Duitsland genader na plaasmoordverdagtes borg kry

Deel op

Boere van die Kalkrand-omgewing en die gemeenskap van Omamas in Namibië is woedend en geskok nadat die vyf swart verdagtes van die moord op die bejaarde Duitse burger, mnr. Reinhardt Schmidt, Vrydag borgtog van N$5 000 elk gekry het.

Die vyf verdagtes te wete dr. Gerson Kandjii en mnre. Erwin Tjiteer, Domingo Juseus, Stefanus Jarson en Mawapunchila Nakapanda, het in die landdroshof op Kalkrand verskyn nadat hulle vroeg in Maart op klagte van moord en diefstal in hegtenis geneem is.

Landdros Ismael Huanga het nie die redes vir die toekenning van borgtog in die hof gelees nie.

Adjudant-offisier Aloy Haraseb van die Namibiese polisie het gister bevestig dat Kandjii, die Brave Warriors se spandokter wat ‘n ander hangende saak van renosterstropery teen hom het, reeds op vrye voet is nadat hy Saterdag sy borgtog betaal het.

Die ander vier is steeds in aanhouding tot tyd en wyl hulle hul borgtog kan betaal.

“Dit is absoluut onaanvaarbaar dat moordverdagtes borgtog van N$5 000 elk kry. Dit is ondenkbaar. Ek kan nie verstaan dat jy ‘n prys van N$5 000 op iemand se lewe kan plaas nie,” het die ontstelde bestuurder van die Namibië Hoodia-jagplaas, mnr. Derek MacKinnon, gister gesê.

Hy het bygevoeg: “Die regering sal moet ingryp. Hoe kan ‘n moordverdagte dieselfde borgtog as ‘n vermeende veedief kry?”

MacKinnon het gesê Schmidt se familie in Duitsland het Vrydag ‘n brief aan die Duitse ambassadeur in Namibië, mnr. Christian Schlaga, geskryf om hul skok oor die borgtog uit te spreek en te vra of hy met die Namibiese regering kan vergader om hul misnoeë oor die vrylating oor te kan dra.

MacKinnon het gesê hy is ook van plan om ‘n brief van protes aan die ministerie van landbou, water en bosbou te rig.

“Ek sukkel om te glo dat vermeende moordenaars toegelaat kan word om op vrye voet rond loop,” het MacKinnon gesê.

Schmidt is in die oggendure van 26 Februarie en 27 Februarie in sy huis op die Namibië Hoodia-jagplaas in die Omamas-omgewing vermoor. Die verdagtes het glo ook twee vuurwapens, ‘n platskermtelevisie en ander items uit sy huis gesteel.

Van die verdagtes is vasgetrek toe hulle van die gesteelde items verkoop het.

Toe die verdagtes in Maart in hegtenis geneem is, is gespekuleer dat hulle moontlik deel van ‘n sindikaat verantwoordelik vir renosterstropery is en die jagplaas vir ‘n ruk lank dopgehou het. Schmidt was glo van voorneme om renosters tot die wildbevolking van die plaas te voeg.

Bron: Republikein

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.