Stellenbosch: status quo word gehandhaaf met ‘gelyke status vir Afr en Eng’

Deel op

Die snelle verengelsing van die Universiteit van Stellenbosch is vir die oomblik gestuit nadat ‘n raadsvergadering gisteraand besluit het om die rektor en Engelssprekende dosente se voorstel om Engels die “hooftaal” te maak met ‘n “oorweldigende meerderheid” van 21 stemme teen drie verwerp het. Twee lede van die raad het buite stemming gebly. Die status quo sal gehandhaaf word met Afrikaans en Engels wat albei as doseer- en voertale behou word. Die volledige mosie lui soos volg:

1. Die Raad van die Universiteit Stellenbosch het kennis geneem van die konsep-dokument van die Bestuur van die Universiteit Stellenbosch wat op 12 November 2015 bekendgemaak is. Verder bevestig die Raad sy ondersteuning ten opsigte van die mosie van die Uitvoerende Komitee van die Raad – UK(R) – aangeneem op 15 November 2015.

2. Vir sover die konsep-voorstel en verklaring van die Bestuur die amptelike Taalbeleid van die Universiteit Stellenbosch (US) raak, verklaar die Raad die volgende:

2.1 Die Raad bly verbind tot die Taalbeleid soos aanvaar op 22 November 2014 en die interpretasie daarvan deur prof Wim de Villiers in sy inhuldigingsrede: “Stellenbosch is nie ‘n Afrikaanse universiteit nie; Stellenbosch is nie ‘n Engelse universiteit nie; Stellenbosch is nie ‘n isiXhosa universiteit nie; Stellenbosch is ‘n meertalige Suid-Afrikaanse universiteit – een van min in hierdie kategorie, wat bitter nodig is in ‘n land met 11 amptelike tale”.

2.2 Die Raad verklaar onomwonde dat taal nooit enige hindernis mag wees vir enige student wat voorgraads of nagraads aan die US wil studeer, en nie óf Afrikaans óf Engels magtig is nie. Daarom versoek die Raad die Bestuur om met die oog hierop die nodige meganismes verder uit te bou en deurlopend te monitor. Indien dit sou beteken dat die Engelse akademiese aanbod die gestelde teiken oorskry, sal dit die ondersteuning van die Raad geniet.

2.3 Tegelykertyd verklaar die Raad dat dit nie ten koste mag wees van die ooreengekome minimum teiken vir die Afrikaanse aanbod nie. Die Raad versoek dat óók die Afrikaanse voorgraadse akademiese aanbod nog verder verhoog sal word. Die Raad bevestig hiermee dat die Universiteit se meertalige aanbod as ‘n strategiese bate vir US beskou word en as ‘n kompeterende voordeel uitgebou moet word.

2.4 Wat die administratiewe en kommunikasie-taal aan die US betref, besluit die Raad dat taal nooit uitsluitend mag wees vir studente en personeel nie. Die Raad aanvaar dat, soos tans, amptelike dokumente en kommunikasie daarom in Afrikaans sowel as in Engels beskikbaar sal wees. Studente, personeel en die publiek sal steeds aangespreek word in die taal van hul voorkeur, hetsy Afrikaans of Engels en indien moontlik ook isiXhosa.

2.5 Wat die voertaal van vergaderings en byeenkomste aan die US en in universiteitskoshuise betref, versoek die Raad dat dit onderling gereël word met die oogmerk om niemand uit te sluit nie.

3. Die Raad beskou die groeiende diversiteit in die studente-demografie aan die US as ‘n groot bate vir sowel die akademiese as persoonlike vorming van die studente wat kies om aan die US te studeer. Die Raad sal daarom saam met Bestuur kreatief wil bly dink hoe onderlinge begrip en waardering vir almal verbonde aan die US bevorder kan word, en die verrykingspotensiaal van die diversiteit maksimaal ontsluit kan word.

Intussen gaan die pro-Engelse agitasie op die kampus egter voort. In vandag se Media24-koerante verskyn ‘n rubriek van prof. Amanda Gouws waarin sy haar steeds uitspreek ten gunste van die aanvaarding van Engels as enigste doseertaal. Sy beweer dat studente wat in Afrikaans studeer, “Afrikanerbagasie” het en die eerste is om die land te verlaat waar hulle elders geredelik verengels:

Die kinders van ouers wat so op Afrikaanse onderrig aandring, is die eerstes wat die land verlaat as hulle afstudeer het en skielik in die openbare en die privaat sektor agterkom dat hul Afrikanerbagasie (let wel, nie die taal nie) hul kniehalter. In ’n ander land is hulle bereid om hul taal op te gee.

Ons moet ons kinders vir ’n globale wêreld grootmaak. Dit is ’n wêreld waarin almal ten minste in Engels moet kan funksioneer.

Gouws hou ook, strydig met die amptelike taalbeleid, informele opnames in haar klasse om te bepaal of die meerderheid ten gunste van Engels is, waarna sy in Engels klas gee. Sy skryf:

In my tweedejaarsklas van ongeveer 300 studente het ek in die eerste lesing gevra hoeveel in Engels onderrig wil word. Dit was ongeveer 80%, alhoewel net 60% Engelssprekend was. Die studente het gekies. Die res het die tolkdiens slegs een week gebruik. Wat die studente wil hê, is gehalteonderrig wat hulle vir ’n globale wêreld – hier ter lande of oorsee – voorberei.

PRAAG het gister ‘n petisie met 455 name van skrywers, kunstenaars, sportmense en lede publiek wat ten gunste van Afrikaans as voertaal is, aan die rektor en die raad van die Universiteit van Stellenbosch gestuur om in ag te neem by sy besluit. Dít, asook ander insette, het waarskynlik die deurslag gegee – in weerwil van die rektor en meer as 200 Stellenbosse dosente wat die universiteit wil verengels.

PRAAG sal later vandag ‘n verklaring uitreik waarin die besluit verwelkom word, maar op die herverafrikaansing van dié instelling aangedring word.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.