Moslemkwessie in Mianmar-verkiesing onderspeel

Deel op

Stemme word getel in Mianmar se algemene verkiesing maar geen amptelike uitslae is nog aangekondig nie.

Voorlopige verslae van oral in die land dui op ’n oortuigende oorwinning vir die pro-Amerikaanse Aung San Suu Kyi se Nasionale Liga vir Demokrasie (NLD).

“Ons moet vasstel waarom ons verloor het,” het Htay Oo, ’n bondgenoot van pres. Thein Sein gesê. “Ons aanvaar egter die uitslae sonder enige voorbehoud. Ons weet nog nie met sekerheid wat die finale uitslae is nie.”

Htay Oo sê hy is verbaas met die omvang van sy nederlaag in sy eie parlementêre kiesafdeling in Hinthada in die delta-gebied, wat as die hartland van die USDP se landelike steun beskou is.

’n Woordvoerder van die NLD, Win Htein, sê die aanduidings is dat die party ongeveer 70 persent van die stemme wat tot dusver getel is, verwerf het.

Na verwagting het die party tussen 50 en 80 persent van stemme in Mianmar se 14 state ingepalm.

Hy het aan die nuusagentskap The Associated Press gesê die party se sterkste vertoning is in sogenaamde hartland-state waar dit voorkom asof die party tot soveel as 80 persent van die stemme gekry het.

Die steun neem effens af tot tussen 70 en 50 persent in etniese state.

“Dit is deur die verkiesingskommissie bevestig, maar ons is nog nie seker van die finale syfers nie. Indien hierdie opmerkings deur amptelike uitslae bevestig word, is die aanduidings dat die party onder leiding van Aung San Suu Kyi ’n oortuigende verkiesing-sege behaal het.”

Sy en haar party sal eintlik saam met die generaals wat Mianmar (Burma) in 1962 tydens ’n staatsgreep oorgeneem het, regeer sê ontleders.

Die generaals het tot in 2011 geregeer, waarna hulle die mag aan hul politieke vleuel oorhandig het nadat bewerings van korrupsie aan die lig gekom het.

Mianmar is verdeel in strydende etniese en godsdiensgroepe en die junta het ‘n balans gehandhaaf in ‘n land wat worstel met ‘n “krisis van minderhede”.

Boeddhiste vrees dat Moslems meer invloed in die land sal kry, maar Aung San Suu Kyi het sulke kwellinge onderspeel.

Ten minste 10 miljoen mense kon nie stem nie omdat hulle deel is van ‘n etniese minderheid.

Dit sal nie die eerste keer wees dat die NLD ’n oorwinning behaal nie. In 1990 het die party ook gewen, maar dié oorwinning is deur die generaals ­geïgnoreer.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.