Sportiewe alternatiewe van Alfa en Ford

Deel op

In die wêreld van motors is daar soveel opsies in elke segment en kopers kan kies en keur tussen byna enige tipe voertuig vir watter geleentheid of omstandighede ook al.

Ons het na vier sportiewe alternatiewe gaan kyk.

Alfa Romeo Giulietta 1750 TBi QV

Eenkeer ‘n Alfa-aanhanger altyd ‘n Alfa-aanhanger. Alfa Romeo het ‘n baie ryk motorsportgeskiedenis en is een van die wêreld se invloedrykste motorvervaardigers. Alfa Romeo het oor die afgelope 105 jaar vele legendariese motors vervaardig. Van die GT Junior van 1965 en die Montreal van 1970 tot by die GTV6 van 1980 en die Spider en 8C wat deur ‘n Maserati-enjin aangedryf was in 2008. Die motors is nie net skaars nie, maar is Jan Alleman se eksotiese rygoed. Ja ‘n BMW is beter aanmekaar gesit en ‘n Porsche is vinniger, maar niemand in die hele wêreld kan die Alfa-tradisie, asook die gevoel en eksklusiwiteit van ‘n Alfa naboots nie. Elke Alfa voel soos ‘n Alfa en laat die bestuurder voel dat hy ‘n regte Alfa bestuur. Hedendaagse Alfas is glad nie meer so swak aanmekaar gesit as Alfas van gister nie; die Italiaanse rygoed het baie beter bougehalte, lek nie meer olie nie en is so naby as wat kan kom aan enige Duitse wa wat kwaliteit en rygerief aanbetref. Tog weet jy dat jy agter die stuur van ‘n Alfa sit wanneer jy in enige van die nuwe Alfas inskuif. Ons toetsmotor was die heel vinnigste passasiers-Alfa wat in Suid-Afrika beskikbaar is, die Giulietta 1750 TBi. Hierdie motor is ‘n luikrugmotor wat met ander luikrugte soos die VW Golf en Ford Focus meeding, maar in die TBi-gewaad is daar net een Golf, die GTi, en een Focus, die ST wat hier sal kan kers vashou.

Voorkoms

Alfa Giuletta van agter
Alfa Giuletta van agter

Soos met alle vorige Alfas is die Giuletta ook byna ‘n kunswerk. Die lyne is skerp en doelgerig met funksionele luginlate en skorte en kurwes op al die regte plekke. Hierdie vyfdeurluikrug vertoon soos ‘n driedeur met agterste deurhandvatsels wat in die c-pilaar versteek is. Groot allooi wiele met ronde gate sodat die remknypers wat tipies Italiaans rooi geverf is, mooi raakgesien kan word, rond die motor se voorkoms mooi af. Byna vanuit elke hoek is die Giulietta onmiskenbaar Alfa Romeo. Klein ronde agterligte wat met ‘n skerp punt na die middel loop en die Giulietta-kenteken wat byna soos die handtekening van ‘n skilder op ‘n skildery pryk reg in die middel van die agterste luikdeur reg onder die groot ronde Alfa Romeo-kenteken. Twee groot aggresiewe uitlaatpype in die hoeke van die motor se agterkant rond die agterkant mooi af. Die motor lyk beslis vinnig en sportief al staan hy doodstil geparkeer.

Binneruim

Alfa Giulietta-instrumentepaneel
Alfa Giulietta-instrumentepaneel
Alfa Giulietta DNA-skakelaar
Alfa Giulietta DNA-skakelaar

Die Giulietta is nie vreeslik ruim nie, daar is genoeg spasie vir vyf insittendes, maar vier mense sou eintlik baie gemakliker in die Alfa kon rondrits. Alles is solied en van ‘n goeie gehalte leer en harde plastiek gemaak. Sou ‘n mens die binneruim met dié van die Ford Focus vergelyk, is die Alfa baie minimalisties uitgerus, met net die nodigste knoppies en skakelaars. Die sitplekke is laag in die motor en die rondomvisie van die Giulietta was vir my wat effens langer is bietjie ongemaklik, maar dit is juis hierdie aspekte wat van ‘n Alfa ‘n Alfa maak. Daar skort niks met die Giulietta se toerusting nie, alles van togbeheer tot bloutande vir jou foon en self navigasie is standaard. Die sitplekke is verbasend groot en gemaklik. Daar is ook ‘n effense retrogevoel binne die motor met die paneelbord wat soos in die sewentigs ‘n harde bakkleurstrook dwars oor die hele lengte van die instrumentepaneel het. Daar word ook soos in alle moderne Alfas van retroskakelaars gebruik gemaak en die DNA-skakelaar langs die ratkierie is seker een van die heel mooiste en funkioneelste skakelaars in die motor. Hierdie skakelaar is letterlik D (Dynamic) N (Natural) A (All weather) gemerk en dit verander die karakter van die motor heeltemal wanneer jy daardie skakelaar verstel.

Enjin

Alfa Giulietta-bagasieruim
Alfa Giulietta-bagasieruim

Die Giulietta TBi is toegerus met Alfa se 1,7 liter-turbo-enjin wat ook diens doen in die 4C-sportmotor. Die viersilinderenjin lewer 177 KW en 340 Nm se wringkrag. Dit beteken dat hierdie Alfa van rus tot by 100km/u in slegs 6 sekondes kan versnel. Hierdie Alfa se asem raak eers by 244Km/u op en met ‘n brandstofverbruiksyfer van 7,1 l/100km is hy nog ekonomies ook. Wat ons egter die meeste verbaas het, is die gevoel wat die motor jou onder erge versnelling gee. Hy doen dit sonder enige drama of moeite. Daar is geen sprake van wieltol of wringstuur of turbotraagheid nie. Dit is asof daar nie ‘n turbo in die motor is nie; hy voel eintlik by lae snelhede te pap en stadig tot jy na die spoedmeter loer en besef dat jy lankal by die spoedgrens verby is. Die enjin is superglad en gekoppel aan die 6-spoed- outomatiese ratkas is die ratskakelings ook glad en sekuur sonder enige rukke. Die Alfa loop werklik soos ‘n stoomtrein.

Ford Focus ST3

Ford Focus ST
Ford Focus ST

Die Focus ST3 is op hierdie oomblik die vlagskip- Focus-model in die reeks. Ford het van dag een af met die eerste Focus ST die wêreld aan die praat gehad met die motor se hantering en rygerief.

Bakwerk

Ford Focus ST3-instrumentepaneel
Ford Focus ST3-instrumentepaneel

Die nuwe Ford Focus ST se bakwerk is anders as die Alfa nog meer in jou gesig met sterk sportiewe lyne en groot laeprofielwiele en ‘n groot drukvlerk agter een van die motors wat hard en duidelik sportiwiteit skeeu. Daar is absoluut niks sags en pikants aan die Ford nie. Anders as met die Alfa wat alles stylvol en dinge bietjie in toom hou, is die nuwe Ford Focus ST in jou gesig oor sy vermoëns. Die motor is mooi met sterk ontwerplyne en egte Ford-kenmerke soos die Aston Martin-tipe sierrooster tussen die voorligte. Ons toetsmotor was nog in ‘n “Stealth”-grys kleur ook getooi wat die sterk lyne nog meer beklemtoon het.

Binneruim

Ford Focus ST3-uitlaatpype
Ford Focus ST3-uitlaatpype

Fords se binneruime was nog altyd een van die gemaklikste plekke waar jy jou kon bevind. In die ST is dit ook glad nie anders nie; daar is vir seker meer spasie as in die Alfa en die sitplek is baie kleiner en meer smuk as in die Alfa met Ricarro-sportsitplekke wat hoë skouers het, was die sit in die Ford baie meer doelgerig as in die Alfa. Die instrumentepaneel is besaai met knoppies, elk met ‘n funskie en die uitleg en instrumente is tipies Ford: groot en duidelik. Bougehalte is ook uitstaande, met leer- en en alluminiuminsetsels orals. Werklik ‘n aangename plek om te wees. Rondomsigbaarheid is baie beter as in die Alfa en been- en laairuimte ook heelwat beter. Agter in die Focus sou drie volwassenes ook heelwat gemakliker kon pendel en om in en uit die Ford te kom, is vir lang ouens soos ek baie meer gemaklik.

Enjin

ecaro Sport-sitplekke van Ford Focus ST3
Recaro Sport-sitplekke van Ford Focus ST3

Die Ford Focus ST is toegerus met ‘n 2-literturbo-enjin wat 184 KW lewer en 360 Nm se wringkrag. Die enjin is gekoppel aan ‘n 6-spoedhandratkas wat ratskakeling baie akkuraat en glad maak. Dit is juis hierdie aspek van die ST waarvan ons nie gehou het nie. Jy sien die ST is beskikbaar in twee weergawes in Suid Afrika: die ST1 en die ST3. Nou, die ST3 is die een wat ons onder hande gehad het; hy is so bietjie luukser toegerus met leersitplekke, klimaatbeheer en ‘n beter klankstelsel, maar ons dink juis omdat die motor soveel krag het en so luuks is, moes hy met ‘n outomatiese ratkas toegerus gewees het. Dit sou die ritgehalte veral in verkeer en teen laer snelhede heelwat verbeter het. Ek het dit werklik as ‘n ongemaklike ervaring met moeite ervaar om die Focus ST bedees te bestuur. Die onderstel is na my mening heeltemal te hard, die krag is heeltemal te veel vir die voorwiele om te hanteer en omdat die motor so vinnig is, sou jy heeltemal te maklik in ‘n sloot langs die snelweg kon beland met hierdie motor. In die Alfa kon jy sonder moeite versnel tot waar jy wil, met die Ford moet jy vashou aan daardie stuurwiel en hard konsentreer om die ratskakeling presies op die regte tyd te doen en dan weer klou vir ‘n vale want die voorwiele voel asof dit aanhoudend tol, die wringstuur laat die motor baie onstabiel voel veral onder harde vesnelling en die hele motor het net nie so vas op die pad gevoel soos byvoorbeeld die vorige generasie ST nie. Die Fordjie kan van rus tot 100km/u versnel in 6,5 sekondes en sou eers by 248km/u uit asem uit raak, maar ek sou lankal voor daardie spoed handdoek ingooi oor hoe die motor voel as ‘n mens dit sou waag.

Brandstofverbruik word deur Ford aangegee as 6,8 l/100km maar ons kon nie onder 8/100km aanteken nie.

Prys

Ford Focus ST-bagasieruim
Ford Focus ST-bagasieruim

Gesien in die lig daarvan dat hierdie twee motors in die selfde kryt baklei, maar die Alfa Giulietta na ons mening heelwat meer eksklusief is, dink ons die Alfa is baie goeie waarde vir geld. Dit is nou nie dat ons dink enige van die twee of enige motor in Suid Afrika goeie waarde vir geld is nie. Na ons mening is alle motors plaaslik heeltemal te duur. Die Alfa Romeo Giulietta 1750 TBi QV verkoop teen R432 900 en die Ford Focus ST3 teen R421 900. Die Alfa bied ‘n 3-jaar- 100 000km-waarborg en motorplan terwyl die Ford ‘n 4-jaar- 120 000km-waarborg en ‘n 4-jaar- 80 000-diensplan insluit.

Waar sou ek my eie geld spandeer as ek moes kies tussen hierdie twee? Waarskynlik op die Alfa!

Alfa Romeo Giulietta 1750 TBi QV

Prys 3 uit 5
Voorkoms buite 5 uit 5
Binneruimgehalte en afwerking 4 uit 5
Ruimte en praktiese toepassing 3 uit 5
Agter die stuur 4 uit 5
Enjin en ratkas 5 uit 5
Op die pad 4 uit 5
Veiligheid 5 uit 5
Totaal 33 uit 40

Ford Focus ST3

Prys 3 uit 5
Voorkoms buite 3 uit 5
Binneruimgehalte en afwerking 4 uit 5
Ruimte en praktiese toepassing 5 uit 5
Agter die stuur 3 uit 5
Enjin en ratkas 4 uit 5
Op die pad 4 uit 5
Veiligheid 5 uit 5
Totaal 31 uit 40

 

 

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.