Woedende Poetin veroordeel Turkse ‘rugstekers’

Deel op

President Wladimir Poetin het Turkye “rugstekers” genoem nadat Turkye ‘n Russiese vegvliegtuig in Sirië neergeskiet het.

‘n Sigbaar woedende Poetin het gesê dit is ook verbasend dat Turkye daarna nie met Rusland wou skakel oor die voorval nie, maar dadelik NAVO genader het oor ‘n “krisis” asof dit Rusland was wat ‘n vegvliegtuig van ‘n vriendelike bondgenoot afgeskiet het.

Turkye is ‘n lid van NAVO. Finland en Australië het egter voorheen na die Turkse president Erdogan as ‘n “diktator” verwys.

Een vlieënier is dood en terroriste het die tweede vlieënier gevange geneem. Die Associated Press het Dinsdag berig dat die een Russiese vlieënier doodgeskiet is voordat hy met ’n valskerm in Sirië geland het.

Die Russiese vlieënier se lyk is deur ‘n opgewonde horde wat daarop toegesak het, afgeneem en die gru-getuienis is dadelik op YouTube geplaas. Die horde om die man se bebloede lyk jil voortdurend “Allah is groot” in die film.

Terroriste wat pres. Bashar al-Assad se bewind wil omverwerp, het glo ook ‘n Russiese hulphelikopter aangeval met ‘n Amerikaanse TOW anti-tenkmissiel, maar die geredigeerde beeldmateriaal kon nie bevestig word as outentiek nie.

Intussen het die Noord-Atlantiese Verdragsorganisasie (NAVO) ’n noodvergadering belê vir Dinsdagmiddag in Brussel om Turkye se vyandigheid te bespreek.

Turkye gee tans noodsaaklike ondersteuning aan diegene wat verantwoordelik was vir die slagting in Parys.

Daar is dus waarskynlik net een rede waarom Turkye die Russiese vegvliegtuig afgeskiet het: Pure frustrasie met die Russiese ondersteuning vir Assad en die Russe se sukses om ISIS af te takel.

Turkye het ook die eerste geleentheid om die situasie te eskaleer benut, in die hoop dat NAVO gemobiliseer kan word teen Rusland.

Skermgrepe van ‘n video wys die vegvliegtuig in vlamme waar dit in ‘n bergagtige gebied in die noorde van Sirië neergestort het en twee valskerms wat oopmaak.

Die Dogan-nuusagentskap het berig dat die vliegtuig aan die Siriese kant van die grens neergestort het, en dat die twee vlieëniers daarin kon slaag om met valskerms uit te skiet.

Rusland se ministerie van verdediging sê dit is nie duidelik waar presies die twee vlieëniers hulle tans bevind nie. Hulle het geen kontak met die twee nie.

Die Amerikaanse departement van verdediging glo die Russiese Su-24 bomwerper is afgeskiet binne die Siriese lugruim, het Reuters berig.

“Die Verenigde State is van mening dat die Russiese vegvliegtuig wat afgeskiet is deur Turkye Dinsdag, getref is binne die Siriese lugruim na ‘n kort deurvlug deur die Turkse lugruim,” het die amptenaar gesê op voorwaarde van anonimiteit.

Volgens die bron, is die assessering gegrond “op opsporing wat die hittebeeld van die vliegtuig volg”.

Beeldmateriaal wat deur die Anadolu-nuusagentskap uitgereik is, wys hoe die twee vlieëniers met valskerms grond toe daal.

Dit word deur Europese waarnemers as onwaarskynlik beskou dat die Turke sal slaag met hul plan om ‘n NAVO-aanval teen Rusland te bewerkstellig, anders as om karakters soos Senator John McCain, Pole of die Baltiese state, se openlike goedkeuring te kry.

NAVO sukkel om sy bestaan in Europa te regverdig nadat die Warskouverdragslande ontbind het, en probeer voortdurend twis saai.

Die Amerikaanse president, Barack Obama, het intussen “Turkye se reg verdedig om sy lugruim te beskerm” en daarmee sy teenkanting teen internasionale terreur onder verdenking geplaas.

Hy het by ‘n gesamentlike nuuskonferensie met die Franse President, François Hollande, in Washington herhaal dat daar “gematigde” terroriste is wat ‘n burgeroorlog in Sirië dryf met buitelandse steun.

Obama sê Rusland moet mede-verantwoordelikheid vir die voorval aanvaar.

Hy sê die Russe vlieg baie naby aan die Turkse grens en val “opposisiegroepe” aan wat nie net deur Turkye nie, maar ook ander lande gesteun word.

Die VSA probeer steeds voorgee dat daar ander groepe in Sirië is wat gekant is teen Assad, maar dit is reeds bekend dat ISIS die enigste “opposisie” verteenwoordig.

Turkye sorg dat die olie wat ISIS in Sirië steel, op die internasionale mark verkoop word. Met dié inkomste, het ISIS tot ‘n gedugte internasionale terreurorganisasie gevorder wat onlangs ‘n Russiese passasiersvliegtuig afgeskiet het, asook ‘n massaslagting in Parys gereël het.

Poetin het lugfoto’s van die ongehinderde ISIS-oliekonvooie by die pasafgelope G20-beraad vertoon en gesê lede van die G-20 steun internasionale terreur.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.