Terroriste gebruik moontlik Sony Playstation 4 om te kommunikeer

Die terroriste van Islamitiese Staat en ander terreurgroepe gebruik moontlik Sony Playstation 4 en ander speletjiekonsoles om te kommunikeer. Dit het aan die lig gekom uit ‘n stelling van Jan Jambon, die Belgiese minister van binnelandse sake, tydens ‘n video-onderhoud met Politico. Daarin verklaar hy: “Die moeilikste kommunikasie tussen dié terroriste is die Playstation 4. Dis baie, baie moeilik vir ons (veiligheids-)dienste – nie net ons regeringsdienste nie maar internasionale dienste – om kommunikasie via Playstation 4 te ontsyfer.”

\

Volgens Jambon is “Playstation 4 “selfs moeiliker om te volg as Whatsapp”.

Toe Sony Playstation 4 geloods is, was vele mense bekommerd oor gebruikersprivaatheid. Sommige het gevrees dat regeringsdienste die kamerafasiliteit kon gebruik om op mense in hul wonings te spioeneer. Nou blyk dit egter dat die kommunikasie tussen spelers op die konsole egter “‘n veiliger kommunikasiemiddel as selfs versleutelde foonoproepe, teksboodskappe of e-pos” kan wees.

Die wetenskapfiksiewêreld van rekenaarspeletejies waarin werklikheid en fantasie dikwels vermeng word, is reeds met ons want dit blyk verder dat van die grootste spioenasie-agentskappe ter wêreld hulself as aanlynspelers vermom om dop te hou wat tydens speletjies gebeur en wat spelers vir mekaar via aanlynkommunikasiekanale soos “Team Speak” en ander sê. Rekenaarspelers praat of tik teksboodskappe vir mekaar as hulle in spanne teen mekaar meeding, dikwels in oorlogspeletjies waarin fiksionele “terreurgroepe” onder hul opponente mag wees.

Uit dokumente wat in 2013 deur Edward Snowden vrygestel is, het geblyk dat agente van die Amerikaanse NSA en CIA hulle in speletjies soos World of Warcraft “ingegrawe” het om aanlynvergaderings deur terroriste te probeer monitor.

Die probleem van veelvuldige internetkommunikasie is egter oneindig aangesien terroriste wat onder skuilname met mekaar tydens ‘n spelsessie kommunikeer, selfs simbolies met mekaar kan kommunikeer deur bepaalde virtuele teikens aan te val of om vlietend ‘n boodskap op ‘n muur te skryf wat agterna vernietig word. Sulke “nie-verbale kommunikasie” sou feitlik onmoontlik wees om te monitor aangesien veiligheidsdienste beswaarlik die miljoene mense wat daagliks speletjies speel permanent kan dophou.

Die aantal mense wat vir Sony Playstation geregistreer is, is 110 miljoen, waarvan 65 miljoen “aktief” is. Die aanlynspeletjie League of Legends wat algemeen deur Suid-Afrikaanse skoolseuns en studente vanaf gewone rekenaars gespeel word, het aan die begin van verlede jaar reeds oor 67 miljoen spelers beskik, met 27 miljoen deelnemers per dag en ongeveer 7,5 miljoen wat tydens spitstye aanlyn verkeer. Kampioenskappe van dié speletjie word soos rugby- of sokkerwedstryde in stadions gehou met die verloop wat op reuseskerms deur toeskouers gevolg word, asook aanlyntoeskouers wat by die vorige “wêreldkampioenskap” tot 32 miljoen bereik het.

Aangesien die tienmiljoene aanlynspelers self in hul virtuele ruimte “oorlog maak”, sou dit baie moeilik vir enige inligtingsdiens wees om profiele van spelers te versamel wat agterdogtige aanlynstellings maak. Dit maak dit soveel makliker vir lede van terreurgroepe om hul in die virtuele menigte te versteek.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.
  • Chrisjan

    Daar leer ek nou ‘n ding.

  • Rooikop

    HIerdie gaan net lei tot minder vryheid op die internet. ALLE kommunikasie word reeds gemonitor. Ek sien een van die volgende dinge dat anonimiteit ook iets van die verlede gaan wees. So ook die geleentheid om kommentaar te kan lewer soos hier.

  • Kalium_Chloraat

    Mmmm, so wanneer ek Frankryk aanval in “Total War” kan dit lyk asof ek
    ‘n terroris is, d3m, ek sal van Total War ontslae moet raak en Call of
    Duty en veral van Counterstrike Global Offensive en van Company of
    Heroes en…. Ek wonder of die spoke my outydse Risk bordspeletjie ook
    kan monitor en sal my Cluedo bordspeletjie die spoke laat dink dat ek ‘n
    moordenaar is?