meerderheid; dus Suid-Afrikanerskap pleks van Afrikanerskap. Daarom het hy dit teen “taalbul-heethoofde”. Afrikaners moet blykbaar eerder sonder slag of stoot oorgee op pad na ‘n vergesogte, vae utopie: “Afrikaans het genoeg gravitas om in die komende dekades te gedy, mits hy op elke vlak en funksie tot die groter inklusiewe Suid-Afrika hertoetree.” Moontlik volg hieruit gebooie soos die volgende. Moenie vir Afrikaans veg nie, oftewel moenie ‘n taalbul wees nie. Moenie Afrikaans beskerm nie. Moenie weerstand bied teen die magte van die bose nie. Dan sal alles wel wees.

Le Roux skryf voorts: “Adam Small verwys verlede Woensdag diplomaties na NP van Wyk Louw se beskrywing van Afrikaners se ‘kleinburgerlikheid’. Louw, wat meer as enigiemand anders Afrikaans se ‘hoër funksies’ verpersoonlik het, was egter blatanter. Hy het dit ‘n ‘kleindorpse’ mentaliteit genoem … Met ‘n genetiese neiging tot ‘kleindorpsheid’ bedreig ons ons eie taalgoed deur te wil leef in ‘n land waarop ons verniet wens eerder as dié een waarin alle Suid-Afrikaners bestaan.” Le Roux hef dus eintlik ‘n loflied vir die kulturele oorgawe van Afrikaners aan. Hy veroordeel nie Small se ondersteuning vir De Villiers se voorgestelde US-verengelsing nie. Verder boor hy Afrikaners dieper as Small in die grond in. Small gebruik Van Wyk Louw graag selektief ter bevordering van sy eie politieke agenda. Small, wat in Londen nie hond haaraf met sy doktorale studie onder die leiding van die beroemde filosoof, Karl Popper (1902-1994), kon maak nie, wanskat Van Wyk Louw as denker.

Hoe misplaas Le Roux se instemming met Small is, blyk uit Peter Louw se brief op dieselfde bladsy in dieselfde koerant. “Adam Small se mening … dat my vader, NP van Wyk Louw [1906-1970], geen probleem met die verengelsing van die Universiteit Stellenbosch (US) sou gehad het nie, is vergesog en onbegryplik … in die lig van Louw se lewenslange en intense betrokkenheid by die Afrikaanse taal en letterkunde, sou ek egter presies die teenoorgestelde wil beweer: dat hy bitter omgekrap sou gewees het oor wat tans by die US gebeur … daar is oorweldigende aanduidings … dat Louw heel tuis sou gevoel het by hedendaagse taalverdedigers … Eintlik is ek vir sy onthalwe bly dat hy nie meer hier is om die pynlike afgang van Afrikaans in die afgelope dekades te beleef nie.”

Ek vind dit interessant dat WEG Louw (1913-1980, die broer van Van Wyk Louw) se seun ook juis nou op die US-taalstryd gereageer het. PC Louw, Stellenbosch, skryf dat hy ten sterkste aanstoot neem omdat ‘n woordvoerder van OS beweer dat gelyke status vir Afrikaans en Engels gelykstaande aan rassisme is. Louw voel seker dat sy vader so ‘n rassisme-aanklag as ‘n drogredenasie sou verwerp het. “Ek wonder of hy, indien hy nog geleef het, sy letterkundige en dokumenteversameling aan die Universiteit Stellenbosch sou wou bemaak het” (Die Burger, 3 deser, p 16).

Die US-raadsbesluit

Die aand van die 30ste is die US-raadsbesluit op die US-webwerf gepubliseer. Die mosie is glo met ‘n “oorweldigende meerderheid” aanvaar. Die vroeëre mosie van die uitvoerende komitee (15 November) is ook aanvaar. Die raad bly dus verbind tot die taalbeleid wat op 22 November 2014 aanvaar is. Van De Villiers se verengelsingsvoorstel is bloot “kennis geneem” pleks van dit ondubbelsinnig te veroordeel en te verwerp. “Die Raad verklaar onomwonde dat taal nooit [!] enige hindernis mag wees vir enige [!] student wat voorgraads of nagraads [!] aan die US wil studeer en nie óf Afrikaans óf Engels magtig is nie.” Letterlik is dit sekerlik ‘n oordrewe stelling, maar die implikasie is dat die US-raad se ideaal is dat alle studente hulle volledige leergang na eie keuse in Afrikaans of Engels moet kan voltooi. Dit gee uitdrukking aan die taalbeleid waarvolgens Afrikaans en Engels veronderstel is om gelyke status te geniet. Die verwysing na nagraads is interessant, want in die praktyk word eenvoudig aanvaar dat nagraadse onderrig aan die US mos (by voorkeur) in Engels is. In ten minste daardie sin is daar reeds geen gelyke status vir Afrikaans en Engels nie. Daar is myns insiens ook nie ‘n kat se kans dat die De Villiers-US hieraan ten gunste van Afrikaans sal verander nie. Hou deurgaans in die gedagte dat die uitvoering van die taalbeleid tans in die hande van mense soos Wim de Villiers en Nico Koopman, die viserektor vir transformasie, is. Hulle is die onwilligs denkbare mense om Afrikaans te bevorder.

Voorts versoek die raad “die Bestuur om met die oog hierop [die vorige aanhaling] die nodige meganismes verder uit te bou en deurlopend te monitor. Indien dit sou beteken dat die Engelse akademiese aanbod die gestelde teiken oorskry, sal dit die ondersteuning van die Raad geniet.” Hiermee word die veronderstelde gelyke status van Afrikaans en Engels ook voorgraads ongelyk ten gunste van Engels getrek. Teoreties word na ‘n 100% Afrikaans- en 100% Engels-aanbod gestreef, met 75% vir albei teen 2020, maar onder druk van OS mag die Engels-aanbod maar gouer as die Afrikaans-aanbod vermeerder word. Die US is/word dus onteenseglik ‘n oorwegend Engelse universiteit, teenstrydig met Jannie Marais se skenkings- en stigtingsvoorwaarde dat Afrikaans nie ‘n mindere plek as Engels mag beklee nie.

“Tergelykertyd verklaar die Raad dat dit [die oorskryding van die gestelde teiken vir Engels] nie ten koste mag wees van die ooreengekome minimum teiken vir die Afrikaanse aanbod nie.” Hier het ons dus ‘n situasie waar die Engelse aanbod gemaksimaliseer kan word, terwyl daar in die geval van Afrikaans bloot by die minimum teiken gehou hoef te word.* Die ewewig tussen Afrikaans en Engels word dus met raadsgoedkeuring verder versteur. Om hierdie pil te versuiker, word bygevoeg: “Die Raad versoek dat óók die Afrikaanse voorgraadse akademiese aanbod nog verder verhoog sal word.” Nagraads word die verengelste status quo hier egter sonder meer aanvaar. [* Dit herinner aan wat reeds in 2009 gesê is: “Stellenbosch het dus gekies vir ‘n minimale posisie vir Afrikaans en ‘n maksimale posisie vir Engels” (Pieter Kapp, Maties en Afrikaans, 2013, p 195).]

“Die Raad bevestig hiermee dat die Universiteit se meertalige aanbod as ‘n strategiese bate vir US beskou word en as ‘n kompeterende voordeel uitgebou moet word.” Dit weerspreek De Villiers se versugting vir ‘n verengelste US baie duidelik; dus sy poging om “gelykberegtigde toegang tot leer- en onderriggeleenthede vir alle studente te verseker” deur die US te verengels. Soos die ANC hou die US-raad egter van groeiende diversiteit (eintlik: ontwitting) en demografiese verswelging: “Die Raad beskou die groeiende diversiteit in die studente-demografie aan die US as ‘n groot bate vir sowel die akademiese as persoonlike vorming van die studente … Die Raad sal daarom saam met Bestuur kreatief wil bly dink hoe onderlinge begrip en waardering vir almal verbonde aan die US bevorder kan word, en die verrykingspotensiaal van die diversiteit maksimaal ontsluit kan word.”

“Wat die administratiewe en kommunikasie-taal aan die US betref, besluit die Raad dat taal nooit [!] uitsluitend mag wees vir studente en personeel nie. Die Raad aanvaar dat, soos tans, amptelike dokumente en kommunikasie daarom in Afrikaans sowel as in Engels beskikbaar sal wees.” Dit is in direkte teenspraak met De Villiers se standpunt: “Die primêre taal van kommunikasie en administrasie van die Universiteit Stellenbosch sal Engels wees.”

“Wat die voertaal van vergaderings en byeenkomste aan die US en in universiteitskoshuise betref, versoek die Raad dat dit onderling gereël word met die oogmerk om niemand uit te sluit nie.” Pleks van daarop aan te dring dat Afrikaans en Engels hier gelyke status moet geniet, speel die US-raad hier in die hande van hanskakie De Villiers. Wat in die praktyk waarskynlik sal gebeur, is dat Engels tot die (enigste) taal van nie-uitsluiting verklaar sal word (“almal verstaan mos Engels”) en Afrikaans dus hier taboe sal wees. Die resultaat sal dus in ooreenstemming met De Villiers se voorgestelde opdringing van Engels wees: “In koshuise en ander leefomgewings behoort studente Engels as omgangstaal in huisvergaderings en ander amptelike funksies [te] gebruik.”

Ten spyte van die duidelike leemtes in hierdie kompromisbesluit van die US-raad is dit allerweë as ‘n oorwinning vir Afrikaans bestempel. Onvolmaak soos die besluit is, is dit nogtans ‘n duidelike repudiëring van De Villiers se voorgestelde verengelsingsbeleid. Desnieteenstaande is geen mosie van wantroue in De Villiers gestel nie, terwyl daar ruim rede is om hom by die uitvoering van hierdie US-raadsbesluit te wantrou. Dit is nie sinvol om van wolf skaapwagter te maak nie. Afrikaans en De Villiers kan nie saam aan die US voortbestaan nie. Vorentoe sal ‘n keuse gemaak moet word. Die aanduidings is dat die toekoms aan die kant van De Villiers en ‘n eentalig Engelse US is. Alle OS-manewales en ander onrus sal waarskynlik voortaan na die US-raad afgewentel word, want mense soos De Villiers en Koopman is blykbaar eendragtig van dieselfde oortuiging as die destruktiewe magte op die kampus.

Die situasie waarin Afrikaans hom aan die US bevind, laat my dink aan ‘n HOP-huis met ernstige strukturele probleme. ANC-goedgekeurde kontrakteurs, soos De Villiers en Koopman, gebruik te min Afrikaanse sement en te veel growwe Engelse sand. Die leefruimte vir Afrikaans het verstikkend min geword. Maar diegene wat die US-HOP-huis op pad na Engelse eentaligheid verniet op ‘n skinkbord kry, juig daaroor. ‘n HOP-huis is immers ‘n leefruimte vir swartes, geskenk deur swartes, maar in groot mate gefinansier deur wittes. (HOP verwys na die ANC-regering se Heropbou- en ontwikkelingsprogram. Waarom heropbou? Dus, wie het afgebreek wat opgebou was? Die UDF/ANC en PAC met bv oproer, vandalisme en terrorisme.)

Na die US-raadsbesluit

Op die US-webwerf (1 deser) het die US-raad se voorsitter, George Steyn, die besluit toegelig en bygevoeg: “Ek beskou die Raad se mosie as ‘n baie sterk sein vir alle belangegroepe van die Universiteit Stellenbosch dat ons verbind is tot inklusiwiteit en die uitbreiding van onderrigtale aan die instelling. Meertaligheid is vir ons ‘n strategiese bate; dit maak ons uniek en gee ons ‘n kompeterende voordeel bo ander instellings.” Steyn se verduideliking is aangebied onder die opskrif: “Raadsmosie steun transformasie aan US.”

Op dieselfde dag en plek het die US-bestuur, myns insiens taamlik druipstert maar met ‘n goeie skeut hardegatheid, ook van hom laat hoor, onder die opskrif: “Raadsmosie versterk US as meertalige Suid-Afrikaanse universiteit – US Bestuur.” De Villiers se verengelsingsvoorstelle word ‘n “gespreksdokument” genoem en die US-raadsbesluit ‘n “riglyndokument”; dus nie voorskrifte waaraan die US-bestuur teen wil en dank uitvoering moet gee nie. Daardie riglyne versterk glo “bestuur se onmiddellike planne vir beter taalimplementering.” Een van die beginsels wat met ingang 2016 deur die US-bestuur toegepas gaan word, is:”kennisoordrag in lesings (kleiner groepe) moet ten minste in Engels plaasvind.” Dit is (grootliks) ‘n toepassing van De Villiers se verengelsingsvoorstel: “In kleiner klasgroepe sal alle inligting in Engels oorgedra word.” Wat ‘n groot en wat ‘n klein klasgroep is, word nêrens gespesifiseer nie. Die meeste onderrig vind waarskynlik in sogenaamde klein klasgroepe plaas. Deur sulke klasse by voorkeur te verengels is sekerlik opsetlik strydig met die jongste US-raadsbesluit.

De Villiers word soos volg aangehaal: “Dit is nie die rol van Bestuur om alle oplossings te probeer verskaf nie. Bogenoemde beginsels sal met fakulteitsrade bespreek word. Ons akademiese personeel sal ten beste weet hoe om meertaligheid in verskillende omgewings te implementeer, en Bestuur sal die nodige ondersteuning verleen.” Wat De Villiers hier sê, het uiters ernstige implikasies. Myns insiens is ‘n redelike vertolking dat aangesien sy oplossing vir die taalprobleem, naamlik verengelsing, nie deur die US-raad aanvaar is nie, die US-bestuur nie (noodwendig) verdere oplossings gaan probeer soek nie. Pleks van die voorskrifte van die US-raad te aanvaar en uit te voer, gaan De Villiers blykbaar toelaat dat die dosente (vryelik) volgens eie voorkeur oor die taalaanbod besluit. As hy hiermee wegkom, sal dit finaal die dood in die pot vir Afrikaans aan die US wees.

Uit Pieter Kapp se dokumentering van die US se taalgeskiedenis, Maties en Afrikaans (2013), is dit baie duidelik dat as besluite oor die onderrigtaal aan die US se dosente oorgelaat word, verengelsing vinnig intree. Dit het in die Fakulteit Lettere gebeur toe tweetalige klasse sonder raadsgoedkeuring goedsmoeds in die tweede en derde studiejaar ingestel is, pleks van Engelse onderrig tot die eerste studiejaar te beperk. Die Fakulteite Teologie en Gesondheidswetenskappe het toe dieselfde gaping gevat (p 109, 118, 139, 147). Na Russel Botman se diensaanvaarding as rektor in 2007 het hy Engels bevorder met: “Elke omgewing, hetsy fakulteit of administrasie-afdeling, bepaal sy eie taalplanne in ooreenstemming met die beleid” (p 159), terwyl daar geen duidelike begrip was van of bekommernis oor wat die taalbeleid behels nie. Toe is al gesê: “Nagraads word die taal deur die bepaalde onderrigomgewing bepaal” (p 160). Die sprekende resultaat hiervan is die huidige grootliks Engelse onderrig op nagraadse vlak. Die US-konvokasie het teen die desentralisering van die taalbeleid beswaar gemaak met die oproep dat geen ruimte in die taalbeleid toegelaat moet word wat “deur dosente en Bestuurslede gemanipuleer” kan word nie (p 160). Voorgraads het tweetalige klasse egter spoedig die reël en Afrikaanse klasse die uitsondering geword. Leopold Scholtz het geskryf: “Die T-opsie [tweetalige klasse] bly ‘n halfwegstasie na Engels en nou word dit nog verder vergemaklik deur die besluit oor die onderrigtaal na dosente af te wentel. Eikestadnuus het dit teleurstellend genoem, want die beleid is eintlik ‘n verswakking van die posisie van Afrikaans deur die besluite oor onderrigtaal te desentraliseer” (p 160). Die uitvoerende komitee van die US-raad het hierdie vergrype, wat Afrikaans ernstig benadeel het, later gekondoneer (p 163). Teen 2009 is gesê: “Dit het duidelik geword dat fakulteite en individuele dosente die vryheid wou hê om enige taalbeleid te volg wat hulle pas” (p 168).* “Wat nodig is, is spesifieke waarborge wat Afrikaanse onderrig uit die hande van die willekeurige besluite van dosente neem” (p 176). Teen die einde van 2009 het die voorsitter van die US-konvokasie gesê: “Dit is hierdie deurlopende gebrek aan ‘n spesifieke en duidelike beleid wat die deure oop laat vir dosente om Afrikaans te ignoreer” (p 200). [* Die militante Amanda Gouws is blykbaar ‘n sprekende voorbeeld hiervan: “In my tweejaarsklas van ongeveer 300 studente het ek in die eerste lesing gevra hoeveel in Engels onderrig wil word. Dit was ongeveer 80%, alhoewel net 60% Engelssprekend was. Die studente het gekies” (Die Burger, 1 deser, p 12).]

Wat die voorafgaande toon, is dat sodra die US-raad nie ‘n duidelike taalbeleid neerlê en ook verseker dat dit toegepas word nie, gedesentraliseerde, ongekoördineerde, arbitêre besluite aan die orde van die dag is, met chaotiese gevolge. Die gemeenskaplike kenmerk is dat die posisie van Afrikaans deurlopend verswak. “Daar is min simpatie en begrip by die dosente vir die [Afrikaanse] studente se taalsituasie. Afrikaanse studente is skugter om te protesteer omdat hulle vir drie dinge bang is: diskriminasie deur die dosent, groepsdruk van veral nie-Afrikaanse studente maar ook Afrikaanse studente om nie ‘n skouspel te maak nie, en om as nie vaardig in Engels nie gestereotipeer te word” (Kapp, p 221).

Kapp se studie toon dat die praktyk in groter mate verengels het as wat aan die US-raad gekommunikeer is. Dit is ‘n terrein waarop daar sedert 2002 ten koste van Afrikaans listig gelieg en bedrieg is. Dit geld die era van Chris Brink, Russel Botman en Wim de Villiers, drie rektore met ‘n anti-Afrikaanse ingesteldheid; direk strydig met wat hulle voor diensaanvaarding plegtig belowe het. Nou wil De Villiers blykbaar juis desentralisasie van taalbesluite toelaat sodat sy ideaal van ‘n verengelste US werklikheid kan word. Sy standpunt behels myns insiens ‘n doelbewuste en uittartende reaksie op die jongste US-raadsbesluit. Kortom, die Afrikaanse aanbod sal ingevolge daardie raadsbesluit myns insiens nie uitgebrei word so lank De Villiers die rektor is nie. Die Engelse aanbod sal egter sekerlik met geesdrif uitgebrei word.

Ten slotte

Dit is prakties onmoontlik om alles te berde te bring wat die afgelope week oor hierdie onderwerp gepubliseer is. Die res van my skrywe is dus baie selektief en oorsigtelik.

Amanda Gouws het die kans gebruik om propaganda teen Afrikaans te versprei. Hierdie gesindheid by haar kom van ver af, soos Kapp se teks bevestig. Dit gaan vir Gouws glo om sosiale geregtigheid en nie identiteit nie. Blankes word glo reeds op skool onregverdig bevoordeel omdat hulle in Afrikaans kan studeer. Verder: “Afrikaans is verpolitiseer.” (Die Burger, 1 deser, p 12). Gouws kritiseer Sonja Loots omdat sy nou as ‘n “selfaangestelde polisievrou” ontpop het. Dit kan interessant wees om te kyk hoe susters baklei. Joan Hambidge het Gouws teengespreek deur te ontken dat Afrikaans aan die Universiteit Johannesburg sonder noemenswaardige teenstand vernietig is. Gouws se beswaar dat die geveg aan die US eerder om kultuur as taal gaan, laat Hambidge vra: “Presies waar word taal en kultuur ooit van mekaar geskei?” (Die Burger, 3 deser, p 16). Hambidge wys ook op die verpolitisering van Engels. Uitheemse taalmodelle is volgens Gouws uit die bose. Afrika-modelle moet seker gesoek word. Hambidge meen daardie “uitheemse” modelle is plaaslik toepaslik. Afrikaans hoort in elk geval hier. “Waarom dit verpand vir Engels?” Hambidge neem tereg “standpunt in teen diegene wat ‘n sterk inheemse taal met ‘n lang skryftradisie probeer verloën.”

Die US-studenteraad kan weens die buitengewoon lae stempersentasie tydens sy verkiesing glad nie daarop aanspraak maak dat hy namens die meerderheid US-studente praat nie. Nogtans het hy die jongste US-raadsbesluit veroordeel. Dit geld ook Open Stellenbosch. ‘n Woordvoerder van OS beweer: “Die raad is onbevoeg en verstaan nie transformasie nie” (Die Burger, 1 deser, p 1). Vorentoe sal OS misbruik kan maak van Die Burger se sinspeling dat die US-raad demografies nie die samestelling van die US-studentekorps weerspieël nie (Die Burger, 28 November, p 12). Van die eienaardigste reaksies het gekom van Anne-Marie Beukes, die voorsitster van die Afrikaanse Taalraad: “Dit is bemoedigend dat Engels nie voortydig die verstektaal van die US sal wees nie” (Die Burger, 2 deser, p 3). Impliseer sy dat die tyd vir De Villiers se voorgestelde verengelsing weldra ryp gaan wees?

Leopold Scholtz is die enigste joernalis wat met ‘n pro-Afrikaansgesindheid in Die Burger skryf. Hy het kennis geneem van die gebrek aan steun uit bruin geledere in die US-taalstryd. Polities korrek pak hy die skuld daarvoor op die blankes. “Ons Afrikaners het ons bruin taalgenote, om dit sag te stel, baie stief behandel” (Die Burger, 3 deser, p 16). “Dit is een rede waarom bruin stemme in die openbare gesprek oor Afrikaans tot dusver oorwegend so terughoudend was.” Dit klink vir my erg eufemisties. Uit die geledere van ontwikkelde bruines is daar in werklikheid ‘n pro-Engelse golf. “Die tyd het aangebreek dat die wit, bruin en swart Afrikaanssprekers regtig hande vat.” Ek wonder soms hoe Scholtz dit regkry om skynbaar nie moeg te word vir sy eie holruggeryde, tam stories nie. Dit lyk vir my asof dit beter sou wees as Afrikaners hulle hande vry hou sodat hulle vir Afrikaans kan veg, want uit die geledere van ander etniese groepe sal geen hulp opdaag nie.

Tot en met Donderdag het Die Burger redaksioneel nog nie ‘n piepgeluid oor die US-raad se jongste besluit laat hoor nie. In die redaksionele Vryburger-rubriek, wat guitig probeer wees, is daar egter ‘n aanduiding gegee van die mate van erns waarmee hierdie groepie joernaliste die US-taalstryd betrag deur skuins te verwys na “hierdie ou taalsakie by Maties” (Die Burger, 3 deser, p 17).

Teen die einde van die week, Vrydag, is ‘n hoofartikel, onder die opskrif “Bou Maties nou as ‘n uitnemende, meertalige bate,” uiteindelik aan die saak gewy (Die Burger, 4 deser, p 14). Naïef-idealisties word beweer dat die US-raad se jongste besluit stabiliteit op die kampus gaan bring. Hoewel die raadsbesluit wesenlik as ‘n voortsetting van die status quo aangebied word, reken Die Burger dat daar “‘n aanvoelbare verskil” gaan wees. Die instelling van parallelmediumonderrig in die groter klasse word blykbaar as ‘n deurbraak beskou. Enersyds word die verengelsing van die kleiner klasse gerieflikheidshalwe verswyg. Andersyds word die waarskynlike weerslag van aparte klasse as apartheid (hoofsaaklik wittes woon die Afrikaanse en hoofsaaklik nie-wittes woon die Engelse klasse by) nie verreken nie. Dan volg hierdie twak: “‘n Meertalige kampus is eerder die vergestalting van die bedoeling van ons grondwetskrywers.” Wil Die Burger hiermee te kenne gee dat net die enkele universiteite wat in ‘n (afnemende) mate nog in ‘n mate Afrikaans is die grondwettoets slaag; dus dat die oorgrote meerderheid plaaslike, uitsluitlik Engelse universiteite, insluitende De Villiers se verengelsingsprojek, die grondwettoets druip? Myns insiens is uitsluitlik Afrikaanse universiteite in dieselfde mate as uitsluitlik Engelse universiteite grondwetlik regverdigbaar. ‘n Uitsluitlik Afrikaanse universiteit is en bly dié ideale oplossing vir al die US se huidige taalprobleme.

Pierre de Vos het die US met sy soort grondwetkennis probeer verengels, maar hy is op ‘n uiters bekwame manier deur die regsgeleerde Koos Malan tereggewys (Netwerk24, 4 deser). Piet (Kopdoek) Croucamp het teen diegene wat vir Afrikaans veg te velde getrek as mense wat “Afrikaans met vlakliggende slagofferskap verdedig” en wat “Afrikaans se toekoms wil afdwing” (Netwerk24, 3 deser) terwyl dit juis Engels is wat aan Afrikaanssprekende opgedring word. Charles Smith, daarenteen, kom deesdae met sterk pro-Afrikaanse uitsprake (Netwerk24, 3 deser). Les bes kan kennis geneem word van Ernst Conradie se artikel oor die aard van die universiteit (Netwerk24, 3 deser).

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.