Obama bel Zuma oor geweld in Burundi

Deel op

‘n Konsep-resolusie wat glo geweld in Burundi wil verhoed, is voorgelê aan die Verenigde Nasies se Veiligheidsraad deur Frankryk.

Frankryk het die mosie Maandag voorgelê om wat hulle bestempel as ‘n dreigende etniese burgeroorlog die hoof te bied, maar Westerse lande het ‘n beperkte ekonomiese belang in Burundi.

China het reeds aangedui dat hulle skenkings van oliemaatskappye aan Burundi soos die van die Britse Surestream sal vervang.

Rusland en ‘n aantal Afrika-lande het aangedui dat hulle nie sanksies teen Burundi se leiers sal steun nie.

Die resolusie wil druk op partye in Burundi plaas om geweld te staak sodat onderhandelinge kan hervat.

Sowat 300 000 mense is in die burgeroorlog in Burundi dood wat in 2006 beëindig is.

President, Jacob Zuma, is intussen in ‘n dringende telefoonoproep van sy Amerikaanse eweknie, Barack Obama, gevra om Anglo-Amerikaanse belange in die streek in ag te neem.

President Pierre Nkurunziza van Burundi het verlede maand nuutverkose lede van die parlement verwelkom nadat hy ingesweer is vir ‘n derde agtereenvolgende termyn.

Die ambassadeurs van Rusland en China het die geleentheid bygewoon, maar geen Westerse diplomate was teenwoordig nie.

Burundi, ‘n land van 10 miljoen mense ingewig tussen Oos- en Sentraal-Afrika, is die nuwe brandpunt tussen Anglo-Amerikaanse en Sino-Russiese belange.

Minstens 240 mense is dood en tienduisende het na buurstate gevlug nadat Nkurunziza in April besluit het om hom vir ‘n derde termyn verkiesbaar te stel. Hy het die verkiesing in Julie gewen.

Die huidige regeringstelsel in Burundi is na 10 jaar se intense onderhandelinge deur Westerse moondhede geskep met die goedkeuring van onder meer Nelson Mandela, maar klaarblyklik pas dit die Weste nie meer nie.

Die Afrika-Unie, die amptelike die borg van die Arusha-ooreenkoms, wat tot vrede in Burundi gelei het, kan nie ingryp nie.

Hulle word gekortwiek deur die kritiese rol wat Burundi tans in AMISOM speel met die vredesoperasie in Somalië.

Burundi het meer as 5000 goed opgeleide troepe beskikbaar gestel vir die operasie.

Na verwagting sal Joseph Kabila, staatshoof van die DRK, Denis Sassou Nguesso van die Kongo en Paul Kagame van Rwanda in onderskeidelik 2016 en 2017 moontlik Burundi se voorbeeld volg wat langer termyne betref.

Kagame is ‘n Amerikaanse Bondgenoot.

Yoweri Museveni van Uganda het drie dekades aan bewind gebly nadat hy weggedoen het met sy eie beperkings op die aantal termyne wat hy mag dien.

MONUSCO, die VN se sending van 20 000 lede in die Demokratiese Republiek van Kongo, se bates en personeel is as een moontlike opsie genoem om in te gryp in Burundi.

Dit sal egter lei tot verdere kritiek teen die VSA, iets wat hulle graag sal wil vermy.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.