Eksamens verloop vlot sê NWU

Deel op

Eksamens by die Noordwes-Universiteit se Potchefstroom- en Vaaldriehoek-kampusse het reeds begin en verloop sover vlot.

Dit is volgens die universiteit se Louis Jacobs.

Die eksamens by hierdie twee kampusse het op 2 November aanvang geneem nadat dit aanvanklik met een week uitgestel is weens die landwye studentebetogings teen studiegeldverhogins.

Die universiteit het later ‘n interdik bekom om te verseker dat die eksamens nie ontwrig sou word nie.

Tot op hede was daar egter volgens Jacobs nie verdere probleme nie.

Die NWU-raad het intussen volgens berigte die Reform Puk-groep uitgenooi om hul volgende raadsvergadering toe te spreek.

Die bestuur van die Universiteit van Johannesburg se onderhandelinge met betogers het intussen op ‘n dooie punt uitgeloop.

Die bestuur weier om met betogers te vergader totdat hulle respek betoon.

Verlede week is 141 betogers in hegtenis geneem toe geweld uitgebreek het.

Aanklagte teen die betogers en skoonmakers, is Maandag in die Johannesburgse landdroshof laat vaar.

Hulle het egter kort daarna weer opgeruk na die universiteit se Kingsway-kampus en geëis dat die vise-kansellier Ihron Rensburg hulle toespreek.

Die polisie moes skokgranate en traanrook inspan om die skare onder bedwang te hou.

Die adjunk vise-kansellier vir strategiese dienste, Mpho Letlape sê hulle sal eers met betogers vergader sodra orde herstel is.

Sy sê verteenwoordigers het nie Sondag se vergadering bygewoon nie.

Verteenwoordigers van die betogers wil nie agter geslote deure vergader nie, maar eis om in die openbaar met die bestuur te praat.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.