Rou riool vloei deur droogtegeteisterde dorp

Deel op

Die Mohokare-munisipaliteit in die Vrystaat, wat Smithfield en Zastron insluit, word geteister deur rou riool in die waterkanaal wat in Generaal Hertzogstraat in Smithfield ingeloop het.

Munisipale woordvoerder, Lehlonolo Mafatman, sê hoewel die rioolstelsel herstel word, is daar steeds ‘n krisis met lopende water, maar dit sal die week aandag geniet.

Smithfield gaan gebuk onder ‘n algemene watertekort weens die droogte. Riool het die laaste twee weke in die kanaal beland as gevolg van swak bestuur wat nou aan ‘n “blokkasie” toegeskryf word.

Agt plaaslike munisipaliteite in die Vrystaat se drinkwater-voorsieningstelsels het tans dringend aandag nodig.

Die nasionale departement van waterwese en sanitasie sal onverwyld moet ingryp om krisisse soos in Smithfield die hoof te bied.

Minister Nomvula Mokonyane het in antwoord op ‘n vraag in die parlement gesê ‘n lys van 250 plaaslike munisipaliteite landswyd– wat dringende watervoorsieningsprobleme ondervind – is saamgestel.

Verskeie van die dorpe in die Vrystaat wat reeds vir dae sonder water is as gevolg van die knellende droogte en verouderde infrastruktuur, vorm nie deel van die agt munisipaliteite nie.

Vrystaat premier Ace Magashule het die provinsie maande gelede tot rampgebied weens die droogte verklaar.

Mokonyane sê haar departement het begin om inspeksies by munisipaliteite landswyd uit te voer om die omvang van die probleem vas te stel en ‘n taakspan is reeds in sommige provinsies saamgestel om waterprobleme aan te spreek.

Intussen het haar departement ‘n ooreenkoms met die Deense regering gesluit in ‘n poging om die waterkrisis in die land op te los. Sy sê ingevolge die ooreenkoms gaan daar dringend gekyk word na ‘n langtermynoplossing.

Dit is nie duidelik hoe die Denemarke bevoeg is om ‘n droogteprobleem op te los binne die konteks van voortslepende wanbestuur en korrupsie nie.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.