BRICSbank bedel by lidlande

Deel op

Die president van die Brics Ontwikkelingsbank, Kundapur Kamath sê hulle verkies dat die nodige hulpbronne vir die bank van die lidlande afkomstig sal wees, het RSG berig.

Kamath het in Pretoria ‘n openbare lesing aangebied en sê die ekonomieë van sommige van die lidlande, Brasilië, Rusland, Indië, China en Suid-Afrika, is sterker as ander en sal ‘n groter bydrae tot die Ontwikkelingsbank kan lewer.

Hy sê die bank sal verkies om slegs na internasionale markte te gaan indien dit werklik noodsaaklik is. Kamath sê die Brics Ontwikkelingsbank behoort teen April aanstaande jaar die eerste lenings toe te staan.

Intussen het Zimbabwe en China ‘n reeks bilaterale samewerkings-ooreenkomste onderteken.

Die Chinese president, Xi Jinping het gister in Zimbabwe aangekom op ‘n tweedaagse besoek. Hy word vergesel deur ‘n groot afvaardiging Sjinese sakelui. Zimbabwe en China het historiese bande wat terugdateer na Zimbabwe se bevrydingstryd.

Die betrekkinge tussen die twee lande het verstewig sedert 2000, toe Westerse lande Zimbabwe weens menseregte skendings geïsoleer het. Die nuwe ooreenkomste het betrekking tot omgewingsbeskerming, konstruksie, en kragopwekkingsprojekte, insluitend die uitbreiding van die Hwange-kragstasie.

Die Zimbabwiese president, Robert Mugabe het sy land se betrekkinge met China geloof, en verwys na die verswakkende ekonomiese invloed van Westerse lande.

Amerikaanse verteenwoordigers by die Internasionale Monetêre Fonds en binne die Kongres self het gesê hulle het geen keuse gehad nie ten opsigte van die IMF se besluit om die Chinese renminbi (RMB) te aanvaar as nuwe reserwegeldeenheid.

Die IMF het ingestem om die yuan die nuutste toevoeging tot sy geldeenheidmandjie, bekend as Spesiale Trekkingsregte (SDR) te maak.

Indien die VSA China se geldeenheid sou geweier het, sou dit Amerika gedwing het om alternatiewe instellings te bou, wat die bestaande finansiële argitektuur van die ou Bretton Woods-stelsel sou ondermyn het, sê ontleders.

China is reeds te veel geïntegreer by die internasionale stelsel om so ‘n stap te kon oorweeg.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.