Reddingswerkers in Pakistan het gister 99 mense lewend onder die puin uitgehaal nadat ’n fabriek in die stad Lahore ineengestort het, het AFP berig.
Talle ander fabriekswerkers is vermoedelik steeds onder die puin vasgekeer, met ten minste 18 mense wat gesterf en wie se liggame al verwyder is.
Die gebou het Woensdagaand in duie gestort, waarna die reddingswerkers met die hulp van soldate versigting deur die staal moes sny en hyskrane moes gebruik om die rommel te verwyder sodat hulle by die beseerdes kon kom.
Een van die vasgekeerde werkers het aan SAAMA TV gesê hy lê steeds onder ’n swaar ysterstaaf vasgepen en is baie dors.
Dit is nog nie duidelik hoeveel mense in die gebou was toe dit ineengetuimel het nie, maar reddingswerkers meen dit kan tot soveel as 200 wees.
’n 22-jarige fabriekswerker, Mohammad Navid, het aan AFP gesê die gebou het met ’n harde slag ineengestort en hy het bewusteloos op die grond geval. Toe hy ’n rukkie later sy bewussyn herwin, het hy gehoor hoe mense om hulp roep en skree.
Volgens Navid het kinders van so jonk as 12 jaar in die fabriek gewerk.
Die eens vier verdieping poliëster-fabriek, Rajput Polyester, is in die Sundar-nywerheidsheidsgebied aan die buitewyke van Lahore geleë.
Die vermoede is dat die gebou strukturele skade opgedoen het in die aardbewing op 26 Oktober waarin nagenoeg 400 mense in Pakistan en Afganistan omgekom het.