Waterkrisis: miljoene mag sterf agv giftige bakterieë in SA se varswater

Deel op

Die droogte en hitte wat Suid-Afrika tans teister, is die minste van die land se waterprobleme, want onlangse gegewens dui daarop dat 75% van die land se varswaterbronne reeds vergiftig is met mikrosistien, bakterieë wat gevorm word wanneer onbehandelde riool in riviere en damme beland. Volgens die waterkenner, dr. Anthony Turton, is dié krisis regstreeks te wyte aan die ANC-bewind se rassistiese vervangingsbeleid waardeur blanke kundiges by die departement van waterwese en by munisipaliteite afgedank of uitgewerk is.

Water wat met mikrosistien besoedel is, kan met kobragif vergelyk word: dit val die mens se senuweestelsel en liggaamlike weefsel, veral die lewer en derms, aan. Dié gevaarlike bakterieë, wat deur blougroen alge afgeskei word, reageer nie op chloorbehandeling of tradisionele watersuiwering nie. Hoewel dit tans verswyg word om nie paniek te veroorsaak nie, is dit heeltemal moontlik dat groot hoeveelhede mikrosistien reeds in Suid-Afrikaanse kraanwater teenwoordig is.

Sedert die ANC aan bewind gekom het, het die vlak van kundigheid by munisipaliteite en veral waterafdelings drasties gedaal. Groot bedrae geld wat vir onderhoud en watersuiwering bestem was, is eenvoudig op groot salarisse vir kaders en duur voertuie uitgegee, terwyl watersuiwering tot laer as derdewêreldvlak verval het. Volgens inligting wat onlangs beskikbaar gestel is, word slegs 26% van die land se rioolafval tans gesuiwer terwyl driekwart onbehandeld in die land se ekostelsel soos riviere en damme beland. Bykans vier miljard liter rou riool vloei daagliks in ons riviere en damme in. Dr. Anthony Turton skryf in sy lang artikel in die Instituut vir Rasseaangeleenthede se tydskrif @Liberty oor die proses van “eutrofisering” waardeur hoë hoeveelhede voedsel vir alge wat deur riool beskikbaar gestel word, die land se waterbronne vernietig:

“Eutrofisering is een van die hoofuitdagings wat die land tans in die gesig staar, want dit beteken dat die water wat potensieel vir ontwikkeling beskikbaar is… in werklikheid nie bestaan nie. Dit is onmoontlik om te bereken hoeveel van die water wat ons gedink het vir ontwikkeling beskikbaar is deur die teenwoordigheid van onbehandelde (of gedeeltelik behandelde) riool verlore is. Maar soos net ‘n klein hoeveelheid olie die gehalte van ‘n groot hoeveelheid water vernietig, het ‘n klein bron van aanhoudende riool dieselfde uitwerking. Tydens die huidige toestand in Suid-Afrika, met 4 miljard liter riool wat elke dag vrygestel word, word ‘n veel groter hoeveelheid potensieel bruikbare water vernietig. Dit is onmoontlik om presies te sê hoe groot die skade is, aangesien die presiese verhouding van ‘n eenheid riool tot ‘n eenheid water wat vernietig word nog nooit gesaghebbend bereken is nie.”

Suid-Afrika, wat ‘n droë land is, se bevolking trek reeds oor die 55 miljoen. Selfs indien water behoorlik gesuiwer is, sou die land se waterbronne reeds onder druk verkeer het. Maar die kombinasie van hoë bevolkingsgroei, oop grense en kaderontplooiing in die regering en munisipaliteite het ‘n omgewings- en menslike ramp geskep wat kenners nou eers begin raaksien.

‘n Varswaterbioloog, dr. William R Harding, skryf in ‘n akademiese tydskrif genaamd Transactions of the Royal Society of South Africa:

“Met ‘n hoeveelheid van 76% van opgegaarde water wat deur eutrofisering geraak word, is [Suid-Afrika] beswaarlik toegerus om die toenemende krisis te verstaan en te bestuur. Daar heers ‘n byna totale gebrek aan strukture, kundigheid en beplanning om die watergehaltekwessies op te los wat gevolglik die beskikbaarheid van daardie waterbronne in reservoirdamme sal verminder”.

Turton, asook ander kenners, is vol lof vir die waterbestuurstelsel wat vóór 1994 in Suid-Afrika van krag was en wat ná Republiekwording onder dr. Verwoerd beslag gekry het. Terwyl die land twintig jaar gelede nog ‘n wêreldleier op die gebied van watersuiwering en -bestuur was, het dit nou verval tot onder die vlak van die meeste onderontwikkelde Afrikalande.

Volgens Turton is dit regstreeks te wyte aan die rassistiese beleid van regstellende aksie of rassevervanging. Soos op ander gebiede, verdring ideologie die werklikheid. Hy kom tot die volgende gevolgtrekking:

“Alle beskikbare gegewens dui daarop dat daar min in Suid-Afrika se watersektor is om optimisties oor te raak. Die vlak van politisering het so hoog geword dat besluitneming nie meer in hidrologiese werklikhede geanker is nie. Ideologie word as oorheersend beskou, met die werklikheid wat slegs as ‘n sekondêre faktor tel. Die ideologiese filters wat opgestel is, maak dit baie moeilik om enige ernstige tegniese beraming oor watergehalte of -bestuur te maak.”

Eutrofisering en dodelike bakterieë soos mikrosistien, veral mikrosistien-LR wat algemeen in vereutrofiseerde damme of mere voorkom, word wêreldwyd as ‘n groot gevaar vir waterstelsels gesien. In ‘n amptelike dokument van die Wêreldgesondheidsorganisie, “Cyanobacterial toxins: Microcystin-LR in Drinking-water”, word daar gewaarsku:

“Mikrosistien-LR is ‘n buitengewoon akute gifstof… Die mikrosistiene is primêr hepatotoksiene. Ná akute blootstelling aan mikrosistien deur binne-aarse inspuiting of indringing deur die buikvlies, geskied ernstige lewerskade, wat deur ‘n versteuring van die lewerselstruktuur gekenmerk word, met ‘n verlies aan sinusoïdale struktuur, toenames in lewergewig vanweë bloeding binne die lewer, hemodinamiese skok, hartversaking en die dood. Ander organe wat aangetas word, sluit die niere en longe in.”

Die hittegolf wat tans in die noorde van die land heers, bevorder insgelyks die groei van mikrosistien aangesien die bykomende hitte meer energie aan die bakterieë verskaf. In koue lande is die gevaar van mikrosistienvergiftiging minder, volgens die Wêreldgesondheidsorganisasie.

 

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.