Karel Combrinck: Afrikanerhaat

Hierdie kan saamgelees word met die stuk van dr Sydney Gregan getiteld ‘n Negatiewe toekomsverwagting, asook met dr Roodt se video oor rassisme.

Dis ‘n somber onderwerp wat ‘n mens met huiwering aandurf. Tog is dit ‘n werklikheid wat ons onder die oë moet sien.

Linksdekadentes gaan daagliks tekere oor haat en haatspraak. Soos gebruiklik is hierdie maar weer ‘n hoogs selektiewe aangeleentheid. ‘n Mens mag naamlik nie haat spreek teen swartes en Jode nie, maar teen Afrikaners en wittes in die algemeen kan jy dit maar na hartelus doen.

Dié wat Afrikanerhaat in die wêreld aanstook, het natuurlik allerlei voorwendsels soos dat Afrikaners verantwoordelik was vir die verskriklike apartheidsbeleid, ens. Apartheid is natuurlik lank reeds verby, maar as jy met iemand in Frankryk of in Engeland of in Amerika oor Suid-Afrika praat, is die eerste en enigste ding wat in sy kop kom, apartheid. Want dit bly maar kenmerkend van die meerderheid dat hulle die klok gehoor het en maar net besotlik agterna dros. Amerika het tot in die sestigerjare nog rassesegregasie (apartheid) toegepas en dus is die Amerikaners in dieselfde sin ook verantwoordelik vir die verskriklike ideologie van rassesegregasie.

Duidelik is Afrikanerhaat terug te voer na die Anglo-Boereoorlog. Die Engelse kon dit net nooit verwerk dat ‘n boel gopsgoggas die vermetelheid kon hê om die meerderwaardige Engelse beskawing te verwerp nie. Wat hulle ook nie kon verstaan nie, was dat as hulle meer menslik met ons te werk gegaan het, hulle miskien sonder stamp of stoot van ons Engelse sou kon maak. ‘n Groot gros van ons mense was trouens nog altyd alte gretig om Engels te word. Maar menslikheid is mos net vir swartes bedoel en dus het hulle verkies om ‘n oorlog op ons af te dwing . En, soos dit maar gaan, as jy ‘n oorlog verloor, het jy nie baie vriende nie.

Die oorlog het natuurlik gepaardgegaan met ‘n massa anti-Afrikanerpropaganda, byvoorbeeld oor ons agterlikheid en « boorishness » ; propaganda wat die manier waarop die wêreld ons sien, tot in lengte van dae beduiwel het. En nog steeds duur dit voort.

Deel van die propaganda wat hulle onder meer oor ons die wêreld ingestuur het, is die storie dat Afrikaners sg. Nazi’s of fasciste is. Die storie het sy oorsprong daarin dat sommige leiers van die Nasionale Party gedurende die laaste wêreldoorlog gekant was teen genl Smuts se pro-Britse oorlogspoging teen Duitsland. Die meeste Afrikaners het natuurlik wel deelgeneem aan die Geallieerde kant, maar dit liewer daar gelaat. Feit is dat die helfte van die aardbol in daardie tyd die Duitse oorlogspoging gesteun het. Italië was ‘n militêre diktatuur wat ‘n direkte bondgenoot van Duitsland was en so ook Spanje onder genl Franco. In Frankryk het die Franse regering, onder veldmaarskalk Pétain aktief met die Duitsers saamgewerk. Selfs die Swede het lekker munt geslaan uit die staal wat hulle aan die Nazi’s voorsien het. Vandag word nóg die Italianers, nóg die Spanjaarde, nóg die Franse, nóg die Swede as Nazi’s of fasciste beskryf. Inteendeel beskou hierdie lande en veral die Franse en Swede, ons as Nazi’s en fasciste. Dit was eers nadat die Duitsers die oorlog verloor het dat die Franse skielik ontdek het hulle is nie fasciste nie. Wonderlik hoe mense se koppe werk, of nie werk nie .

Die Engelse wêreldryk was gebou rondom die idee van rasse- en kulturele meerderwaardigheid. In die meeste gebiede waar hulle hul mag uitgebrei het, was dit ten koste van mense wat inderdaad baie minder ontwikkel en minder gekultiveer was as hulle; Indië, Australië, Noord-Amerika en groot gedeeltes van Afrika. Maar in Suid-Afrika was dit ewe skielik ‘n ander prentjie. Hier het hulle te doen gekry met mense wat eksponente by uitstek was van hulle eie Viktoriaanse ideaal : Wit, Christelik, konserwatief, hardwerkend, patrioties, dapper en alles behalwe primitief. En dit het hulle voor die dilemma geplaas van hoe hulle die oorrompeling van hierdie volkie teenoor die wêreld kon regverdig. Hulle kon dit slegs doen deur vir die wêreld te vertel dat hulle hier was om die arme onskuldige swartes teen die wrede, brutale Boors te beskerm.

En dan natuurlik het hulle knaend, gedurende die Anglo-Boereoorlog self, maar ook daarna en tot vandag toe die « minderwaardige » rasse ingespan om die Afrikaner te vernietig.

Soos dit met elke volk op aarde gaan, het ons self ook foute gemaak het. Ons laat dit maar aan ons vyande om ons daarvoor te kruisig. Hulle weet tog so goed hoe om dit te doen.

Afrikaners is reeds vir jare die lieflingshaatobjek van die dekadente linkses. Soos ons weet, is anti-rassisme hulle godsdiens en die Afrikaners is dan nou juis die aartsverteenwoordigers van rassisme. Hulle het dus op « godsdienstige » gronde die reg om ons te haat. Dis as’t ware hulle plig. Voeg daarby dat ons as Afrikaners daarin geslaag het om ‘n moderne, vooruitstrewende staat te skep uit die barre aarde wat ons omring, terwyl die swart massas van Afrika, dikwels in veel meer gunstige omstandighede nie daarin kon slaag nie, dan is die tafel gedek vir ‘n fees van Afrikanerhaat. Ons is naamlik die lewende bewys van die ongeldigheid van hulle ideologie van rassegelykheid. Gaan die veldtog teen Afrikaans aan die universiteite nie juis daarom nie dat die geleentheid van Afrikaners ontneem moet word om te bewys dat hulle beter kan presteer – en dit boonop in Afrikaans nie?

Daar is geen risiko van teenkanting verbonde daaraan om Afrikaners te haat nie . Dit kos niks en jy het die menigte aan jou kant. Jou pad na fatsoenlikheid en eerbaarheid lê oop as jy maar net die Afrikaner verguis. En dis tog so gerieflik om alles wat met die wêreld verkeerd is op iemand te kan projekteer. Die verskynsel is so oud soos die mensdom self. Soek ‘n sondebok. « Kruisig hom, kruisig hom ».

Is daar iets aan die haat teen Afrikaners te doen, veral in die lig daarvan dat baie Afrikaners self lustig aan die haatveldtog meedoen? Waarskynlik nie. Miskien het die pluimsaad reeds te ver gewaai. Ons gaan dit net nie regkry dat die wêreld van ons hou nie. Ons mag dit wel regkry dat hulle weer op ons ag slaan, maar die kanse is skraal. Die wêreld sien ons as ‘n boel rassiste wat hulle verdiende loon gekry het en nou tot die verlede behoort, van die kaart afgevee byna soos die Protestante na die herroeping van die Edik van Nantes. En baie Afrikaners sien dit ook so.

Met die Departement van Inligting het ons ‘n redelik energieke poging aangewend om ons beeld in die wêreld te probeer verbeter, maar die resultaat was dat selfs ons eie mense die Department van Inligting gehaat het en een van P.W Botha se groot begeertes was om die Department te breek sodat hy Connie Mulder kon elimineer as konkurrent en met behulp van die steun van Naspers eerste minister kon word.

Dit lyk asof die tyd nader kom dat die haat teen Afrikaners gaan oorkook. Is die Afrikaner daarop voorbereid? Of het hy ander prioriteite? Watter ander prioritiete kan daar wees as jou fisieke voortbestaan in die weegskaal is? P.W. Botha en F.W. de Klerk het ons veiligheid en ons toekoms aan Nelson Mandela en die ANC verpand. Die prys wat ons vir die ooreenkoms moes betaal, was die oorgawe van ons weermag. Nelson Mandela was as’t ware hulle lewenspolis. En noudat Nelson Mandela dood is, en ons weermag is weg, watter waarborg vir ons veiligheid is daar nou? Ons sit in Dingaan se kraal en ons wapens is buite. Sal ons ooit leer, of is dit nou in elk geval te laat ?

Ons hier op Praag doen wat ons kan om ons boodskap te bring en te waarsku. Alle lof en waardering hiervoor aan dr Roodt. Vir al die redes hierbo genoem, sal Praag ook gehaat word. Dit is egter ‘n bewys daarvan dat ons miskien nie so onbeduidend is soos die gemeenskap van dekadentes wil voorgee nie. Dit lyk of ons tussen twee keuses is : Óf ons stry voort en word daarvoor gehaat, of ons doen niks en word in elk geval uitgeroei. Dis dus duidelik dat niksdoen nie ‘n opsie is nie. Maar vir baie van ons volksgenote is dit wel. Ons sal moet saamleef met die waarheid dat ons grootste struikelblok steeds ander Afrikaners gaan wees. Feite van die lewe.

Mense sal vra: Nou wat is die oplossing? Vanselfsprekend is daar nie ‘n eenvoudige antwoord nie. Dis ook nie seker of dit ons rol is hier op Praag om politieke oplossings aan te bied nie. Ons eerste prioriteit moet wees om die Afrikaners minstens bewus te maak van die haglike situasie waarin hulle verkeer en dat ons voortbestaan as Afrikaners die moeite werd is om voor te veg. As ons daarin kan slaag om die wil te skep om as volk voort te bestaan, het ons reeds ver gevorder.

Daar was al voorstelle om ‘n belastingbetalersparty op die been te bring. Dit klink interessant, maar dit moet nog gedoen word. Ons moet sekerlik ook Afrikanerbesighede skep en dié steun wat reeds bestaan. Dit is in die verlede ook gedoen en het gewerk. Ons koopkrag is een van ons sterkste wapens. Ook moet ons die howe tot die maksimum gebruik om ons regte af te dwing. En dan is daar nog betogings, demonstrasies en optogte waaraan alle Afrikaners moet meedoen. Dis nie die indiwiduele gesigte wat saakmaak nie. Dis die getalle. En stille protes is net geen protes nie.

Uiteindelik bly daar die ideaal van ons eie onafhanklike en vrye grondgebied. Sal ons daarsonder ooit weer werklik ‘n volk kan wees?

En dan die derduisende verarmde Afrikaners in die plakkerskampe: As hulle bloot aan hulle lot oorgelaat word, dan is alles wat ons kwytraak, maar net ydel praatjies. In Desember 1939 is die Reddingsdaadbond onder leiding van ds J.D. Kestell gestig om verarmde Afrikaners weer op die been te help. Hulle slagspreuk was, « ‘n Volk red homself » en dis wat hulle gedoen het. Waarom nie weer nie?

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.