Die Noordwes-Universiteit wag op terugvoer vanaf die minister van Hoër Onderwys en Opleiding, Blade Nzimande, rakende die bedrag wat die universiteit sal ontvang om op te maak vir die 0%-verhoging in studentegelde volgende jaar.
Dit is volgens die universiteit se Louis Jacobs, wat ook byvoeg dat die NWU-raad reeds voorberei het vir verskeie scenario’s.
Jacobs sê planne sal verseker dat die universiteit die situasie kan hanteer sonder om akademiese uitnemendheid te benadeel.
Jacobs sê die 0%-verhoging, ’n uitvloeisel van die #FeesMustFall betogings vroeër vanjaar deur studente oor die land heen, het ’n impak van sowat R178 miljoen op die NWU se begroting.