Die tyd raak min

Deel op
Image13:10:28 Soos volke 'n geskiedenis het, het tale en beskawings ook 'n geskiedenis. Die geskiedenis van beskawings gaan oor verowering en uitbreiding, dikwels deur  aanslae op ander beskawings. Beskawings is die produk van hul geskiedenis, die som van inlywings en uitsluitings. Kennis van ons geskiedenis gaan nie soseer oor kennis van die verlede nie, maar oor insigte waarom ons vandag is wat ons is in morele, ekonomiese en intellektuele sin. Dis ons etniese psige. Dis ons geskiedenis wat inhoud aan daardie psige gee.
Deel op

Afrikaners leef nie in die verlede nie, maar in die verlede binne hulle. Elke Afrikaner is ook die produk van sy eie geskiedenis. Elke dorp en straatnaam het 'n geskiedenis. Elke ou gebou en monument is getooi in 'n historiese gewaad waarop die gesigte van hul voorsate geëts is. Dit is die gesigte van mense wat oomblikke van lyding of glorie ervaar het en wat deur hul nageslag verewig is. Die geskiedenis is 'n integrale deel van volke se menswees, die inhoud waarsonder geen volk kan voortbestaan nie.

Om daardie inhoud te bevraagteken, of te misken, is om onderwerp te word deur 'n vreemdsoortige beskawing, wat geen benul van Afrikaners se geskiedenis het nie.  

Vandag sien ons 'n roekelose omgang met goedkoop politiek wat die tydelikheid van 'n mededingende beskawing onderstreep. Dis 'n poging om 'n nuwe geskiedenis te skep wat by die heersers se psige kan inpas. Hoeveel mense besef dat beskawing en volkskultuur nie oorgeërf word nie, maar dat elke geslag dit van vooraf moet aanleer? Kennis van die geskiedenis is 'n kragtige teenmiddel vir die arrogansie van oningeligte magsbekleërs. Afrikaners kan mos nooit toelaat dat hul kumulatiewe waardestelsel deur 'n vreemdsoortige mag met behulp van waansinnige retoriek ondergeploeg word nie. Hierdie is ernstige sake wat op internasionale terrein getakel moet word.

Die arrogansie van vandag se heersers moet gesien word vir wat dit is: 'n inhoudlose beskawing wat deur 'n geskiedenis van verowering, doodslag en 'n ewigdurende oorlewingstryd gevorm is en wat nou in die gestalte van magsmisbruik manifesteer.

Die geskiedenis word as maatstaf gebruik om nuwe regte aan "voorheen benadeeldes" toe te ken. Omdat Afrikavolke se geskiedenis 'n ander inhoud aan hul psige gegee het as aan Afrikaners, word tydelike regstellende maatreëls nou as permanente regte geïnstitusionaliseer om te vergoed vir hul historiese benadeling.  

Hierdie optrede is presies dieselfde onnadenkendheid van die politieke vergrype tydens die "struggle" toe "no education before liberation" die slagspreuk was, toe massa geweld en populistiese oproerigheid as deel van die psige van die massas ingemessel was. Is dit dus verbasend dat die moderne Suid Afrikaners die produk geword het van 'n vlak, selfgemaakte, postmoderne geskiedenis?

Net soos dit vandag moeilik is om die gevolge van die gewelddadige struggle te verwerk, net so gaan dit in die toekoms moeilik wees om daardie mense van die nasionale tepel te speen. Die spreekwoordelike magtige dreuning sal wyd oor die velde gehoor word wanneer die kunsmatige ekonomiese hoofaarinspuiting afgebind gaan word. En glo my vry, dit gaan beslis nog afgebind word, dalk nog gouer as wat mens vandag mag dink.

Vraag is hoe Afrikaners hulle binne hierdie omgewing kan laat geld? Tans is die denkstroom en strategie om dit deur burgerregteaksies te beveg. Maar hoe bewys mens 'n burgerreg as dit nie aan individuele grondwetlike regte kleef nie? Hoe kan 'n volk sy gemeenskapsregte wat hy deur die geskiedenis verwerf het in stand hou?

Regtegeoriënteerde liberalisme, soos deur die Suid-Afrikaanse grondwet uitgebeeld word, aanvaar dat elke persoon 'n persoonlike stel belange en doelwitte het. Die grondwet veronderstel 'n neutrale regsraamwerk om elkeen 'n gelyke geleentheid te bied en in staat te stel om as 'n vrye burger sy persoonlike belange na te jaag en te verwesenlik. Die grondwet veronderstel en gee hoog op dat 'n burger se waarde nie gemeet word aan sy gebondenheid aan een of ander groep of gemeenskap nie, maar aan die keuses wat hy as persoon self mag uitoefen; vandaar die verbod op alle vorms van diskriminasie.

Maar dan trek die grondwet 'n streep deur die konsep van individuele regte en verbod op diskriminasie deur 'n kunsmatige gemeenskap te skep vir uitsondering op alle terreine van die lewe. Die sogenaamde "voorheen benadeeldes" – 'n metafoor vir diegene wat aan die verkeerde kant van apartheid was – is nou op spesiale behandeling geregtig. Ons het dus nou 'n situasie waar 'n landsburger se waarde amptelik nie meer aan sy eie vermoëns gemeet word nie, maar juis sy gebondenheid aan 'n bepaalde gemeenskap.

Is die grondwet dus steeds 'n liberaaldemokratiese instrument as hierdie voorskrif die einddoel van regeringsbeleid geword het en nie die grondwet self nie? Regeringsbeleid gaan nou oor die halsbandjie in 'n samelewing waar die hond 'n mindere rol speel.

Suid Afrika is egter 'n Afrikaland wat uit gemeenskappe, groepe en volke bestaan. Dit verteenwoordig 'n oorwegend kommunitêre bevolkingsamestelling in sy tradisies en manier van optrede. Die bron van die kommunitêre landsburger se identiteit spruit nie soseer uit individuele keuses wat hy mag uitoefen nie, maar uit sy verbintenis met sy gemeenskap, soos sy familie, kerk, vakunie, sosiale klub, provinsie en etniese groep. Kommunitariërs redeneer dat die differensiasie tussen gemeenskappe en elkeen se reg op vrye assosiasie die basis is waarop individue en gemeenskappe hulself na goeddunke kan orden.

Ons het nou te make met twee pole wat in konflik teenoor mekaar staan. Die een pool is een van maatskaplike gelykmaking, die ander een is maatskaplik kommunitêr. Die twee pole verskaf konstante wigte en teenwigte waarvan die kragte volgens die politiek van die dag sal wissel, met die voorbehoud dat daar geen kompromis is met die nuwe regte van voorheen benadeeldes nie.

Daar bestaan dus nou 'n grondwet wat aan die een kant poog om liberaal te wees, maar wat toelaat dat sy tande getrek word deur die byt daaruit te haal en in die swak oordeel van politici te plaas. Dit is amptenare wat daagliks moet bepaal of anti-wit diskriminasie geregverdig is by die toekenning van poste, tenders, studiebeurse, ekonomiese bemagtigingskemas en vele ander. Die grondwet is nie meer die handleiding nie, maar die regering se beleid en regulasies. Is dit dus moontlik om jou burgerregte in so 'n regsomgewing suksesvol te beskerm?

Dit is glashelder dat daar na 'n ander benadering gesoek moet word om ons Afrikanerbeskawing te beskerm en uit te brei. Tans val ons terug van een loopgraaf na die ander en wen enkele geregtelike skermutselings. Maar ons is stelselmatig besig om die stryd te verloor, totdat ons dit eersdaags gewonne sal gee. Afrikaners se hele benadering is takties. 'n Oorhoofse strategie bestaan gewoon nie. Elkeen van dosyne Afrikanerorganisasies sien homself as die nukleus van Afrikanerbestaan. Organisasies bedink planne om hul ledebasis te verbreed, om hul inkomste te verhoog en om legitimiteit te bevestig en uit te bou.

Sommige spartel om relevansie in die huidige politieke omgewing te behou en beskou uitreiking na ander gemeenskappe as die aangewese weg. Ander probeer om die voorblaaie elke dag te haal sodat die ledetal kan groei. Maar nêrens kom enige organisasie met 'n plan om die histories verworwe volkeregte van Afrikaners op die internasionale terrein te bevorder nie.

Die rede?  Daar bestaan geen organisasie wat Afrikaners verteenwoordig nie. Elke organisasie verteenwoordig slegs sy eie lede — sommige lede nogal van verskeie etniese groeperings.

Slegs wanneer die meeste Afrikanerorganisasies sou besluit om sentraal te affilieer en 'n metode vind om hulself as verteenwoordigend te orden, sal daar 'n Afrikanerraad ontstaan wat verteenwoordigend is.

Maar intussen sal daardie deel van Afrikanerdom wat hulself die Boere noem, volkeregtelik die leiding neem om as sodanige verteenwoordigende raad te ontstaan en te groei. Hopelik sal die res van die Afrikaners hul eie identiteit vind en begin om na hul eie belange te kyk en ophou om die ander wang te draai.

пескоструйная обработкаФильчаков Александр Васильевич

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.