Leon Lemmer: Standaardtaal en Standaardafrikaans

Deel op

‘n Standaardtaal is, soos die term aandui, ‘n taal wat gestandaardiseer is, dus in ‘n groot mate ‘n vaste vorm het. Daardie vastigheid sluit nie evolusionêre ontwikkeling uit nie. “Vaste vorm” dui op ‘n gestandaardiseerde spelling, woordeskat en grammatika. ‘n Redelike mate van vastigheid sal kwalik in ‘n taal wat net in gesproke vorm bestaan, bereik kan word; des te meer as die taal oor ‘n groot geografiese gebied gepraat word. Die bestaan van ‘n skryftaal toon dat daardie taal ‘n ontwikkelingsgang deurloop het; ‘n gesofistikeerde stadium bereik het. Hoewel die gesproke taal as die lewende en eintlike taal beskou word en die geskrewe taal die voorstelling/konkretisering, bv simbolisering (bv veralfabettering), daarvan is, kan die geskrewe taal op sy beurt die gesproke taal beïnvloed. Daar is in meerdere of mindere mate verskille tussen die gesproke en geskrewe taal. Daardie gaping is geneig om met verloop van tyd groter te word omdat die geskrewe taal periodiek maar dikwels stadig/konserwatief by die gesproke taal aangepas word. Die geskrewe taal kan daarom ‘n stabiliserende of behoudende uitwerking op die gesproke taal hê. Veral in die oorvloedig gedokumenteerde inligtingsera oefen die geskrewe taal oor ‘n groot geografiese area ‘n beduidende standaardiserende invloed op die gesproke taal uit, veral in gesofistikeerde geledere via die massamedia (pers, radio, rolprent, televisie, internet). Selfs die uitspraak kan in groot mate standaardisering ondergaan, veral streeks- maar ook landsgewys, en dan veral in wat as die ontwikkelde, opgevoede of elitistiese geledere beskou word.

Die leiding in die standaardisering van ‘n taal gaan tradisioneel uit van stede as handels- en regeringsentra, bv van die parlement (hoewel die parlementêre taalgebruik in die nuwe Suid-Afrika nie ‘n navolgenswaardige voorbeeld is nie), asook die howe, skole en universiteite. Maar die aanvanklike vaslegging van ‘n taal vind tradisioneel in die ouerhuis plaas en word die moedertaal van die kind genoem. In die parlement verwerf ‘n taal wetlike status en kan dit tot amptelike landstaal verklaar word. ‘n Taalkommissie kan oor die heil van ‘n taal waak. Die werk van taalkundiges kan neerslag in bv woordeboeke vind. Skrywers bestendig en versterk ‘n taal met literatuurprodukte. In hierdie proses kan ‘n taal aanvaarding en selfs populariteit verwerf.

‘n Standaardtaal kan gedefinieer word as “a particular variety of a language that is regarded as the most correct way of writing or speaking the language” (Wiktionary). Die standaardtaal is dus daardie variëteit wat as die korrekste beskou word. Daar is hier sprake van taalvariëteite wat in ‘n rangorde geplaas word (een word beter as die ander beskou) en van ‘n waardebepaling waarvolgens die korrekste variëteit tot die norm, tot die navolgenswaardigste voorbeeld, verhef word. Maar wie se mening is deurslaggewend by die bepaling van die korrekste variëteit? Histories was dit die ontwikkelde, opgevoede of elitistiese komponent van die samelewing wat hulle taalvariëteit tot die standaardtaal verhef en sorg gedra het dat die taal in daardie vorm gestabiliseer en uitgebou word. As ‘n mens hieroor besin, word dit duidelik dat dit kwalik anders kon wees; mense in leidende posisies het bepaal wat rigtinggewend in die samelewing was.

By die aanvang van die nuwe Suid-Afrika het ons ‘n tydperk betree waarin baie van die tradisionele waardes waarop die Westerse en veral Europese beskawing gebou is, nie net ondergrawe word nie, maar doelbewus gestigmatiseer en verwerp word. Die massa, die gepeupel, het die leidinggewende rol van die elite oorgeneem. Dit is nie dat die massa doelbewus ‘n identifiseer- en bereikbare doel nastreef nie. Al wat as rigtingewende kompas funksioneer, is die behae om anders as die vorige bedeling te probeer wees. Dit word transformasie genoem; dus verandering wat nie noodwendig verbetering is nie. Deel van wat teen wil en dank moet verander, is Standaardafrikaans. Omdat die kiesers deesdae hoofsaaklik uit die on(der)ontwikkelde en selfs funksioneel ongeletterde deel van die bevolking kom, word die (veral gesproke) taalvariëteite wat daar aangetref word tot die gewenste nuwe norme verhef. In die nuwe Suid-Afrika het die polities geïnspireerde begeerte dus ontstaan om daardie Afrikaansvariëteite te vertroetel wat by diegene aangetref word wat aan die bedenklikste Afrikaans in die massamedia, bv televisie en die koerant Son, blootgestel is; dus nie die Afrikaans van diegene wat bv literêre en wetenskaplike tekste lees nie.

Die historiese perspektief is dat die opgang of wonder van Afrikaans hoofsaaklik aan blankes te danke is. In daardie geledere het nasionalisme as aanmoediging vir die vinnige ontwikkeling van Afrikaans gedien. Dit is veral duidelik in die aanloop tot en stigting van die Genootskap van Regte Afrikaners (GRA) op 14 Augustus 1875 in die Paarl. In die daaropvolgende eeu is die stabiliseringsproses voltrek en het ons Standaardafrikaans as kosbare kleinood ontvang. Standaardafrikaans het ontstaan in ooreenstemming met hoe standaardtale in die res van die wêreld tot stand gekom het, naamlik elitisties. In die geval van Engels word aanvaar dat cockney, soos aanvanklik gepraat in die ooste van Londen, nie as spoorslag vir Standaardengels kan dien nie. In die chaotiese nuwe Suid-Afrika het ons egter ‘n uiters skadelike mengsel van misplaaste vryheid en buitensporige demokrasie waarin kwalitatiewe verskille deur onrealistiese gelykverklaring ondermyn word. Teoreties almal, maar in die praktyk eintlik die gepeupel, maak aanspraak op eiendomsreg op alles, nie net op al die grond en die minerale onder die grond nie, maar ook op ‘n kulturele produk soos Afrikaans. Hierin word sulke aktiviste gesteun deur taalkundiges wat aanvaarding en selfs gewildheid in die huidige tydsgewrig soek, sonder om noodwendig die ideologiese konteks afdoende te begryp.

By die onlangse Swart Afrikaanse Skrywersimposium aan die Universiteit van Wes-Kaapland is bruin swart genoem en is daar geen poging aangewend om uitdrukking aan die dikwels hooggeprese inklusiwiteit te gee nie. Blankes mag maar uitgesluit voel. As daar ‘n Blanke Afrikaanse Skrywersimposium bedink word, sou die hel los en beskuldigings van die voortsetting van apartheid rondgeslinger gewees het. Pieter Odendaal het ‘n toespraak oor (eintlik teen) Standaardafrikaans gelewer (Rapport, Weekliks, 18 Oktober, p 9). Sy eerste sin is: “Afrikaans was nog nooit ‘n wit taal gewees nie.” Dit is ‘n ontkenning van die mate waarin Afrikaans wel nie net die moedertaal van blankes was en is nie, maar ook van die groot mate waarin Afrikaans die maaksel van Afrikaners is. Daardie eerste sin weerspieël die anti-Afrikanertrant van sy hele betoog. [Odendaal se eerste sin is soortgelyk aan Wim de Villiers se stelling: “Die Universiteit Stellenbosch is nie ‘n Afrikaanse universiteit nie”; ‘n ontkenning van die mate waarin die US Afrikaans was en is en die maaksel van Afrikaners was en is.]

Odendaal het dit teen die standpunt dat die Afrikaans wat blankes praat as norm funksioneer. Dit vervreem glo nie-Afrikaners, maar Standaardafrikaans is in werklikheid in ooreenstemming met die elitisme wat dwarsoor die wêreld as norm vir die standaardtaal geld. “Die standaardisering van Afrikaans is dus onlosmaaklik deel van die uitsluiting van die meerderheid van sy sprekers.” Dit is louter twak. Niemand word uitgesluit nie. Vir elkeen is daar die onbelemmerde geleentheid/moontlikheid om sy taalgebruik tot Standaardafrikaans te verhef. Odendaal se uitgangspunt is egter dat taalstandaarde, soos ander standaarde, in die nuwe Suid-Afrika verlaag moet word. Hy verwys na Neville Alexander se bewering dat bruin skoolkinders beter vaar as hulle vrae in Kaaps pleks van Standaardafrikaans beantwoord. Ons het hier dus weer ‘n poging om Standaardafrikaans ongunstig met die mengeltaal Kaaps te vergelyk.

Kwantiteit word in die nuwe Suid-Afrika verafgod en kwaliteit word onderbeklemtoon of geïgnoreer. Daarom verwys Odendaal vervolgens na die demografie; dat daar meer bruin as wit Afrikaanssprekendes is (as ‘n mens Kaaps-/mengeltaalsprekers byreken) en dat die oorwig van bruin Afrikaanssprekendes gaan toeneem. Dan volg hierdie gevolgtrekking: “As ons aanhou om die meerderheid Afrikaansstudente te dwing om hul opvoeding in Standaardafrikaans te kry, gaan ons aanhou tweedeklas-burgers opvoed.” Hier is die twak tweeledig. Eerstens word bruines nie gedwing om in Afrikaans te studeer nie. Hulle kan vryelik tussen Standaardafrikaans en Standaardengels kies en hel toenemend oor na Engels. Tweedens, deur ‘n bereikbare taalnorm te stel, word sommige nie benadeel of afgegradeer tot tweedeklasburgers nie. Wat Odendaal doen, is pleit vir die afgradering van Standaardafrikaans en nie vir enige aanpassing van Standaardengels nie. Dit is in ooreenstemming met wat kenmerkend van die nuwe Suid-Afrika is: Geen fout word met Engels gevind nie, maar Afrikaans word alewig verdag gemaak en gekritiseer. Etnies is daar ‘n soortgelyke neiging: nie-wittes (veral swartes) word sonder meer as goed en blankes (veral Afrikaners) as sleg voorgehou. As ‘n mens egter objektief na die plaaslike geskiedenis kyk, is dit juis die blankes en veral die Afrikaners wat hulle voortreflik gedra en uitmuntend gepresteer het.

Pieter Odendaal verwys vervolgens na Gerda Odendaal se proefskrif waarin drie redes vir die herstandaardisering van Afrikaans aangevoer word: “[1] Die oormatige vernederlandsing van die taal tydens standaardisering; [2] die miskenning van die Engelse invloed op Afrikaans deur middel van anglisismejag; en [3] die miskenning en uitsluiting van ander variëteite tydens die standaardiseringsproses.” Hier word heelwat doelbewuste misleiding gepleeg om ‘n polities gedrewe saak vir die herstandaardisering van Afrikaans te probeer uitmaak.

  1. Nederlandse invloed word gekritiseer omdat die huidige politieke maghebbers wil hê dat ons almal eerder entoesiasties oor Afrika as oor Europa moet wees. Die GRA het aanvanklik gepoog om heeltemal weg van Nederlands te breek deur ‘n vereenvoudigde fonetiese spelling te propageer. Mettertyd is groter erkenning aan die Nederlandse invloed gegee, wat geblyk het korrek/gepas te wees omdat die spelling toe meer geredelik aanvaar is.
  2. Engelse invloed is nie misken nie. Suiwer taalkundig en histories korrek is eerder aansluiting by Nederlands en Duits gesoek. Anglisismes is vermy ten einde die eie aard van Afrikaans te beskerm en uit te bou. ‘n Mengeltaal is taalkundig en kultureel onvoortreflik. ‘n Onderskeibare etniese groep, soos die Afrikaners, vind kultureel groot baat by ‘n duidelik onderskeibare taal. As ‘n ander etniese groep, soos die bruines, geen behae in kulturele eiesoortigheid en ‘n onderskeibare taal het nie, staan dit hulle sekerlik vry om voorkeur aan ‘n mengeltaal te gee. Maar dit is nie ‘n billike en aanvaarbare argument vir die neerhaal van Afrikaans van onderskeibare, eiesoortige taal tot mengeltaalstatus nie. In elk geval is daar die neiging om Engelse invloed toenemend in Standaardafrikaans toe te laat. Dit is ‘n voorbeeld van taalimperialisme en gebeur eerstens vanweë die ANC-regering is voorliefde vir die koloniale taal, tweedens omdat Engels ‘n wêreldtaal is en derdens weens sommige taalkundiges se ANC-gedienstigheid; Standaardfrikaans word ‘n slagoffer van demokrasie, nasiebou, versoening, ens, gemaak. Maar dit is ook ‘n feit dat Engels op ‘n ongekende, onrusbarende en toenemende mate in die gesproke en geskrewe taal van baie Afrikaanssprekendes ingedring het, veral vanweë die invloed van televisie. Daar word nie afdoende besef dat die minagting van Standaardafrikaans deel is van ‘n volgehoue veldtog om Afrikaners te beledig, verkleineer en verguis nie.
  3. Dit is oordrewe om te beweer dat ander variëteite in Standaardafrikaans misken en uitgesluit word. Ingevolge internasionale gebruik was en is elitistiese Afrikaans die hoofbron van Standaardafrikaans, maar daar was deurgaans en daarby toenemend erkenning van ander variëteite. Daar was en is evolusionêre ontwikkeling; dermate dat revolusionêre herstandaardisering onnodig is. Sodanige herstandaardisering is ook ongewens omdat so ‘n gebeurtenis baie huidige Afrikaanssprekendes sou vervreem; iets wat niemand sou voorstaan wat die heil van Afrikaans op die hart dra nie. In die huidige stryd teen verengelsing moet alles moontlik gedoen word om Afrikaans te bevorder en die taal met sy eiesoortige aard in geen opsig te benadeel nie.

Dit is linkse politieke elemente wat dit teen Standaardafrikaans het. Pieter Odendaal beweer by implikasie dat Standaardafrikaans opvoedkundige voordeel vir blankes het en dat Standaardafrikaans ter benadering van bruines aangewend word. “Die herstandaardisering van Afrikaans het ook ‘n sosiale geregtigheids-dimensie. Hoe kan ons praat van geregtigheid as ons aanhou om ‘n standaard slaafs na te volg wat nie net onverteenwoordigend van die meerderheid sprekers is nie, maar ook aktief dié sprekers uitsluit en misken?” Standaardafrikaans is in werklikheid nie ‘n onveranderlike taal wat slaafs nagevolg word nie. Dit ondergaan evolusionêre verandering. Odendaal se suiwer kwantitatiewe norm is nie sonder meer regverdigbaar nie. Op iedere terrein waar konstruktiewe resultate gelewer word, gaan die leiding van ‘n minderheid uit. Dit is in elk geval hoogs oordrewe om voor te gee dat alle bruin Afrikaanssprekendes Kaaps as voertaal het. Veral plattelandse bruines het nie die probleme met Standaardafrikaans wat Kaapsaktiviste en hulle linkse politieke meelopers daaraan toedig nie. Weereens: daar is by Standaardafrikaans geen aktiewe uitsluiting en miskenning nie. Die aktiviste wat teen Standaardafrikaans ‘n kruistog voer, is chaossaaiers wat dit teen bestaande standaarde het.

“Dit sal ook nie veel help as hierdie voorgestelde herstandaardisering slegs sekere variëteite ten gunste van ander bevoordeel nie. Nee, die standaard moet plek maak vir die breedste spektrum van variëteite – insluiting is die hoofsaak.” Inklusiwiteit, ‘n polities gelaaide term, is die hoofsaak vir Odendaal. Hy verwys na “inklusiewe herstandaardisering” en “‘n meer inklusiewe toekoms vir Afrikaans.” Met hierdie resep kan Standaardafrikaans net so normloos en chaoties soos die nuwe Suid-Afrika word. By taalstandaardisering moet daar noodwendig op grond van uitgangspunte/beginsels gekies word. Die huidige Standaardafrikaans sal as die gevestigde vorm die leeue-aandeel in enige verantwoordelike hergestandaardiseerde Afrikaanspotpourri hê. Die enigste taalkundig-regverdigbare uitgangspunt is dat Standaardafrikaans ‘n duidelik onderskeibare, dus eiesoortige, taal moet bly. Dan word Afrikaans nie tot ‘n mengeltaal afgegradeer nie en word verkaapsing in groot mate voorkom.

Odendaal, wat glad nie uitmunt in oorspronklikheid nie, noem dat Afrikaans as onderrigtaal aan die US as ‘n uitsluitingsmeganisme funksioneer. Herstandaardisering word deur hom voorgehou as ‘n manier om hierdie beweerde onverkwiklike situasie te beredder. My eerlike mening is dat herstandaardisering nie die wanpersepsies oor Afrikaans (beduidend) sal afskaal nie. Afrikaans as sodanig, afgesien van watter vorm dit aanneem, is waarteen beswaar gemaak word.

Met die volgende opmerkings van Pieter Odendaal stem ek saam. “Daar is egter ‘n tendens om bruin Afrikaanssprekers in argumente te misbruik om die voortgesette gebruik van Afrikaans op Stellenbosch te verseker. ‘Afrikaans is ook ‘n bruin taal,’ word gesê. ‘Moenie bruin mense verhoed om tersiêre onderrig in hul moedertaal te ontvang nie.’ Hierdie soort argument word meestal deur die ouer wit garde ingespan in ‘n verhulde poging om hul weergawe van Afrikaans te red en die voortbestaan van hul standaard te verseker.” Dit is verstaanbaar waarom die belange van bruines hier vooropgestel word. Dit is omdat die ANC-regering se gesindheid afsydig, selfs vyandig, teenoor alles is wat in die blankes en veral die Afrikaners se belang is. In werklikheid het sowel blanke as bruin Afrikaanssprekendes behoefte aan ‘n Afrikaanse US, veral in die geval van plattelandse studente. In die praktyk blyk dat blanke studente ‘n groter belang by onderrig in Afrikaans het omdat hulle geneig is om meer Afrikaansgetrou of -lojaal te wees, terwyl baie (moontlik die meeste) bruines veral na die eerste studiejaar voorkeur aan Engels gee. Om hierdie rede is my standpunt dat ‘n mens sonder omhaal van woorde moet sê dat die US Afrikaans moet wees primêr omdat Afrikaners dit so wel hê en dat sommige bruines ook baat hierby vind. Daar is historiese feite wat ook in gedagte gehou moet word: Die Universiteit van Wes-Kaapland was ‘n hoofsaaklik Afrikaanse universiteit vir bruines. Die UWK is getransformeer in ‘n eentalige Engelse universiteit sonder dat daar (veel) protes uit bruin geledere opgeklink het. Daar is nog geen poging uit bruin of enige ander geledere aangewend om die UWK weer Afrikaans te maak nie. Omdat die UWK nie sy Afrikaanssprekende bruin studente gekoester het nie, kan daar kwalik met reg van die US verwag word om nou as entoesiastiese plaasvervanger op te tree. Maar dit is presies wat tydens Russel Botman se bewind om etnies-politieke redes in allesoortreffende mate gedoen is; dus om nie-akademiese redes.

Daar is nog vlieë wat Odendaal wil afvang. “‘n Verdere struikelblok is die verandering van mense se persepsies oor die eiendomlikheid van Afrikaans en die Afrikaanse kultuur. Die historiese miskenning van sekere spraakvorme het ook gepaard gegaan met die miskenning van diverse kulturele gebruike en die wederregtelike toe-eiening van kultuurgoedere as spesifiek ‘Afrikanerbesit’. Dink aan die FAK en al die slaweliedjies daarin vervat. Die fiksie van die Afrikanervolk staan vierkant op die illusie dat Afrikaanse kultuurgoedere slegs aan Afrikaners behoort. Die transformasie van die taal is dus onlosmaaklik deel van die transformasie van persepsies oor Afrikaanse kultuurbesit.” Eienaarskapaanspraak is ‘n ANC-slagspreuk. Dit is vrugteloos om oor die eienaarskap van Afrikaans se redekawel. Nie-wittes het deur Nederlands skeef en krom te praat moontlik ‘n aandeel in die ontstaan van Afrikaans gehad, maar dit is feitlik uitsluitlik blankes wat die taal ontwikkel, gestandaardiseer en amptelike beslag laat kry het. Die beskuldigings oor die miskenning van spraakvorme, kulturele gebruike en die wederregtelike toe-eiening van kultuurgoedere is problematies en heel moontlik vals. Daar is ‘n mate van oorvleueling by wit en bruin kultuur, maar daar is ook duidelike verskille. Odendaal se anti-Afrikaner-ingesteldheid blyk uit sy bewering dat slaweliedjies deur Afrikaners as kultuurbesit gekaap is omdat dit in die FAK se sangbundel opgeneem is. In werklikheid beskou Afrikaners die slawe glad nie as Afrikaners nie. Die aanknopingspunt hier is Afrikaans. Wanneer Afrikaners in hierdie opsig met ‘n poging tot veelgeprese inklusiwiteit vorendag kom, word hulle van “wederregtelike toe-eiening van kultuurgoerdere” beskuldig; dus diefstal. Afrikaners is al meerdere male van die diefstal van Afrikaans beskuldig; dat die taal ‘n uitvinding van die Khoi-San en slawe is. RSG se Magdaleen Kruger verkeer in die waan dat Afrikaans deur Afrikaners gekaap is; dus van die bruines gesteel is. In werklikheid het Afrikaners kultureel en andersins soveel meer as bruines tot stand gebring dat hulle hulle nie tot diefstal hoef te wend nie; moreel sal hulle dit ook nie doen nie. Die onregverdigbare gesindheid wat deur Odendaal en diesulkes geopenbaar word, is sodanig dat Afrikaners nooit eerbaar in hulle oë sal word nie.

Odendaal sluit sy voordrag soos volg af: “Ons het niks minder as ‘n kulturele revolusie nodig nie – ons moet ons wortels herevalueer en ons verknooptheid aan mekaar bevestig. Ons moet hierdie laat geleentheid vir versoening met alles aangryp.” Dit is ironies dat hy van versoening praat nadat hy die hele pad lank gif teen Afrikaners gestrooi het. “Revolusie” dui op waar hy hom ideologies bevind. Daardie wortels wat herevalueer moet word, is historiese wortels. Odendaal kan gerus probeer om objektief die waarde van iedere etniese groep se bydrae te evalueer. Ons mate van “verknooptheid” behoort gebalanseer of aangevul te word met ‘n realistiese besef van groepsverskille, sowel etnies as kultureel.

Waar sal Odendaal se hulp vandaan kom? Van bv ‘n militante ANC-aktivis soos Hein Willemse: “Dit is tyd dat Afrikaans gered word van die Afrikaner-nasionaliste … ‘Dit het as taal baie te bied wat betref maatskaplike kohesie'” (Die Burger, 6 deser, p 4). Vir Afrikaners is Afrikaans onontbeerlik deel van hulle kerngesonde nasionalisme. Beswaardes, potpourri-voorstanders, sal ons nie ontmoedig om Afrikaans, soos voorheen, vir nasionalistiese doeleindes te benut nie.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.