Britse premier voer nog ‘n eierdansie uit oor EU

Deel op

Die Europese Unie (EU) moet meer buigsaam wees indien dit Brittanje se kiesers wil oortuig om in die 2017-referendum ten gunste daarvan te stem, het ­premier David Cameron verklaar.

Die Britse premier moet sy kiesers onder die indruk hou dat Brittanje ‘n belangrike vennoot in die EU is wat kan eise stel, terwyl die teendeel waar is.

Die Konserwatiewe Party is diep verdeel oor EU-lidmaatskap en ‘n stemmery sal die einde van Cameron beteken.

Cameron wil Brittanje se bande met die EU “hersien” en sal glo aanstons meer besonderhede oor sy planne verskaf.

Ontleders meen hy het min beweegruimte met die anti-EU-party UKIP wat Konserwatiewe kiesers afrokkel.

“’n Mens kan al my onderhandelinge in een woord ­opsom: buigsaamheid. Is hierdie organisasie buigsaam genoeg om seker te maak dat alle lande in die euro-­sone kan groei en welslae behaal en lande buite die euro-­sone, soos Brittanje, ook kan kry wat hulle wil hê?” het Cameron aan ’n groep sakeleiers gesê.

“Indien dit buigsaam genoeg is, sal ons bly. Indien dit nie buigsaam genoeg is nie, moet ons onsself die vraag afvra: Is hierdie organisasie vir ons?”

Cameron se toespraak is vlugtig onderbreek toe twee hekelaars ’n banier oopgevou het met die bewoording: “CBI – Voice of Brussels”.

Dit wil voorkom asof die protes teen ’n werkgewersgroep se posisie oor EU-­lidmaatskap gegaan het.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.