John White: James de Villiers het ‘n wanbegrip oor Afrikaans en ‘inklusiwiteit’

Die artikel op Netwerk24 “Maak Afrikaans vry” waarin James de Villiers, ondervoorsitter van die Stellenbosse studenteraad Engels as akademiese taal bepleit, verwys. Ek is as medestudent werklik teleurgesteld in jou poging om die aanslag op Afrikaans, onder die dekmantel van “inklusiwiteit”, te reduseer tot “paranoia” en dit nog boonop te regverdig in die lig van “transformasie”.

Die reusehoeveelheid denkfoute en onwaarhede in jou artikel maak dit vir my onmoontlik om op alles te reageer.

Eerstens was ek geskok toe jy na Afrikaans as ‘n “minderheidstaal” verwys het. Is dit dan hoegenaamd moontlik dat iemand in jou posisie nie bewus is van die feit dat Afrikaans die tweede mees gesproke taal in Suid-Afrika is nie?

Matthews Phosa skryf op die 9de November:

“In short‚ the results from the 2011 census indicated that Afrikaans is spoken at home by 13‚5 percent of the population‚ second only to the 22‚7 percent of the population that speak isiZulu at home.”

Nie net is Afrikaans ‘n meerderheidstaal in dié land nie – Afrikaans is ook tans een van die nege internasionale tale ter wêreld!

Jy skryf:

“Afrikaans sterf nie as gevolg van instellings wat dit nie meer beskerm nie; dit sterf omdat dit ’n taal is wat vir die massas onaantreklik word.”

Jy praat van “massas” asof jy die ANC-doktrine dat die “massas” meer regte as minderhede behoort te geniet, ondersteun. Jou sienswyse bepaal dat daar in ons demokrasie altyd na die “massas” se pype gedans moet word en dat hulle tog nooit ontstel of bedreig moet word nie. As ‘n blanke of kleurling, moet jy doodeenvoudig aanvaar dat enige gebaar, of volgens jou selfs die teenwoordigheid van jou taal, eers deur die “massas” goedgekeur moet word. Dit is ‘n ware selfmoordresep vir enige minderheid.

“Want sien, toe apartheid val en Afrikaans sy beskermde status verloor, het Afrikaners nie net tralies gebou om hulle van die ‘swart gevaar’ te beskerm nie, maar Afrikaans het ook tussen hom en sy naaste mure opgerig.”

Ek sien dat jy mooi geleer is dat apartheid altyd ‘n lekker stok is om Afrikaans mee te slaan. Ek aanvaar dat jy nie die terme “Afrikaanses” en “Afrikaners” verwar nie, aangesien die meerderheid Afrikaanses bruin is en nie eers Afrikaners is nie. Dit is ook ‘n vreemde groep mense wat in 1992 in ‘n referendum “ja” stem vir integrasie, met die wete dat hul taal sy “beskermde status” sal verloor, maar dan summier daarna “tralies bou” om hulle te beskerm teen die einste “swart gevaar” met wie hulle d.m.v. hul “ja”-stem wou integreer?

Jou paradoksale siening poog dus bloot om Afrikaans op bedrieglike wyse aan rassisme te koppel.

Jy skryf verder:

“In plaas daarvan dat Afrikaans gehelp het om brûe te bou, ander tale te bevorder en aan Suid-Afrika te timmer, het vele Afrikaners verkies om eerder rugby te kyk, vleis te braai en oor ons politiek te kla.”

Weereens is dit onverstaanbaar dat jy “Afrikaans” en “Afrikaners” as een entiteit in een sin gebruik. Baie kleurlingmense en swartmense is tog ook Afrikaans?

Dit is ook ironies dat jy noem dat Afrikaans (of bedoel jy Afrikaners?) nie “brûe help bou” nie en “ander tale bevorder nie”. Dit is trouens ‘n lagwekkende siening.

Dit is Afrikaners wat ‘n 1992-referendum tot stand gebring het om ‘n brug te bou tussen die ou en nuwe bedeling. Dit is Afrikaners wat die nuwe grondwet geskryf het en daarna die ANC se vuilwerk gedoen het, vandag Nelson Mandela se nalatenskap lewendig hou (dink aan Zelda le Grange en meelopers) en heeltyd “jammer” bly prewel oor hul witheid. Dit was toevallig ook Afrikaners wat Afrika-tale soos Xhosa en Zoeloe op skrif gestel het sodat hulle insgelykse woordeboeke en geskrewe stories kon geniet.

Verder skryf jy oor “ons” wat “ongemaklik” geraak het met ander kulture. Ek wil graag noem dat wanneer jy praat van “ons”, jy kwalik namens ‘n groot groep jong Afrikaners praat.

As Afrikaner is ek heel gemaklik daarmee om mense van ander kulture in my dorp, kerk of selfs koshuiskamer te verwelkom. Ek word wel ongemaklik wanneer daardie selfde mense aan my voorskryf oor hoe ek moet omgaan met my kultuur en erfenis, en white privilege opper wanneer ek sukses bereik. Of wanneer diegene mense soos ek uitvloek en verneder wanneer laasgenoemde poog om eersgenoemde se gemors skoon te maak.

Dit is ook ooglopend dat jy die enorme white privilege-denkfout maak.

James, witmense is nie kapitaalryk a.g.v. white privilege nie. Witmense is privileged a.g.v. hul kapitaalrykdom wat hul deur harde werk oor dekades opgebou het.

White privilege is ‘n mite wat effektief aangewend word om mense soos ek en jy te laat twyfel aan die meriete van ons sukses, om ons en ons ouers as’t ware van ons verdiende erkenning te beroof en te laat verstaan dat alles waarvoor ons gewerk het op onregverdige wyse verkry is. White privilege is derhalwe ‘n bedrieglike sinoniem vir harde werk, toewyding en vooruitstrewendheid, en trek ons aandag af van die werklike bevoorregdes – die “massas” waarvan jy so praat. Dit is tog hulle wat met veel laer matriekpunte as minderheidsleerlinge keuring tot kursusse en koshuise geniet? Dit is tog hulle wat eksklusiewe beurse losslaan deurdat maatskappye weier om beurse aan wit studente toe te ken omdat hulle ‘n gunstige BEE-telling najaag?

Wanneer jy die stelling dat witmense “makliker as ander rasse werk kry en ’n mate van veiligheid in Suid-Afrika ervaar” uiter, wil ek eerstens vir jou vra wat hierdie mening met die taal Afrikaans te make het? Jy kon nie genoeg skietgoed opper om Afrikaans swart te smeer nie, en toe dwaal jou artikel geriefliksheidhalwe af na die onderwerp van white privilege en die kapitaalrykdom van witmense? Dit is werklik ‘n lae hou.

Die feit dat witmense makliker werk kry as ander kan, soos kapitaalrykdom, ook toegeskryf word aan die feit dat witmense geweldige vooruitstrewendheid ervaar het in die verlede en dat hul steeds baat by die spoedige proses van nywerheidsontwikkeling wat hulle destyds van stapel gestuur het.

Dit is nie witmense se skuld dat daar ‘n werkloosheidsprobleem en armoede in Afrika is nie. Alles behalwe.

“En nou, wanneer Suid-Afrika transformeer, wonder ons hoekom Suid-Afrika ons nie wil saamneem nie.”

Jy praat van transformasie by universiteite en dat dit ons (ek neem aan jy praat van ons voorouers) eie skuld is, maar as dit nie vir die “ons”, waarna jy so neerhalend veryws, was nie, was daar nie vandag universiteite om te transformeer nie. Dit is die polities onkorrekte waarheid wat mense soos jy nie wil aanvaar nie.

Daarom is ek gekant teen transformasie. Al ooit gewonder wat sou gebeur as Suid-Afrika ophou om te transformeer, en begin om te bou? Suid-Afrika moet Engelse universiteite en Zoeloe- en Xhosa-universitiete bou, nie Afrikaanse universiteite “transformeer” en hul van hul taal en kultuur stroop nie.

Terloops, waarom beskou jy “ons” en “Suid-Afrika” as apart, en impliseer jy boonop dat dit ‘n onverdiende vergunning sou wees as “Suid-Afrika ons saamneem”? Ons is deel van Suid-Afrika, James, self al wil sommige mense jou indoktrineer om te glo dat ons “wit setlaars” is.

“Al wat dit vra, is dat ons eerste in Engels moet praat sodat almal verstaan. Is dit regtig te veel gevra? Ja, dit neem ’n bietjie van ons white privilege weg, maar wil ons ten koste van ander studente eksklusiwiteit behou?”

James, dit is vir my onverstaanbaar dat mense wat hoegenaamd nie Afrikaans verstaan nie, by die Universiteit van Stellenbosch aansoek doen. Daar is twee top Engelse universiteite in die Wes-Kaap waar daar nie ‘n enkele Afrikaanse woord gerep word nie.
Weereens aanvaar jy ook doodeenvoudig dat alle Afrikaanssprekendes wit is. Daar is baie bruinmense wat uit suiwer Afrikaanse gemeenskappe kom, wat nie by die beoogde taalbeleid sal kan aanpas nie. Wat het nou geword van daardie mooi woord, “inklusief”, waarmee mense soos jy transformasie propageer?

Beteken “inklusief” dat in ‘n meerderheid Afrikaanse provinsie, Engels as hoofvoertaal by die laaste deels Afrikaanse universiteit in die land aanvaar moet word, terwyl daar reeds ‘n klomp suiwer Engelse universiteite in die land is? Dit is kwalik inklusief – dit is ‘n poging om Afrikaans finaal by universiteite in Suid-Afrika te ontwortel en jy behoort dit te besef. Jy is ook duidelik naïef as jy glo dat daar slegs “eerste in Engels gepraat gaan word”. As dit maar so was!

“As Afrikaans sê dat hy omgee, hoe kan hy dink dat dit regverdig is dat studente nie in koshuise kan deelneem nie omdat die kommunikasietaal hulle nie insluit nie? Hoe kan Afrikaans sê hy gun almal hul plek indien my mede-Matie druip omdat sy nie die klasse verstaan nie?”

James, die kommunikasietaal van die universiteit is sekerlik bekend aan diegene wat aansoek doen by die universiteit? Iemand wat nie Engels kan verstaan nie, sal tog nie UCT toe gaan en daar eis dat die kommunikasietaal verander nie?
Terloops, Afrikaans is nie ‘n mens nie, en kan dus nie “sê dat hy omgee” nie.

Dit bekommer my dat iemand in jou hoë posisie slegs die geluide eggo wat die ekstreemlinkse Blade Nzimande en sy meelopers maak oor Afrikaans. Jy het duidelik ‘n wanpersepsie oor wat inklusiwiteit behels en behoort verder te kyk as Stellenbosch. Inklusiwiteit beteken nie dat ‘n universiteit vir almal toeganklik moet wees nie (dit is onmoontlik), maar dat elke landsburger binne die grense van Suid-Afrika in ‘n taal kan studeer wat hy/sy akademies kan verstaan. Dit is hoekom daar baie Engelse universiteite is vir diegene wat Engels as huistaal en tweede taal praat. Daar moet egter ook voorsiening gemaak word vir die 7,1 miljoen mense wat Afrikaans as huistaal praat, en die 10,3 miljoen mense wat dit as ‘n tweede taal praat. Daarom is een deels Afrikaanse universiteit allermins onbillik en “eksklusief”.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.