‘Bedrog keer dat Boko Haram verslaan word’

Deel op

Wapens is nie aan Nigeriese soldate voorsien om teen Boko Haram te veg nie en duisende mense het gesterf weens wydverspreide bedrog in die proses van militêre aankope, sê president Muhammadu Buhari.

Buhari het gelas dat almal ­betrokke by die korrupsie aan die pen moet ry. Dit volg nadat die staatshoof ’n verslag van ’n komitee ontvang het wat dié bedrog moes ondersoek, het AFP berig.

“Die bevindinge wat dusver gemaak is, is uiters kommerwekkend inaggenome dat ons troepe ten tyde van die gebeure teen ­insurgente in die noordooste geveg het en desperaat militêre platforms, toerusting en ­ammunisie benodig het,” het Buhari gesê.

Geld is volgens Buhari, ’n afgetrede generaal, gekanaliseer na maatskappye wat nie hul kon­trakte kon uitvoer nie. Hy het in Mei aan bewind gekom met die belofte om Islamitiese rebelle te vernietig wat sedert 2009 reeds vir sowat 17 000 sterftes verantwoordelik was.

Nigerië het een van die grootste verdedigingsbegrotings in Afrika.

Die komitee ondersoek bedrog en korrupsie vanaf 2007 tot op hede. Volgens Buhari is talle onwettige en onderduimse transaksies reeds blootgelê.

Van US$5,3 miljard wat aan nasionale veiligheid en die weermag toegestaan was, is baie min glo gebruik vir aankope. Uit ’n totaal van 513 kontrakte het 53 misluk.

Na bewering het die land se voormalige veiligheidsadviseur, mnr. Sambo Dusaki (’n voormalige kolonel), US$2 miljard betaal vir vier Alpha vegvliegtuie, 12 helikopters en bomme en ammunisie wat nooit gelewer is nie.

Hy het glo ook US$132 miljoen en sowat tien miljoen euro laat oorplaas na bankrekeninge in Wes-­Afrika, Brittanje en die VSA sonder stawende dokumente.

Dusaki is reeds van geldwassery aangekla, maar ontken alle aan­tygings teen hom.

Die Nigeriese weermag het intussen ‘n plakkaat uitgereik waarop honderd vermeende jihadiste van Boko Haram uitgebeeld word.

Die groep se leier, Abubakar Shekau vorm die middelpunt van die plakkaat. Dit is die eerste keer dat die weermag soveel foto’s van Boko Haram-lede publiseer.

Die weermag het klaarblyklik die gesigte van propogandamateriaal verkry.

Vyf mense waaronder twee vroulike selfmoordbomaanvallers is dood na twee ontploffings in Kano in die noorde van Nigerië.

Inwoners sê die een bom het binne ‘n besige mark afgegaan en die ander een net buite. Die jongste aanval volg ‘n dag na ‘n ontploffing by ‘n groentemark in die noordoostelike stad van Yola. Boko Haram is glo vir dié aanval verantwoordelik.

Meer as 30 mense is dood in die ontploffing in Yola. Verskeie mense is ook beseer in die ontploffing by ‘n besige mark.

Dit is die derde noodlottige bomaanval in die stad die afgelope jaar. Die jongste ontploffing volg nadat die Nigeriese president, Muhammadu Buhari, die stad die naweek besoek en verklaar het dat die stryd teen die terreurgroep, Boko Haram bykans gewen is.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.