Belgiese polisie vra Twitter vir katte

Deel op

Die polisie in België het Twittergebruikers gevra om foto’s van katte te twiet ipv inligting oor ‘n uitgebreide anti-terreuroperasie.

Sestien mense is in 22 klopjagte in hegtenis geneem in verband met die beplanning en uitvoering van die Parys-terreuraanvalle.

Die owerhede het ‘n man van medepligtigheid aangekla in die aanvalle in Parys meer as tien dae gelede waarin 130 mense dood is.

Die man is nie geïdentifiseer nie, maar is een van vyf mans wat Sondag tydens klopjagte in hegtenis geneem is.

Vyftien van die mense wat aanvanklik ook vir ondervraging ingeneem is, is vrygelaat.

Salah Abdeslam (26), een van die vermeende baasbreine agter die aanvalle, is nie onder dié wat in hegtenis geneem is nie.

Die polisie vrees dat hy na Brussel teruggekeer het om nuwe aanvalle uit te voer.

Om ‘n aanval soortegelyk aan die een in Parys af te weer, het België die hoogste waaksaamheidsvlak afgekondig, ook in die hoofstad Brussel maar het gesê die metro-stelsel en skole sal Woensdag heropen.

Potensiële teikens blyk inkopiesentrums en openbare vervoer te wees. Die publiek is gevra om plekke soos winkelsentrums, konserte en stasies te vermy waar groot groepe mense gewoonlik byeen is.

België is die hart van die ondersoek na die aanvalle sedert Franse wetstoepassers verklaar het dat twee van die selfmoordbommers daar gewoon het.

Abdeslam, wat ’n kroeg in die woonbuurt Molenbeek bestuur het, ontwyk die polisie sedert die aanvalle in Parys verlede Vrydag. Molenbeek is ‘n put van anti-wit haat en ontoeganklik vir Belgiese wetstoepassers.

Sy ouer broer, Brahim, het homself opgeblaas by een van die restaurante wat geteiken is.

“Wat ons vrees, is ’n aanval soortgelyk aan die een in Parys, met verskeie individue wat moontlik verskeie aanvalle gelyktydig in verskillende plekke van stapel kan stuur,” het Charles Michel, premier van België, Sondagaand op ’n mediakonferensie gesê.

Die polisie het kort daarna met die klopjagte begin. Hulle het toegeslaan op 19 persele in Brussel en drie in die nywerheidstad Charleroi, 50 km suid van Brussel.

Eric van der Sypt, aanklaer, het egter Maandag verklaar dat geen wapens of ploftoestelle gevind is nie. ’n Regter sou die klagtes teen die 16 aangehoudenes intussen hersien.

“Abdeslam Salah is nie gedurende die klopjagte opgespoor nie,” het Van der Sypt gesê.

Drie mense is tot dusver in België weens hul beweerde betrokkenheid by die Parys-aanvalle aangekla. Volgens die Franse owerhede is die aanvalle in België gereël.

Die EU het Vrydag ooreengekom om hervormings aan die paspoort-vrye Schengen-sone te oorweeg.

Frankryk het intussen ‘n verbod op openbare byeenkomste tot 30 November verleng ter voorbereiding vir die VN se beraad oor klimaatverandering wat dan in Parys begin.

Jan Jambon, Belgiese minister van binnelandse sake, het aan die uitsaaier VRT gesê Abdeslam is nie die enigste veiligheids­bedreiging nie.

“Dit is ’n bedreiging wat verder as net een mens strek.

“Ons kyk na meer (mense). Daarom het ons so ’n konsentrasie van hulpbronne gereed,” het hy gesê.

Streng veiligheidsmaatreëls word tans in Brussel toegepas. Die munisipaliteit, heelwat winkels en skole sal Dinsdag ook gesluit bly. Sommige ondernemings het hul werknemers toestemming gegee om van die huis af te werk.

Die hoofkantore van die Europese Unie en die Noord-Atlantiese Verdragsorganisasie, NAVO, is in Brussel.

Die moltreinstelsel in Brussel, die Belgiese hoofstad, is Saterdag gesluit omdat die owerheid ‘n terreurbedreiging vermoed.

België het ná ‘n vergadering met die polisie, ministers en veiligheidsdienste, sy gereedheidsvlak in die hoofstad tot die hoogste vlak – vlak 4 – verhoog.

Sekuriteit is ook by lughawens in die land verskerp.

Die stad se geskiedkundige “Grand Place”, wat gewoonlik vol toeriste is, was stil met slegs enkelinge wat op straat te siene was terwyl gepantserde voertuie voor die indrukwekkende stadsaal geparkeer was.

Die menseslagting in Parys het die Europese Unie (EU) op sy hoede uit vrees dat ekstremiste wat deur die sogenaamde Islamitiese Staat-groep (ISIS) geïnspireer is, vrylik binne die Unie se paspoort-vrye Schengen-sone kan beweeg.

Hulle het die afgelope weke honderde mense regoor die wêreld vermoor.

In Madrid is ondersteuners van Saterdag se El Clasico-sokkerwedstryd tussen Real Madrid en Barcelona deur snuffelhonde, berede polisie en eindelose identiteitsdeursoekings begroet.

Die Verenigde Nasies se Veiligheidsraad het Vrydag eenparig ’n resolusie aanvaar “om alle nodige maatreëls te tref” om ISIS te beveg.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.