Dan Roodt: Gestel daar was geen swartes in Suid-Afrika nie?

Deel op

Die boek deur Ferial Haffajee wat vandeesweek met fanfare vrygestel is, What if there were no whites in South Africa? het ‘n soort taboe verbreek in die sin dat dit ons noop om Suid-Afrika suiwer in rasseterme te beskou. So iets is sover ek weet, nog nooit vantevore gedoen nie, behalwe miskien deur Amerikaners vir wie dit sedert die dae van Lothrop Stoddard se Rising tide of color of Madison Grant se The passing of the great race al tradisie geword het. (Albei dié boeke kan gratis op die internet gelees word by laasgenoemde skakels of selfs gratis op Amazon.com as Kindle-boeke “gekoop” word.) Toevallig is my nuuskierigheid deur Stoddard se Rising tide of color geprikkel en dit is werklik interessant om te lees hoe die rasseprobleem destyds in die 1920’s reeds bespreek is. Stoddard is meer van ‘n geostrategiese ontleder van die groot “rassewêrelde” (wit, geel, bruin en swart), terwyl Madison Grant op biologiese ras fokus. In die voorwoord by Grant se The passing of the great race sê Henry Fairfield Osborn:

European history has been written in terms of nationality and of language, but never before in terms of race; yet race has played a far larger part than either language or nationality in moulding the destinies of men; race implies heredity and heredity implies all the moral, social and intellectual characteristics and traits which are the springs of politics and government.

Waarskynlik sou Ferial Haffajee en haar geesgenote hiermee saamstem: alle boosheid in Suid-Afrika is te wyte aan die aangebore tekortkominge van die blanke ras. Vir Haffajee, iemand wat in Suid-Afrika se gangbare tiperings as ‘n “kleurling” gereken sou word, sou Suid-Afrika sonder blankes ‘n utopie verteenwoordig. Vermoedelik sou die land baie meer suksesvol gewees het en niemand sou deur “blanke heerssug” of “rassisme” gekwel word nie. Nêrens in haar teks wat ek in Ferial Haffajee: an affirmative-action princess who lacks antiwhite courage geresenseer het, verduidelik Haffajee egter vir ons presies hoe ‘n swart Suid-Afrika sou gewerk het nie. Feit is egter dat sy dit as ‘n idee in die openbare domein invoer.

Op die Engelse PRAAG verskyn vandag insgelyks ‘n ander reaksie op Haffajee deur ‘n jong student, John White. Terwyl Haffajee vanuit die hoofstroommedia applous ontvang vir haar gewaagde droom van ‘n Suid-Afrika sonder blankes, sou dieselfde horde polities korrekte propagandiste waarskynlik minder geesdriftig wees oor die teenoorgestelde utopie: ‘n Suid-Afrika sonder swartes.

'n Toneel in Durban tydens die tydvak van Suid-Afrikaanse segregasie
‘n Toneel in Durban tydens die tydvak van Suid-Afrikaanse segregasie

En as ons nou praat van “swartes”, gebruik ek “swart” in dieselfde sin as Ferial Haffajee, as die broederskap (of susterskap, om my nie die argwaan van al my fanaties feministiese lesers op die hals te haal nie) van alle nie-wittes. Of nie-blankes, daardie gewraakte term wat in die ou Suid-Afrika so dikwels op bankies in parke, by stasies en op strande verskyn het en sedertdien in duisende foto’s verewig is. Natuurlik het die suidelike VSA oor dieselfde bordjies beskik, maar Amerikaners word dit minder verkwalik as ons.

Haffajee is nie eens baie donker van gelaat nie en soos ek in my Engelse resensie noem, is sy nie swart nie:

For she herself is not black, and with her Muslim name would pass for a light-skinned Arab, such as an Egyptian. Or an Indian.

Nietemin identifiseer sy met die term “swart”: in haar wêreld loop die verdelingslyn tussen alle gekleurdes (= “swartes”) en die suiwer blankes of mense van Europese oorsprong. In haar swart Suid-Afrika sal daar steeds Indiërs, kleurlinge en Chinese wees, maar geen blankes nie. Hoe dit presies daar sal uitsien, weet ons nie. Dit sal net “beter” wees, synde bevry van blanke oorheersing, rassisme, Afrikaans (hoewel sy nie veel oor Afrikaans sê nie, is haar koerant, City Press, baie anti-Afrikaans), “witheid” en die “apartheidserfenis”.

Voorbeelde van lande in Suider-Afrika wat eensklaps “verswart” is, is Mosambiek en Zimbabwe. Albei lande het nie lank nadat die etniese suiwering van blankes plaasgevind het nie, tot die vlak van “armste land ter wêreld” teruggesak, met ‘n BNP per kop van ongeveer $200 per jaar. Maar vir Haffajee en ander aanhangers van “swartheid” maak sulke ekonomiese kwessies nie eintlik saak nie; wat tel, is die beginsel van ‘n suiwer swartheid wat utopies verwesenlik moet word. Julius Malema en baie ander hang insgelyks dié utopiese beginsel aan, van Suid-Afrika wat geheel en al swart moet word en alle aspekte van die maatskappy wat deur swartes besit of beheer moet word, soos plaasgrond byvoorbeeld.

In die lig van die voortdurende ophemeling en pleidooie vir ‘n swart utopie in Suid-Afrika, trek ek daarom vandag die stoute skoene aan en vra: Hoe sou ‘n blanke utopie in ons land lyk? Gestel daar was nooit enige swartes in Suid-Afrika nie of ons het reeds vroegaan ‘n soort Israelse muur op die Limpopo-grens gebou sodat geen swartes oor ons grense kon kom nie? Of andersins, pleks van tuislande te ontwikkel, het die Verwoerd-regering eenvoudig die reusebedrae wat destyds al aan swart onderwys en gesondheid bestee is, gebruik om swartes te betaal om na die nuut “bevryde” Afrikastate te emigreer? Indië sou ook die Suid-Afrikaanse Indiërs met ope arms ontvang het, as die staat maar net hul passaat per skip terug Indië toe sou betaal het.

As ek enigiets van swart denke verstaan, is dit die gedagte dat daar niks erger as blanke regering is nie. Daarom sou dit mos net logies wees dat elke swart man of vrou met blydskap na Ghana, Zambië, Tanzanië of Mobutu se Zaïre sou wou vertrek om die wondere van swart regering te gaan ervaar. Waarom het die ou NP dít nooit ingesien nie? Miskien was hulle te “rassisties” en het nie mooi na die boodskap geluister wat reeds van oral in Afrika en vanuit die raadsale van die Verenigde Nasies begin opklink het nie. In die Rand Daily Mail van destyds waarvan Helen Zille en Allister Sparks sulke trotse redaksielede was, is swart regering vir Suid-Afrika ook konstant bepleit omdat dit beter as blanke regering sou wees. Tans veg sowel Zille as Sparks steeds daarvoor om ons daarvan te oortuig dat swart regering die summum van menslike bestuur verteenwoordig, met die verskil dat hulle vandag in Beeld en Die Burger skryf.

Hoe dit ook al sy, hoe Suid-Afrika blank geword het, is nie vir my argument so belangrik nie. Feit is dat ons ‘n blanke land kon gewees het, met al die voordele daaraan verbonde. Dink ‘n bietjie daaraan:

Geen rassekonflik

Daar is van die Amerikaanse en Franse teoretici wat beweer dat oral waar twee of meer menslike rasse dieselfde grondgebied deel, rassekonflik onvermydelik is. Dis eenvoudig biologies, sê hulle. Sonder om egter die “harde” biologiese verklaring te aanvaar, kan ons empiries waarneem dat lande met beduidende rassediversiteit almal rassekonflik ervaar. Suid-Afrika en die VSA is sekerlik die mees voor die hand liggende voorbeelde. Maar ook Brasilië, Meksiko en die hedendaagse Frankryk en Brittanje waar rasseonluste en -terreur gereeld plaasvind.

Trouens, ‘n mens kan selfs sê dat, hoe meer rassediversiteit daar bestaan, hoe groter die konflik. Elke dag vind daar in Suid-Afrika iets soos 15 “betogings” plaas, waarvan ten minste twee in onluste of openbare geweldpleging ontaard. In die kleiner, homogene blanke lande van Europa of die blanke state van Amerika, is so iets ongehoord. Mense kla as jy skeef parkeer of nie jou huis se vensters skoon gehou nie. Trouens, in Switserland bestaan daar munisipale regulasies wat bepaal dat jy eenkeer per maand jou vensters moet skoonmaak. In sulke lande sien mens nooit enige vullis op straat nie; alles is netjies en skoon, georganiseerd en ordelik.

Geen ‘rassisme’

Suid-Afrika, asook die VSA, word gekenmerk deur histeriese openbare uitbarstings en obsessionele toesprake, artikels en referate oor “rassisme”. Trouens, rassisme word as die vernaamste maatskaplike probleem getipeer, nie die gebrek aan elektrisiteit of skoon water of eerlike regering nie.

In ‘n blanke Suid-Afrika sou die hele probleem van “rassisme” en al die energie wat daarin gestort word, soos mis voor die son verdwyn. Ek kan my kwalik voorstel dat daar in ‘n homogene samelewing soos Japan oor “rassisme” gewroeg word. Waarom sou een Japanner ‘n ander van “rassisme” wou beskuldig? Net so sou ons nie ons kosbare tyd en aandag op ‘n probleem soos “rassisme” in ‘n homogene blanke Suid-Afrika verkwis nie.

Baie min of geen misdaad

Dis nie meer omstrede om te sê dat swartes meer misdaad as blankes pleeg nie. Sowel in die VSA as in Suid-Afrika, is daar duisende statistieke wat dit oor en oor bewys. Slegs 2% van ons gevangenisbevolking van ongeveer 200 000 bestaan uit blankes, terwyl ons 9% van die bevolking verteenwoordig. In oorwegend blanke woonbuurte in Suid-Afrika word min of geen moorde gepleeg nie, terwyl honderde moorde in swart of bruin buurte in die Wes-Kaap per jaar gepleeg word. Die gevaarlikste tien polisiedistrikte in Suid-Afrika is almal in swart of bruin buurte geleë.

Die voordeel van ‘n blanke land met min geweldsmisdaad lei logies tot:

Net ‘n paar tronke

Met slegs 4000 blanke misdadigers, sou ons net ‘n paar tronke nodig hê. Vyf-en-negentig persent van die gevangenisowerheid of “departement van korrektiewe dienste” soos dit tans bekendstaan, sou onnodig wees. Dink aan die belastingbesparings. Met meer aandag en fondse vir maatskaplike werk, sou daardie paar duisend blanke misdadigers verder gerehabiliteer kon word en op die ou end sou ons dalk amper glad nie tronke nodig hê nie. Dit is die geval in Ysland, met sy homogene bevolking waar daar in die meeste jare nie ‘n enkele moord gepleeg word nie.

Goeie onderwys

Tans gaan onderwys in Suid-Afrika konstant agteruit omdat die hele stelsel vir swartes aangepas moet word. Minder wiskunde en spelling, en meer politiek en verdomming. Alles word makliker gemaak sodat ons kinders die skole verlaat sonder om behoorlik te kan lees en skryf of somme maak.

Almal van ons wat in die ou Suid-Afrika op blanke skole was, kan getuig van die hoë standaarde wat toe gegeld het. Ons het punte verloor as ons verkeerd gespel het, en almal moes wiskunde doen, selfs diegene wat nie universiteit toe sou gaan nie. In ‘n blanke land sou dié voortreflike standaarde terugkeer en sou ons kinders weer met die beste ter wêreld kan meeding.

Die lande met die beste skoolresultate is almal homogene Oosterse of Europese lande sonder rasseprobleme. Hier is die toptienlande ter wêreld wat skooluitslae betref, almal min of meer etnies homogene lande:

  1. Singapoer
  2. Hong Kong
  3. Suid-Korea
  4. Japan
  5. Taiwan
  6. Finland
  7. Estland
  8. Switserland
  9. Nederland
  10. Kanada

Op dié toptienlys is dit slegs Kanada wat na “veelrassig” of multikultureel neig, maar ons moet onthou dat ongeveer 80% van Kanada se bevolking steeds uit blankes bestaan.

Geen kultuurkonflik

Suid-Afrika, die VSA en ander veelrassige lande word deur intense kultuurkonflik gekenmerk. Standbeelde word gevandaliseer, skole word afgebrand, mense skree letterlik in die openbaar op mekaar omdat hulle gebelg voel oor die ander ras of groep se kultuur of geskiedenis. Hier is ‘n voorbeeld afkomstig vanaf Princeton, wat veronderstel is om een van die drie beste universiteite in Amerika te wees, maar waar swart studente wil hê dat die voormalige blanke president Woodrow Wilson se naam van ‘n gebou verwyder moet word:

Nêrens in Finland, Estland of Switserland wat oor redelik homogene blanke bevolkings beskik, is so iets denkbaar nie. Hoewel Switserland oor vier verskillende amptelike tale (Duits, Frans, Italiaans en Romansch) beskik, het die land in onlangse tye nog geen konfklik geken wat voertaal in skole of universiteite betref nie.

Net so is die taalkwessie in Suid-Afrika reeds in 1925 besleg toe Afrikaans en Engels as amptelike tale naas mekaar erken is. Daardie wet van 1925 is sonder ‘n teenstem in die parlement aanvaar, met ander woorde, selfs geharde blanke Engelssprekendes van Britse afkoms het dit ondersteun.

Afrikaanse skole en universiteite

Rondom ons stort Afrikaanse onderwys in duie soos wat die land se rassekonflik hom op Afrikaanse skole en veral universiteite laat geld. Miskien moet ek liewer sê: wreek. Omdat dit hoofsaaklik blankes is wat verkies om in Afrikaans onderrig te word – Afrikaanssprekende kleurlinge verkies universiteitstudie in Engels – spreek dit vanself dat Afrikaanse skole en universiteite in ‘n blanke Suid-Afrika sou gedy. Soos in die verlede, sou daar vier Engelse universiteite wees en omtrent sewe Afrikaanse universiteite, met min of geen konflik oor taal nie.

100%-matriekslaagsyfer

Dit is bekend dat die blanke matriekslaagsyfer in privaat- of voormalige model-C-skole naby aan 100% is. In ‘n blanke Suid-Afrika sou dié syfer gehandhaaf word of selfs verder verbeter omdat ons beter skole van ‘n hoër standaard sou kon onderhou en nie meer afwaarts getrek sou word deur swart onderwys nie. Gevalle van onderwysers wat hul leerlinge seksueel molesteer, dronk by die skool opdaag of glad nie opdaag nie, sou verdwyn of hier en daar as ‘n absolute uitsondering op die reël aangeteken word.

Geen vullis op straat

Gaan kyk ‘n bietjie hoe lyk enige straathoek waar minibustaxi’s swartes af- of oplaai. Gewoonlik baai die hele gebied in vullis en papiere wat net daar gestort word. Dan praat ‘n mens nie eens van die toestande in plekke soos Alexandra, Diepsloot, Soweto, asook die hedendaagse Hillbrow en Berea nie. Onlangs met die Sandton-fietswedren, wat ironies genoeg aan Mandela gewy is, het ek 27 kilometer deur Johannesburg, waaronder Hillbrow, Berea en Yeoville gery. Van ‘n fiets af is jy baie meer in kontak met jou omgewing as knus in ‘n motor. Dit is plekke waar ek as student gewoon het en waar ‘n mens kafees of boekwinkels kon besoek. Die hoeveelheid vullis op straat in daardie eens blanke, Westerse omgewings is onbeskryflik en ‘n stank van ou vullis en urine vul die lug, so anders as in blanke stede oorsee waar die strate daagliks gewas word en die strooi van vullis jou ‘n boete kan oplê.

Dink net hoe ons stede kon lyk indien dit ‘n blanke land was! Skoon, netjies, versorg, aangenaam, misdaadloos en veilig.

Geen probleme by Eskom, by SAL, Transnet, Telkom en die Poskantoor nie

Die Suid-Afrikaanse Lugdiens was eens een van die beste rederye ter wêreld, ‘n openbare maatskappy wat in die publiek se belang sonder enige korrupsie en selfverryking bestuur is. Tans gaan daar nie ‘n dag verby dat SAA soos dit deesdae eentalig Engels bekendstaan, nie die nuus haal weens korrupsie, wanbestuur en knoeiery nie. Tegnies is die swart SAL bankrot.

As die Poskantoor nie staak nie, word daar berig oor sy finansiële probleme en ‘n mens wag dae lank vir briewe om afgelewer te word. In die EU word 85% van briewe en pakkies binne 24 uur afgelewer. In ‘n land soos Swede word 92% van alle briewe binne 24 uur afgelewer en is die poskantoor so doeltreffend dat privaatkoeriers geen markaandeel by die poskantoor kan afneem nie!

Hoe lekker sou dit nie wees om weer ‘n blanke poskantoor soos dié in ‘n EU-land te kon hê nie? Wat nie jaarliks groot finansiële verliese ly en telkens deur die belastingbetaler gered moet word nie.

Indien Telkom vroeg genoeg begin het om in die internet in Suid-Afrika te belê, sou ons nie met stadige, duur internetverbindings gesukkel het nie.

Hoe minder oor Transnet en Eskom gesê word, hoe beter. Onder blanke ingenieurs en bestuurders, sou dié twee maatskappye egter weer kon gedy.

Beter sport sonder korrupsie

Suid-Afrika is die enigste land ter wêreld wat rassekwotas op sport afdwing. Uiteraard sou dit in ‘n blanke land nie nodig wees nie. Niemand sou bekommer oor die aantal swart spelers in die span nie, want daar sal net blanke spelers wees en niemand sou dit vreemd vind nie.

Sport in Suid-Afrika draai net om geld en politiek, in daardie volgorde. Atletiek is in ons land vernietig en korrupsie vier hoogty by vele sportliggame. In ‘n blanke Suid-Afrika sou sport weer ter wille van die spel en prestasie beoefen word. Ons sou weer topatlete en -swemmers lewer, en dalk die wêreldrugbybeker wen.

Geen minibustaxi’s nie

Die minibustaxi is die grootste euwel wat daar is. Hierdie onpadwaardige voertuie met hul vermetele, aggressiewe, onbeskofte en roekelose bestuurders veroorsaak tienduisende ongelukke per jaar waarin duisende mense sterf of vermink word.

Sowel die bestuurders as die passasiers is swart, dus sou daar in ‘n blanke Suid-Afrika geen minibustaxi’s wees nie en ons almal sou die paaie met ‘n lied in die hart kon bestyg, sonder om op die uitkyk te wees vir ‘n maniak wat jou van die pad wil afdruk of eensklaps sonder waarskuwing in die middel van die pad stilhou.

Geen terreur nie

In Suid-Afrika het 200 voorvalle van terreur vanaf 1960 tot 1994 plaasgevind. Dít alles kan met nie-blanke politiek verbind word. Immers het die Natte en die Sappe mekaar nooit met bomme bestook nie, al het hulle hewig oor allerlei sake verskil.

In ‘n blanke land sou daar geen terreur plaasvind nie en nêrens sou ons hoef te vrees dat iemand ‘n bom op straat of in ‘n winkelsentrum gaan stel nie.

Geen plaasmoorde nie

Plaasmoorde verteenwoordig insgelyks ‘n vorm van terreur wat ná 1994 toegeneem het. Geen blanke waarvan ek weet, het al ‘n plaasmoord gepleeg deur goedsmoeds ‘n boer of sy gesin te gaan aanval nie. In ‘n blanke Suid-Afrika sou daar geen plaasmoorde wees nie, boere sal nie hul huise met hoë heinings hoef te omring en met wapens hoef rond te loop nie.

Geen diefwering, lae versekeringspremies, minder polisiestasies

Trouens, in ‘n blanke Suid-Afrika sou geweldsmisdaad op dieselfde vlak as in Europese of Verre-Oosterse lande verkeer. Ons sal nie meer diefwering, alarms of hoë mure met elektriese heinings of lemmetjiesdraad nodig hê nie. Ons sal veel minder polisiestasies benodig en die privaatveiligheidsnywerheid sal grootliks verdwyn.

Versekeringspremies sal baie laer wees, sowel op huise as op motors en sodoende sal groot hoeveelhede geld meer produktief aangewend kan word.

Openbare hospitale sou weer uitstekend wees

Hospitale soos die Johannesburgse Algemeen of die HF Verwoerd in Pretoria was in die tyd toe hulle gebou is verstommende prestasies wat met die beste ter wêreld kon vergelyk. Streng susters en aanvallige blanke verpleegsters het daar gewerk en ‘n mens het amper na ‘n verskoning gesoek om hospitaal toe te gaan!

In ‘n blanke Suid-Afrika sou ons weer trots wees op ons openbare hospitale, net soos op ons skole en kampusse.

Kuns, letterkunde en musiek sou floreer

Soos in Europese lande, sou die owerheid sy bes doen om kultuur, kuns, letterkunde en klassieke musiek te bevorder. Die Staatsteater of die Johannesburgse Stadskouburg sou weer vir die doel aangewend word waarvoor sulke teaters gebou is, naamlik die opvoering van ernstige teater en operas. Daar sal weer simfonie-orkeste wees en die SAUK sal musiek bevorder soos dit onder Anton Hartman die geval was.

Boeke sal heen en waar na Afrikaans vertaal word en ons sal weer ‘n land van lesers in plaas van TV-kykers word.

Groter gelykheid en maatskaplike samehorigheid

Afrikanersosialisme soos dit onder die Nasionale Party in die vyftiger- en sestigerjare gewerk het, met goeie onderwys en goed bestuurde openbare maatskappye, asook ‘n hoë premie op wetenskaplike navorsing en ontwikkeling, sou waarskynlik in ‘n blanke Suid-Afrika terugkeer. Pleks van in die rigting van Zimbabwe te neig, sou ons veel meer soos ‘n Skandinawiese land wees, met ‘n hoë lewenstandaard, goeie skole en hospitale, asook vrede, voorspoed en veiligheid.

Anders as tans, waar die land deur ‘n klein oligargie van korrupte superrykes beheer word terwyl die grootste deel van die bevolking krepeer en die middelklas stelselmatig verarm en uitgeroei word, sou daar in ‘n blanke Suid-Afrika groter gelykheid wees en rykdom sou teen meriete en met harde werk bekom word, nie deur knoeiery en korrupsie nie.

Deur gesonde patriotisme en lojaliteit aan die eie land en volk, sal maatskaplike samehorigheid heers, met selfs Engelse wat Die Stem uit volle bors saam sing.

So ‘n land is die antitese van dít wat tans heers en wat swart nasionaliste en antiblanke skryfsters soos Ferial Haffajee bepleit.

Hoe ‘n mens dit kan bereik, is natuurlik ‘n ope vraag. Indien daar enige logika by swart nasionaliste en afrosentriste was, sou hulle almal môre die minibustaxi Zimbabwe toe gehaal het om die voortreflikheid van ‘n volkome swart land te gaan ervaar. Hulle sou graag wou wegvlug van “rassisme”, Westerse kultuur en argitektuur, die apartheidserfenis, Afrikaans en Afrikaners.

Dog, as Malema, Haffajee en soveel ander die reg het om hul swart ideaal na te streef, mag ons seker maar droom van ons wit ideaal?

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.