Oorlewende Russiese vlieënier ontken Turkse bewerings

Deel op

Die oorlewende bemanningslid van ‘n Russiese vegvliegtuig wat deur Turkye neergeskiet is, sê hulle het geen waarskuwing van die Turkse lugmag ontvang nie, waarskynlik omdat hulle nooit binne die Turkse lugruim gevlieg nie, het Reuters berig.

Turkse F16-vegvliegtuie het Dinsdag naby die Siriese grens die Russiese vliegtuig afgeskiet. Volgens Turkye het die Russiese vliegtuig Turkse lugruim geskend.

Kapt. Konstantin Murakhtin (39), medevlieënier is deur Russiese en Siriese spesiale magte gered nadat hy die smeulende tuig per valskerm kon ontsnap.

ISIS-terroriste het die vlieënier wat ook per valskerm uitgeskiet is, lt.kol. Oleg Peshkov, in die lug doodgeskiet en daarna sy lyk onteer.

“Daar was geen waarskuwing nie, nie oor die radio of visueel nie. Daar was geen kontak nie,” het Murakhtin gesê.

“As hulle ons wou waarsku, kon hulle hulself gewys het deur ‘n paralelle koers te vlieg. Daar was niks.

“Die missiel het skielik die stert van ons vliegtuig getref. Ons het dit nie betyds gesien om ‘n teenmissiel-maneuver te doen nie,” het hy gesê.

Turkye sê die vliegtuig is glo “10 keer” gewaarsku om sy koers te verander. Turkye se bewerings, wat in ‘n amptelike verklaring aan die VN gerig is, het egter wenkbroue laat lig weens die ongeloofwaardigheid daarvan.

Volgens die Turke se verduideliking moes die supersoniese Russiese vliegtuig teen stolspoed deur die Turkse lugruim beweeg het, wat onmoontlik is.

Die Russe ontken dat hulle oor Turkse gebied gevlieg het.

“Ek kon perfek op die kaart en op die grond sien waar die grens was en waar ons (in Sirië) was. Daar was geen bedreiging dat ons Turkye sou betree nie,” het Murakhtin gesê.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.