Streng veiligheidsmaatreëls geld in die Franse hoofstad, Parys, waar 149 ander staatshoofde vir die klimaatsonferensie, CoP, byeen is, nadat Parys onlangs deur Moslemterreur getref is.
Die Verenigde Nasies se spitsberaad oor klimaatsverandering, die grootste diplomatieke byeenkoms tot nog toe, sal ook deur Edna Molewa, minister van omgewingsake, en president Jacob Zuma bygewoon word.
Die beraad wat vandag begin, se doel is om ‘n ooreenkoms te bereik om die vrystelling van kweekhuisgasse te verminder.
Geen ooreenkoms blyk egter in die vooruitsig te wees nie, nadat ‘n Amerikaanse dokument uitgelek het.
Wetenskaplikes sê die gemiddelde temperatuurstyging wêreldwyd moet tot minder as twee grade Celsius beperk word, maar hul weermodelle blyk omstrede te wees.
Volgens berigte het die Amerikaanse minister van buitelandse sake, John Kerry gesê geen ooreenkoms sal Amerika wetlik verplig om sy kweekhuisgasvrystellings te beperk nie.
Die dokument wat uitgelek is, maak dit duidelik dat die VSA nie sal toegee nie. Amerika eis ook dat die verdeling tussen sogenaamde ryk en arm lande verander moet word.
Nywerheidslande het in die verlede aanspreeklikheid vir klimaatsverandering aanvaar.
Amerika sê só ‘n skeiding is kunsmatig, omdat ontluikende lande binnekort die grootste oortreders van kweekhuisgasvrylatings gaan wees.
Kerry het verlede week Indië uitgesonder as die land wat waarskynlik ‘n “uitdaging” vir klimaatsveranderingsgesprekke in Parys inhou, maar nooit China by die naam genoem nie.
Die Indiese hoofstad verdonker onder tans die besoedeling van steenkool. Hulle beoog om 1,5 miljard ton steenkool jaarliks te lewer teen 2020, dubbel die huidige uitset.
En as daar een ding is wat Westerse lande saamsnoer, is dit dat steenkool uitgefaseer moet word.
Ongelukkig is dit nie iets wat Indië, reeds die derde grootste besoedelaar in die wêreld, gaan oorweeg nie.
“Dit getuig van ‘n koolstofimperialisme,” het die Indiese regering gekla.
Die polisie moes Sondag traangas inspan om omgewingsaktiviste uiteen te jaag. Hulle het byeengekom ondanks ‘n verbod op openbare protes.
Die groep aktiviste beywer hulleself vir ‘n beperkings op mensgemaakte vrystellings in die atmosfeer.