Leon Lemmer oor Anton van Niekerk: Kampusgewete en etiekkolos?

Deel op

Anton van Niekerk het onder die opskrif, “Van volksuniversiteit na internasionale speler” (Die Burger, 10 deser, p 9), dit wys geag om die voortreflikhede van die huidige Universiteit Stellenbosch (US) as “internasionale speler” te besing. As oorverligte doen hy dit uiteraard ten koste van die US van weleer, wat hy ‘n “volksuniversiteit” noem. Hy laat hom veral uit oor Afrikaans, ‘n onderwerp waarvan hy liefs moet wegbly as hy hom nie weer ‘n drag slae op die hals wil haal nie.

Hy beweer dat die US van sowel regs as links gekritiseer word. Hierdie “uitgelese professor” beskou homself blykbaar as in die salige middel geposisioneer; iemand wat as belese en besinnende akademikus met onderskeiding die goue middeweg bewandel. “Van regs is daar die voortdurende verwyt dat die US sy vermeende ‘historiese identiteit’ as die ‘uitvoerder van die testament van Jannie Marais’ prysgegee het.” Dit is feitlik net op Praag dat daar vanjaar herhaaldelik pleidooie gelewer is dat die US Marais se skenkings- en stigtingsvoorwaarde moet nakom, te wete dat Afrikaans nie ‘n mindere posisie in vergelyking met Engels mag beklee nie.

Na verloop van ‘n eeu was daar vanjaar geen amptelike erkenning op die US-kampus van Marais se ontsaglike, deurslaggewende en onbaatsugtige finansiële bydrae tot die ontstaan en uitbouing van die US nie. Van Niekerk is veronderstel om ampshalwe in die etiek onderlê te wees. Maar hy opper geen beswaar hoegenaamd teen die doelbewuste miskenning van Marais se voorwaarde nie. Die US-rektor, Wim de Villiers, het vanjaar al herhaaldelik gesê: “Stellenbosch is nie ‘n Afrikaanse universiteit nie.” Ek ervaar hierdie woorde as ‘n doelbewuste en gevoellose belediging van die nagedagtenis van Marais. Is Van Niekerk weens sy oorverligtheid eties so afgestomp dat hy nie kan aanvoel dat hier ‘n skrynende onreg teenoor die voortreflike nalatenskap van Marais gepleeg word nie? Hiervoor is kundige onderlegtheid in etiek nie eens nodig nie. Blote ordentlikheid noop almal met gewetes om aan te voel dat aan die wense van ‘n oorledene voldoen moet word, of as dit absoluut onmoontlik is, redes daarvoor aan te voer pleks van die saak dood te swyg.

Van Niekerk se anti-Marais-gesindheid dui myns insiens op sy anti-Afrikaans-gesindheid, wat deur Pieter Kapp in Maties en Afrikaans (Pretoria: Protea Boekhuis, 2013) geboekstaaf is. As voorsitter van die US se Taalkomitee het Van Niekerk jare lank tot groot nadeel van Afrikaans gefunksioneer, bv deur onderrig in sowel Afrikaans as Engels in dieselfde klas te bepleit; selfs dat sulke gesamentlike klasse “in pas is met die US se tradisie [!] en bedoel is om eerder Afrikaans se toekoms aan die Universiteit te verseker as om dit te ondergrawe” (p 121). Gesamentlike klasse kon enersyds veroorsaak dat die onderrigmateriaal wat aangebied word, gehalveer word en andersyds dat die klasse hoofsaaklik in Engels aangebied word.

Daar is eenstemmigheid dat gesamentlike klasse opvoedkundig die swakste opsie is. Waarom sou Van Niekerk dan ‘n voorstander hiervan wees? Omdat politieke oorwegings by hom, soos by bv Russel Botman, swaarder as akademiese oorwegings weeg. As ANC-aktivis en rektor het Botman “dubbelmedium beklemtoon omdat dit verseker dat wit en swart saam in die klasse sit” (p 205). Na aanleiding van die chaos wat Open Stellenbosch toegelaat is om vanjaar te saai, het die US onderneem om van volgende jaar af afsonderlike klasse in Afrikaans en Engels in kursusse met baie studente in te stel. Aan die Noordwes-Universiteit, op die Potchefstroom-kampus, word dieselfde weg bewandel.

In die praktyk gaan dit beteken dat die blankes die Afrikaansmediumklasse bywoon en die nie-wittes die Engelsmediumklasse. Sodanige apartheid sal nie in die nuwe Suid-Afrika geduld word nie. Hierdie aparte klasse is dus bloot ‘n tussenstadium voordat die Afrikaanse klasse spoedig as ‘n onding afgeskaf word, omdat dit geëtiketteer sal word as iets wat deur diegene wat terugverlang na die verlede gekoester word; natuurlik uitgaande van die valse veronderstelling dat die verlede sonder meer slegter was as wat die hede is.

Reeds in 2005 het Van Niekerk verkondig “dat taal in onderrig minder belangrik is as die kwaliteit van die kennis wat oorgedra word” (p 151). As dit waar sou wees, wonder ‘n mens waarom daar so steen en been gekla word oor Afrikaans wat na bewering mense uitsluit. Die valse veronderstelling is dat Engels niemand uitsluit nie. In werklikheid is dit ‘n drogargument gebaseer op Van Niekerk se anti-Afrikaans-gesindheid. Taal is van die uiterste belang by kennisverwerwing, want dit is die hoofmanier waarop inligtingsoordrag geskied. Van Niekerk kan die waarheid van my stelling toets deur te gaan luister na ‘n gesaghebbende lesing wat in Mandaryns aangebied word en dan vas te stel wat hy wys geword het.

Dit is ‘n voor die hand liggende waarheid dat Afrikaanssprekende studente akademies beter vaar as hulle klasse in Afrikaans aangebied word. Insgelyks vaar Engelssprekende studente akademies beter as hulle klasse in Engels aangebied word. Waarom kies Van Niekerk kant vir Engels al is hy Afrikaanssprekend? Omdat swartes verkies om in Engels te studeer en dit dus vir Van Niekerk polities korrek is om daardie kant te kies. Wat in die akademiese belang van Afrikaanssprekendes is, weeg by Van Niekerk glad nie so swaar soos die belange van die ANC-gedienstige swart massa nie. Aan die argument dat diegene wat Engelsmediumonderrig begeer die talle sodanige universiteite kan bywoon, steur Van Niekerk hom nie, want dit is polities korrek om as oorverligte te verlang dat die US en die dorp Stellenbosch tot verswelgings toe moet verswart en demografies so getrou moontlik die veelgeprese nuwe Suid-Afrika moet weerspieël. Die beeld van ‘n swart en Engelse US is volgens hierdie redenasie oneindig beter as dié van ‘n wit en Afrikaanse US, wat glo swaar dra aan die bagasie van Afrikanernasionalisme en apartheid; uitgaande van die valse veronderstelling dat swart mag en swart nasionalisme heilsaam en blanke mag en Afrikanernasionalisme boos is.

Van Niekerk het in 2010 aangevoer “dat die taal in die opleiding van wetenskaplikes en die oordrag van kennis van minder belang is – dit is die kwaliteit en uitnemendheid van die kennis wat die swaarste moet weeg” (p 209). Van 2005 af (voorlaaste paragraaf hier bo) het Van Niekerk dus niks wyser geword nie. Breyten Breytenbach het in 2010 tereg van Van Niekerk gesê: “Die man weet waaragtig niks van taal nie” (p 204). Vir my is dit duidelik dat Van Niekerk hom veral om politieke redes vir die afskaling van Afrikaans en die bevordering van Engels beywer. Dit is waarskynlik die rede waarom hy in 2007 nie weer as senaatsverteenwoordiger tot die US-raad verkies is nie (p 159). Ek vind dit ironies dat Nico Koopman in sy plek verkies is; ‘n mens wat sy intreerede in Engels gelewer het voor ‘n gehoor wat feitlik uitsluitlik uit Afrikaanssprekendes bestaan het. In albei se hoedanigheid as US-dekaan het sowel Van Niekerk as Koopman onderskeidelik die Artes- en Teologiefakulteit so vinnig moontlik verengels. Naas etniese oorwegings was Koopman se anti-Afrikaansgesindheid waarskynlik deurslaggewend toe Wim de Villiers hom as ‘n US-viserektor aangestel het. Desnieteenstaande ag die Afrikaanse Taalmuseum en -monument dit wys om Koopman as spreker te nooi.

Van links word die US gekritiseer omdat die onderrig wat in Afrikaans aangebied word glo nie inklusief genoeg na die smaak van veral swart studente is nie. Dan gaan Van Niekerk dadelik oor tot ‘n aanval op Hermann Giliomee, wat beweer het dat die US op twee gedagtes hink: verengelsing ter najaging van internasionale aansien en misleiding van Afrikaanssprekendes oor die vooruitsigte van Afrikaans as US-onderrigtaal ten einde hulle steun te behou (Die Burger, 31 Oktober). Die polemiek van Van Niekerk en Giliomee het ‘n geskiedenis. Voorheen het hulle oor die gehalte van Bantoe-onderwys verskil, met Van Niekerk wat beweer het dat daardie onderwys ‘n “groot katastrofe” was (Die Burger, 9 Julie) terwyl Giliomee ‘n meer ewewigtige/gematigde standpunt huldig (Die Burger, 14 Julie). Hierna was Giliomee van mening dat ‘n Afrikaanse instansie hom vir ‘n Afrikaanse universiteit mag beywer (Die Burger, 24 Oktober), terwyl Van Niekerk meen dat dit om “ál ons land se mense” moet gaan (Die Burger, 20 en 27 Oktober), wat die moontlikheid van ‘n nuwe Afrikaanse universiteit sal verongeluk. Ek dink nie ‘n mens sal Van Niekerk daartoe kan beweeg om vir blankes, Afrikaners of Afrikaans in die bres te tree nie. Dit sal sy beeld as oorverligte, waaraan hy so naarstiglik bou, aantas. Van Niekerk bestempel Giliomee se standpunt as “kritiek van regs”, terwyl Giliomee polities seker maar net minder links as Van Niekerk is.

In sy jongste skrywe noem Van Niekerk “die US van die jare sestig tot tagtig … nie ‘n universiteit met beduidende internasionale aansien nie, maar ‘n taamlik geïsoleerde instelling en primêr gebrandmerk as die bakermat en alma mater van apartheidsleiers.” Wie het destyds probeer om die US akademies te isoleer en Afrikaners as boos te brandmerk? Die terroristiese ANC. Desnieteenstaande is aan die US van weleer myns insiens veel hoë akademiese standaarde as aan die huidige US gehandhaaf. Destyds is ‘n A-simbool in alle vakke (of minstens ‘n A-gemiddelde) in matriek van alle studente vir toelating tot mediese studie (MBChB) vereis. Deesdae kan met ‘n C- of selfs D-simbool toelating verkry word, mits die kandidate nie-wit is. Geen wonder dat hierdie US-kwalifikasie, anders as voorheen, tans nie sonder meer in die buiteland erken word nie; aanvullende eksamens word in toenemende mate vereis. Wêreldwyd het die besef posgevat dat die US akademies nie meer is wat hy was nie.

Van Niekerk, daarenteen, bespeur by die huidige US ‘n “strewe na onmiskenbare, internasionaal erkende navorsingsuitmuntendheid.” Daar kan glo nie toegelaat word dat die US “‘n minderwaardige universiteit moes bly bloot ter wille daarvan om ‘n ‘volle Afrikaanse’ aanbod te behou nie.” Van Niekerk beweer waaragtig dat die huidige US “die beste moontlike dosente” wil aanstel en dat dit die soort ding is wat “eenvoudig nie kan plaasvind deur medium van Afrikaans nie.” Wat behels die huidige US se teikengedrewe aanstellingsbeleid? Om ooreenkomstig die wense van die ANC by voorkeur (eintlik: indien enigsins moontlik) swartes en vroue aan te stel. As iemand wat ‘n akademiese pos beklee behoort Van Niekerk te weet dat sowel ras as geslag nie-akademiese faktore is; dat akademiese verdienste (bv formele kwalifikasies, ondervinding, publikasies) van deurslaggewende belang by die aanstelling en bevordering van dosente en navorsers behoort te wees. Pleks van bv ‘n swart dame uit Nigerië met ‘n twyfelagtige akademiese rekord aan te stel, sou dit akademies baie meer sinvol wees om ‘n Afrikanerman met bewese akademiese verdienste aan te stel. Teen laasgenoemde soort mens van akademiese gehalte word blatant gediskrimineer, maar Van Niekerk het nog nooit beswaar teen hierdie skandalige beleid geopper nie.

Omdat die uitgesproke, amptelike US-beleid is om by nie-akademiese voorkeur swartes aan te stel, word dit terselfdertyd ‘n anti-Afrikaansvoorkeur vir Engelsmediumonderrig. Die US slaag tans in elk geval nie daarin om bv Nobelpryswenners of hoogaangeskrewe buitelandse akademici as dosente aan te stel nie. Die US as eentalig Afrikaanse universiteit sou sonder groot probleme sulke uitsonderlike mense (wat hoogstens ‘n klein getal enkellinge sou wees) kon akkommodeer, bv as navorsers, magisterstudieleiers, doktorale promotors en die aanbieders van openbare lesings. Hulle akademies gewenste teenwoordigheid sou ‘n koersvaste US nie verplig het om Afrikaans oorboord te gooi nie. Waarin die huidige ras-, geslags- (dus nie-akademies-) en Engels-gedrewe US slaag, is om hoofsaaklik plaaslike nie-wittes en Afrika-swartes met twyfelagtige akademiese aansien (maar met teoreties moers baie, maar dikwels nie-realiseerbare, akademiese potensiaal) as dosente aan te stel. ‘n Kritiese ontleding van die US se navorsingsuitsette bevestig hierdie bewering.

Hoe onrealisties Van Niekerk se siening van die US is, blyk uit sy volgende sin, wat beoordeel moet word in die lig van die Wim-US se jongste vergryp, op 12 deser, teen Afrikaans. “Die verbeeldingryke pogings van die huidige bestuur, senaat en raad om aan Afrikaans ‘n mededingende plek aan die US te verskaf, sal dalk nie alle mense dadelik oortuig nie.” Inderdaad! Sekerlik nie vir my nie.

Van Niekerk wil Afrikaans nog dieper in die grond boor. Daarom kom hy met hierdie sin: “Om egter van ‘n universiteit as instelling te verwag om sigself eksplisiet daartoe te verbind om ‘n taal te beskerm, is onbillik, omdat dit van die instelling sou verwag om van sy missie, wat akademiese uitmuntendheid is, af te wyk.” In werklikheid is dit Open Stellenbosch wat geëis het dat Afrikaans nie beskerm mag word nie en die US-raad het gedienstig hieraan toegegee. Ek hoop ek het daarin geslaag om aan te toon dat ‘n Afrikaanse universiteit, soos talle nie-Engelse universiteite én die US van weleer, akademies uitmuntend kan wees. Ook dat die US met sy huidige toelatingsbeleid vir studente en sy huidige aanstellings- en bevorderingsbeleid vir dosente nooit werklik akademies uitmuntend sal word nie. ‘n Universiteit kan alleenlik akademies slaag as hy hom kompromisloos deur akademiese oorwegings laat lei. Dit beteken onder meer dat hy nie na die ANC-regering se pype moet dans nie.

Aan die US verloop transformasie in drie fases. Die universiteit is tans entoesiasties in die midde van fase 1 maar het reeds begin om fase 2 te betree.

● Die eerste fase is die opneukfase. Ras en geslag is die faktore wat ‘n deurslaggewende rol by die toelating en beurstoekennings van studente en die aanstelling en bevordering van dosente speel. Ras- en geslagsteikens word meedoënloos nagejaag om van swartes die meerderheid en van vroue die al hoe meer oorweldigende meerderheid te maak.

● In die tweede fase word die akademiese skemer betree. Afrikaans as onderigtaal is dan kwalik meer as ‘n mooi herinnering aan ‘n voortreflike akademiese verlede. Diegene wat om nie-akademiese redes as studente toegelaat is, word nou by voorkeur as dosente aangestel. Die akademiese gehalte van die onderrig daal verder.

● In die derde fase het die akademies nag aangebreek. Studente wat deur substandaarddosente onderrig is, word nou as dosente aangestel. Die akademiese gehalte val tot onder substandaard. Die gevolge van so ‘n onderrigsituasie word deur George Reisman die barbarisering van die samelewing genoem. Ek hoop om volgende naweek oor Reisman se idees te skryf, mits die tragiese gebeure aan die US my nie noop om weer oor die US te skryf nie.

Wanneer fase drie aanbreek, slaap Van Niekerk in die rus van die eeue gesus. Maar anders as met Jannie Marais se wense sal mense soos Wim de Villiers en Anton van Niekerk se transformasie-nalatenskap aan die US voortleef.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.