Die Austalies gebore Eddie Jones wat die Stormers in 2016 sou afrig, is vrygestel van die pos om vir Stuart Lancaster as die Engelse nasionale rugby afrigter ta vervang. Die Engelse rugbyunie het die Stormers sowat R2,1 miljoen betaal vir Jones se dienste.
Jones wat wêreldwyd beskou word as een van die mees ontortodokse afrigters, het met die pas afgelope rugbywêreldbeker weer sy staal gewys toe sy span, Japan, die magtige Springbokke in een van die rondtewedstryde ten aanskoue van die wêreld effens afgestof het. Dit was seker een van die grootste rugbyverrasings van alle tye en dan een wat ons en alle Springbokondersteuners baie gou sal wil vergeet. Jones was ook Jake White se regterhand tydens die Springbokke se tweede wêreldbekeroorwinning in 2007.
Alle rugbyoë sal vandag op Engeland gerig wees waar na verwagting die aankondiging dat Eddie Jones die nuwe Engelse afrigter is waarskynlik binne enkele ure gemaak gaan word. Dit sal die eerste keer in die geskiedenis wees dat Engeland ‘n oorsese afrigter aanstel.
Wie sal nou nee sê vir die klomp ponde wat na jou kant toe gaan kom as jy so ‘n aanbod van die wêreld se rykste rugbyunie ontvang?