Babelse verwarring oor Vrystaatse beurtwater

Deel op

Vrystaters moet hulself gereed maak vir beurtwater wat enige tyd dié week ingestel kan word.

Die LUR vir Polisie, Paaie en Vervoer en die voorsitter van die provinsiale gesamentlike bedryfskomitee oor droogte, Butana Komphela, het gister aan OFM-nuus gesê beurtwater kan in die volgende vier dae oor die provinsie heen ‘n werklikheid word.

Dié departement se woordvoerder, Hillary Mophethe, kon nie vandag bevestig of beurtwater al vanaand vanaf 21:00 tot môre 06:00 sal geld nie.

Sy sê wel die regering sal môre ‘n mediaverklaring rakende die kwessie uitreik om verwarring uit die weg te ruim, nadat sekere mediaberigte vandag aangedui het dat Vrystaters reeds vannag droë krane gaan hê. Sy sê Komphela is tans in die buiteland.

Intussen sê die LUR vir Koöperatiewe Regering en Tradisionele Sake, Olly Mlamleli, slegs die Moqhaka-munisipaliteit wat Kroonstad, Steynsrus en Viljoenskroon insluit, pas reeds beurtwater toe.

Mlamleli sê sy stel tans vas wat die situasie in elke munisipaliteit in die provinsie is. Inwoners moet ingelig word alvorens beurtwater ingestel kan word.

Komphela het gister beklemtoon die provinsie ondervind ’n groot waterkrisis weens die knellende droogte. Intussen kan inwoners van Bloemfontein die volgende 36 uur gerus wees dat daar water in hul krane sal wees, terwyl Bloemwater vandag met onderhoudswerk aan ‘n hoofpyplyn begin het.

Dit kom ná ‘n kennisgewing van Bloemwater waarin aangedui word dat daar geen watertoevoer vanaf die Welbedachtdam na Bloemfontein se reservoir gaan wees nie weens die herstelwerk. Daar is egter genoeg watervoorraad beskikbaar vir huishoudelike gebruik.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.