SA stuur nog troepe na DRK na 50 dros

Deel op

Sowat 500 soldate van die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag vertrek eersdaags vir twaalf maande na die ontstuimige Republiek van die Kongo.

Die soldate sal na hul bestemming vlieg met VN-huurvlugte. Selepe het gesê die gebruik van VN-huurvlugte is nie as gevolg van ‘n gebrek aan kapasiteit in die SANW nie.

“Dit is ‘n verantwoordelikheid van die Verenigde Nasies om lede na eksterne bedrywighede te vervoer,” het hy gesê.

“Selfs die soladte wat terug huis toe kom sal teruggebring word deur die VN,” het hy bygevoeg.

Norman Yengeni het tydens die oorhandiging van welwillendheidspakkies by De Brug buite Bloemfontein, aan soldate wat op pad is na die DRK, gesê dissipline is belangrik.

Hy sê soldate wat by die weermag aansluit verstaan dat ontplooiing deel van hul take is en dat lewensverlies soms onvermydelik is.

Yengeni sê die veilige terugkeer van soldate gaan gepaard met dissipline, geluk en die genade van God.

In September is sowat 50 SANW-soldate van die VN-sending in die DRK voor die krygshof gedaag.

Die groep het na bewering gedros in die ooste van die DRK waar hulle gestasioneer was, het brigadier-generaal Xolani Mabanga vroeër aan ANA gesê.

Omdat die Verenigde Nasies oor hul lot besluit, moes die SANW aan VN toestemming vra om hulle te onttrek uit die ontplooiingsgebied.

Die SANW het ongeveer 900 troepe gestasioneer in die ooste van die DRK as deel van Monusco se sending.

Suid-Afrika handhaaf ‘n konstante teenwoordigheid in die mineraalryke DRK al sedert 1999.

Intussen het die Verenigde Nasies gesê minstens veertien vroue is tydens een voorval in September deur Kongolese soldate verkrag.

Die VN sê dit is die grootste voorkoms van seksuele geweld deur Kongolese soldate. ‘n Voorlopige ondersoek wat in ‘n verslag vervat is, toon die seksuele geweld het tydens ‘n weermagoperasie teen ‘n militêre groep in die ooste van die land plaasgevind.

Die gebied is berug vir hoë syfers van seksuele geweld deur beide gewapende magte en regeringsoldate. Nog inligting word ingesamel met die hoop op ‘n hofsaak.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.