VSA maak gereed om Russiese vliegtuie af te skiet in Sirië

Deel op

Die Amerikaanse president Barack Obama het die ontplooiing van duisende lede van die Amerikaanse spesiale magte in Sirië verdedig.

Dit is glo om opposisiegroepe te help in die stryd teen die Islamitiese Staat (ISIS), en nie ’n verbreking van sy belofte om nie by die Siriese konflik betrokke te raak nie, het Obama gesê.

“Hou in gedagte dat ons reeds met spesiale operasionele bedrywighede besig is. Hierdie is dus net ’n voortsetting van wat ons doen,” het Obama in ’n onderhoud op NBC Nightly News gesê in sy eerste openbare onderhoud sedert die ontplooiing verlede week Vrydag plaasgevind het.

“Ons plaas nie Amerikaanse troepe in die frontlinies om teen die ISIS te veg nie,” het Obama gesê.

“Ek was deurgaans konsekwent dat ons nie soos in Irak met bataljonne en besettings gaan veg nie,” het die Amerikaanse president geskerm.

Die ontplooiing van troepe vir die Amerikaanse sending in Sirië ná meer as ’n jaar se beperkte lugaanvalle teen ISIS, dui daarop dat die VSA hul bate in Sirië, ISIS, wil beskerm eerder as wil elimineer.

Twee jaar gelede het Obama die moontlikheid van Amerikaanse infanterie in Sirië uitgesluit, maar die Amerikaanse militêre besluit om duisende Siriese “rebelle” te bewapen en op te lei, was ‘n volslae mislukking, nadat die “rebelle” by ISIS aangesluit het.

Rusland en Iran se militêre ondersteuning van die Siriese president, Basjar al-Assad, in sy stryd teen ISIS, het Obama in ‘n onbenydenswaardige posisie geplaas.

Die Amerikaanse lugmag het intussen ook ‘n dosyn vegvliegtuie wat spesialiseer in lug-tot-lug aanvalle na Sirië gestuur.

Amptelik, is die ontplooiing van F-15C Eagle tweemotorige vegvliegtuie by Incirlik, Turkye, bedoel om “die veiligheid te verseker” van Amerika se NAVO-bondgenote, het Laura Seal, ‘n verdedigingswoordvoerder, aan The Daily Beast gesê.

Dié ontplooiing het wenkbroue laat lig, want die VSA dring daarop aan dat sy magte teen ISIS ontplooi word, maar ISIS het geen vliegtuie van sy eie nie.
 
Die F-15s sal die eerste Amerikaanse vegvliegtuie in die streek wees wat streng lug-tot-lugaanavlle uitvoer en hul vlieëniers is opgelei om uitsluitlik vyandelike vegvliegtuie af te skiet.

Dit is opmerklik dat F-15Cs nooit ontplooi is in Afghanistan nie, en hulle het ook nooit deelgeneem in die VSA-geleide besetting van Irak nie.

Ontleders meen dié ontplooiing is dus gemik teen Russiese vliegtuie wat aanvalle op ISIS uitvoer.

ISIS beset Sirië se belangrikste waterbron, naamlik die Eufraatrivier.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.