Frankryk se pres. François Hollande en die sekretaris-generaal van die Verenigde Nasies (VN), Ban Ki-moon, het die week 150 wêreldleiers in Parys vir die VN-spitsberaad oor klimaatsverandering verwelkom.
Altesaam 195 nasies is by die spitsberaad verteenwoordig, wat 12 dae duur.
Die doel is om die eerste ware globale ooreenkoms te bereik om die vrystelling van kweekhuisgasse te beperk, om sodoende die mees katastrofiese gevolge van klimaatsverandering te voorkom.
Breë Paryse hoofweë, wat gewoonlik stampvol motoriste is, was Maandag afgekordon om plek te laat vir die aankoms van pres. Barack Obama en 150 ander wêreldleiers na die beraad.
Voertuie van onlustepolisie en veiligheidspersoneel in gewone drag, is in en om die hoofstad en die noordelike voorstad, Le Bourget gestasioneer, waar die konferensie vanaf gister tot 11 Desember sal plaasvind.
Veiligheidsmaatreëls is verskerp na die dodelike terreuraanvalle in Parys twee weke gelede toe 130 mense die lewe gelaat het.
Ná die verwelkoming sal staatshoofde toesprake lewer waarin hulle uiteensit wat hul lande beplan om te doen om die vrystelling van kweekhuisgasse te verminder en klimaatsverandering te verlangsaam.
Die VSA het intussen laat blyk dat een ooreenkoms bindend sal wees nie.