Beurtwater ingestel

Die munisipaliteit Moqhaka – wat Kroonstad, Steynsrus en Viljoenskroon insluit – het die eerste munisipaliteit geword om beurtwater te implementeer.

Volgens ‘n verklaring deur die munisipaliteit sal water nie deurlopend aan inwoners beskikbaar wees nie en sal hulle daagliks slegs sekere tye water in hul krane te wagte kan wees.

Inwoners word ook nie toegelaat om tuinslange te gebruik om voertuie te was of hul grasperke nat te lei nie, en geen gebruik van besproeiingstelsels sal toegelaat word nie.

Swembadeienaars word ook nie toegelaat om hul swembaddens leeg te maak of te vul nie en die afspuit van harde oppervlaktes is verbode.

Die munisipaliteit het gesê inwoners wat nie gehoor gee aan die beperkings nie kan ‘n maksimum boete van R2 000 of gevangenisstraf ontvang.

Weervoorspellers sê inwoners van die noordelike provinsies kan uiteindelik reën verwag in die komende week.

Dit gaan egter nie genoeg wees om die land se leë damme vol te maak nie.

‘n Waterhulpbrondeskundige sê sowat 4 000 megaliter van onbehandelde of gedeeltelik behandelde riool vloei elke dag in ons damme en die land se riviere.

Dr Anthony Turton sê rioolwater is met mening terug in ons drinkwater omdat die huidige droogte die gehalte van die water in die stelsel aantas.

In ‘n ontleding in die Bulletin van die SA Instituut vir Rasseverhoudinge, sê Turton die gemiddelde waterverbruik in Suid-Afrika, is 235 liter per persoon per dag, sowat 26% hoër as die wêreldwye gemiddeld van 173 liter per dag.

Ongeveer 80% van munisipaliteite se rioolstelsels werk nie en daar is geen ingenieursvernuf teenwoordig om dit te herstel nie.

Gauteng se LUR vir gesondheid Qedani Mahlangu sê wateronderbrekings by die Helen Joseph en Rahima Moosa hospitale is opgelos en daar sal geen verdere ontwrigting wees vir operasies en behandeling nie.

Joburg Water moes inderhaas Woensdag watertenkwaens na die hospitale stuur.

Pasiënte wat dialise moes kry is huistoe gestuur, terwyl operasies gekanselleer of uitgestel is.

Joburg Water moes ook watertenkers na gebiede soos Brixton, Greenside, Coronationville en ander voorstede uitstuur weens waternood.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.