Eksamens is vir die res van die week by die Tshwane Universiteit van Tegnologie se Soshanguave-kampus afgestel na gewelddadige studente oproer.
Polisie het 16 oproeriges weens die geweld Dinsdag in hegtenis geneem.
Universiteitsbestuur sê die skade aan eiendom is aansienlik na ‘n paar geboue aan die brand gesteek is en ander gevandaliseer is Dinsdagnag.
‘n Veiligheidswag is steeds in ‘n kritieke toestand in die hospitaal na ‘n aanval deur ‘n skare studente.
Eksamens is ontwrig toe studente weer op ‘n plundertog gegaan het en hul vernielsug die oorhand gekry het. Die hoofpad is met klippe, rotse en selfs ‘n straatlamppaal afgesper.
Polisie was gevegte met studente betrokke en moes rubberkoeëls teen klipgooiers inspan.
Studenteleiers eis dat diegene wat in hegtenis geneem is, vrygelaat word en dat daar aan hul eise voldoen word.
Dit sluit in dat skuld opgehef word, sekuriteitskommer aangespreek word, meer NSFAS-befondsing en gratis onderwys vir almal.
Voorsitter van Sasco vir Gauteng, Sthembiso Ndlouvo, het gesê hulle eise is eenvoudig.
“Hoe kan ons eksamen skryf as ons nie eens weet of ons ons resultate gaan kry as gevolg van uitstaande skuld nie?”
TUT-bestuur het gesê hulle het die besluit om die eksamen op te skort vir een kampus geneem, maar eksamens sal voortgaan op sy ander kampusse.