Breyten Breytenbach: Die diktaat van Open Stellenbosch

Deel op

Dit maak eintlik nie saak hoe die rektor se bestuurspan se aanbeveling of besluit betreffende die Universiteit Stellenbosch se taalbeleid ingeklee, bewimpel of opgedollie word nie.

Dit maak ook geen saak dat dié wat reeds oorgegee het nog praat van ’n beleid wat deur die raad bekragtig moet word nie.

Dis beledigend om te wil voorgee hierdie besluit is geneem (en is waarskynlik al ’n geruime tyd onafwendbaar) met enige sin of begrip van wat ’n universiteit behoort te wees en die waardes wat dit veronderstel is om te inkarneer, of dat dit geneem sou wees met die belange van die studente in gedagte of selfs met die oog op die belange van die land nie.

Dis beledigend en aanstootlik dat “demokrasie” soos ’n vrot vis voorgehou word om die stank van die karkas wat hierdie hele proses is, te probeer verdoesel.

Die beleidsbesluit is geneem deur ’n aantal opportuniste wat geen sin of begrip het van wat ’n taal beteken en dra en verteenwoordig en ontsluit en waar dit vandaan kom nie – énige taal, selfs Engels. En dit is geneem onder druk van ’n groep mense wat in feite ook niks voel vir wat ’n universiteit, énige universiteit, veronderstel is om aan te bied nie.

Daar sou ten minste ’n greintjie eer kon gered word indien die universiteitsowerhede erken dat ’n taal maar net ’n kommunikasiemiddel is, hoe eenvoudiger hoe beter, dat hulle in feite nie omgee vir etiese oorwegings of begrippe soos “geskiedenis” of “meervolkigheid” of “identiteit” of toegang tot kennis, of dat daar enige aanspraak op verantwoordelikheid teenoor die Afrikaans van die bruin meerderheid in die Wes-Kaap is nie.

Dit sou al help indien die universiteitsowerhede rondborstig wou erken dat dit nog altyd deel was van die bestaansvesel van die Universiteit Stellenbosch om die politieke hegemonie van die dag na die mond te praat – en dan die karkas van dom lafhartigheid en sinisme te bewimpel in die kleed van akademiese oorwegings, of finansiële haalbaarheid, of om die onaanvaarbare toe te smeer onder voorwendsels van “bestuur”.

Mens sou byna die beginselvastheid kon bewonder.

Mens sou dit objektief kon bejammer as die jakkalsdraaie van ’n instinktiewe fascisme as dit nie so ’n treurige skouspel was nie.

Nou ja, daar sal seker nie ’n vlag gehys word nie, selfs nie eens die wit vlag nie. Dis nie nodig nie. Maar hierdie Vrydag die dertiende sal onthou word as die dag waarop die onverantwoordelikheid, gemaksugtigheid, domheid en ruggraatloosheid van die universiteitsowerhede vir ’n oomblik in die geskiedenis duidelik was vir almal om te sien, insluitende dié wat nou hul “oorwinning” vier.

Dis ’n skande wat onthou sal word

— Breyten Breytenbach

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.