Gustav Venter gister getroud

Deel op

Die Afrikaanse romansier, draaiboekskrywer en joernalis, Gustav Venter, is gister op die plaas Braamhof in die Oos-Vrystaat met Erma Carsten getroud. Die bruilof is deur byna 300 mense bygewoon en die bruid het in ‘n veteraan- Volkswagen Kombi opgedaag.

Gustav se broer, dr. Philip Venter, het al die pad van Louis Trichardt af gekom om die huwelikseremonie waar te neem. Afgesien van enkele ernstiger oomblikke toe Philip oor die vier verskillende woorde vir “liefde” in die Bybel gepreek het, het die huweliksbevestiging hoofsaaklik in ligte luim geskied. Sowel Gustav as Erma was voorheen in hul lewens getroud en gaan nou op Lusthof, wat deel Braamhof is, nesskop in Gustav se bestaande ou huis wat van die tradisionele Oos-Vrystaatse sandsteen gebou is.

Intussen vertrek hulle egter op ‘n wittebroodsreis na ‘n onbekende bestemming. Afgesien van allerlei versnaperinge is heerlike pannekoek met drie verskillende vulsels bedien, wat reg aan dié eg Afrikaanse bruilof laat geskied het.

Gaste het van heinde en verre gekom, vanuit die onmiddellike omgewing van Clarens en Fouriesburg, maar ook vanaf Pretoria en die Rand. Gastehuise in die Clarens-omgewing het goed sake gedoen, met die meeste gaste wat gisteraand oorgeslaap het. Lede van Gustav se peloton uit sy weermagjare was insgelyks teenwoordig, wat tot ‘n groot geskerts oor die bruidegom se sondes tydens sy dienspligjare aanleiding gegee het. Onder andere het Gustav destyds as Ratelbestuurder aan Operasie Askari in Angola deelgeneem.

Gustav het reeds twee e-boeke by PRAAG uitgegee, wat albei binnekort ook in gedrukte formaat sal verskyn: Die amigdala van Alrina Smal en Bodem.

Erma is ‘n boorling van Pretoria wat aan Menloparkhoërskool gematrikuleer en agterna aan Tukkies gestudeer het. Gustav was op Hoërskool Stofberg op Brakpan en het ook aan Tukkies klas geloop, waar hy die bynaam “Prof” gekry het omdat hy soveel boeke gelees het.

Ons wens die splinternuwe egpaar geluk met die groot stap en hoop dat hulle dolgelukkig sal wees in die pragtige vallei omring deur berge net 13 kilometer van Clarens af. In dié verruklike omgewing en met sy pragtige nuwe Muse aan sy sy, verwag ons ook dat Gustav nog veel meer boeke en draaiboeke die lig gaan laat sien. Dat alle Afrikaanse lesers en fliekgangers daarna uitsien, is gewis!

Lees gerus ook Gustav Venter se rubrieke.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.