Skoonmakers sorg vir chaos by UJ

Deel op

Die Studenteraad van die Universiteit van Johannebsurg sê “onafhanklike studente” minag die besluite van die raad deur met betogings aan te hou.

Die rektor, Ihron Rensburg, het die optrede van veiligheidspersoneel verdedig nadat oproer Woensdag uitgebreek het.

Werkers by die instelling beweer hulle word onnodig geviktimiseer omdat hulle wettige eise stel.

Die werkers se “griewe” het skielik opgeduik nadat skoonmakers by die Universiteit van die Witwatersrand sukses gehad het om die kampus te sluit gedurende “studente-opstande”.

Die bestuur sê hulle is daartoe verbind om die uitgekontrakteerde werkers in diens te neem, maar werkers sê hulle word nie ingelig oor besluite nie.

Chaos het Woensdag by die Kingsway-kampus in Auckland Park geheers toe die polisie en veiligheidswagte met betogende studente en werkers slaags geraak het.

Van die betogers, wat vroue insluit, is glo hardhandig hanteer.

Die leier van die Studenteraad, Mmangaliso Mkhonta, sê hulle het begrip vir die werkers se optrede, maar dat betogings tot nadeel van studente is wat vir die eksamen studeer.

Rensburg het bygevoeg dat die instelling sal moet kostes besnoei volgende jaar om te verseker dat die boeke klop nadat die ANC aangekondig het dat fooie nie verhoog sal word nie.

“Dit is in die orde van R60 miljoen. Kostebesnoeiingsmaatreëls sal oorweeg word vir reis, funksies en vermaak, kapitaalbesteding vir items onder R15 000 en prestasiebonusse. Alle pogings sal aangewend word om te verseker dat die sleutelbedrywighede, akademies en andersins, hou by die vlakke wat aan verwagtings voldoen.”

Skoonmakers het gesê die protes sal aanhou omdat werkers die bestuur wil dwing om ‘n einde te maak aan uitkontraktering.

Die Universiteit van Wes-Kaapland sê veiligheidsmaatreëls sal verskerp word wanneer die eksamen Maandag begin.

Die eksamen is verlede week vir die tweede keer uitgestel weens gewelddadige studentebetogings.

‘n Woordvoerder van die universiteit, Luthando Tyhalibongo sê sommige studente ontvang trauma-berading, terwyl ander van die kampus af verskuif is sodat hulle kan voorberei vir die eksamen sonder intimidasie.

Die Universiteit van Kaapstad het aangekondig dat sy finale eksamen Dinsdag sal begin en tot 27 November sal duur.

Die eksamen sou aanvanklik op 27 Oktober begin het, maar is uitgestel weens die geweld en intimidasie op die kampus.

Die universiteit sê voorgraadse studente in Gesondheidswetenskappe sal reeds Maandag begin eksamen skryf. Studente sal ook ‘n keuse hê om eerder hul eksamen in Januarie af te lê.

Die eksamen by die Universiteit Stellenbosch het reeds begin.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.