Die Nigeriese Kommunikasie-kommissie het ingestem om MTN se boete van R72 miljard rand na sowat R14 miljard rand te verminder.
Die boete is opgelê omdat MTN Nigerië ongeregistreerde intekenare nie dadelik afgesny het in Augustus en September nie.
Twee Nigeriese amptenare van MTN, waaronder die hoof, is intussen afgedank en vervang.
Wetgewing oor die registrasie van Sim-kaarte is soortgelyk aan die in Suid-Afrika, maar dié drakoniese boete word beskou as ‘n politieke skuif.
Die maatskappy het Donderdagoggend bekend gemaak dat die Nigeriese kommunikasiekommissie ‘n amptelike brief gestuur het waarin die boete verminder word ná onderhandelinge met die regering.
Die boete moet volgens dié brief teen 31 Desember betaal word.
Phuthuma Nhleko, uitvoerende voorsitter, het herhaaldelik met Nigeriese owerhede in gesprek getree oor die boete.
MTN se versuim het glo meer as vyf miljoen ongeregistreerde SIM-kaarte in Nigerië behels.