UWK in vlamme: Hoër onderwys gebuk onder skoonmakeropstand

Deel op

Oproeriges het ‘n gebou op die kampus van die Universiteit van die Wes-Kaap in Bellville aan die brand gesteek.

Die oproer het Woensdagoggend begin toe eksamenlokale beset is, en teen Woensdagaand in skermutselinge met die polisie en veiligheidspersoneel op die kampus ontaard.

Dit is die grootste geweldpleging tot dusver in die kampus-onrus wat woed. Die Kaapstadse Brandweer-en Nooddienste is ontbied om verskeie brande te blus.

‘n Koswinkel is geplunder en die hoofkafeteria is in puin gelê in die geweld.

‘n Klavier, snoekertafels, beddens, matrasse, banke is uit koshuisgeboue gedra om brande op die kampus te stook.

Polisielede is met klippe, bakstene en bottels vanuit die koshuise bestook

Die polisie moes uiteindelik skokgranate afvuur om die plunderaars en brandstigters uiteen te jaag.

Die universiteit is genoodsaak om die eksamen tot die eerste Desember uit te stel.

Vyf studente van die UWK is intussen in hegtenis geneem, nadat hulle na bewering ‘n mediese ordonnans aangerand het.

Die man is ernstig beseer en moes na die hospitaal gehaas word nadat studente hom met ‘n brandblusser teen die kop geslaan het.

Die ordonnans is uitgeroep na ‘n koshuis op die Bellville-kampus toe ‘n brandalarm afgegaan het.

‘n Woordvoerder van UWK, Luthando Tyhalibongo sê die vyf was deel van ‘n groep van sowat 15 studente.

‘n Pomp­aksie-haelgeweer van ‘n veiligheidswag is ook deur ‘n groep oproeriges gebuit nadat ‘n groep op hom toegesak het. Twee wagte is vir beenbreuke behandel.

Oproeriges het oral ontwrigting op die kampus veroorsaak en skade aan eiendom aangerig.

Tyrone Pretorius, rektor van die UWK, het Woensdag gesê lede van die skoonmaakpersoneel het ook aan die betoging deelneem. “Dit maak die situasie ingewikkeld.”

Die woordvoerder van die universiteit het het bevestig dat die situasie Woensdag uiters gespanne was en verskeie geboue beskadig is.

Intussen het die visekanselier van die Universiteit van die Vrystaat, Jonathan Jansen skoonmakers Woensdag belowe dat hulle lone verdubbel sal word.

Jansen het gesê die universiteit het ingestem om by te dra tot die lone van die skoonmakers. Die skoonmakers het hoër lone en ‘n einde van uitkontraktering geëis.

Dit is nie duidelik hoe die hoër lone van skoonmakers sal bydra tot “toegang”, “gelykheid” of “hoër gehalte onderrig” nie.

In nog voorvalle van geweld moes die polisie ook skokgranate teen stakende skoonmakers by die parlement afvuur wat verrigtinge by die parlementsgebou ontwrig het.

Die polisie het die hekke na die parlement gesluit en betogers van die trappe af verwyder.

Verskeie betogers is geboei en deur die polisie in vangwaens gelaai. Die stakers het vroeër komiteevergaderings ontwrig en parlementslede kon nie met hul werksaamhede voortgaan nie.

Die skoonmakers eis beter salarisse en pensioenvoordele.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.