Karel Combrinck: Afkophoenders

Deel op

Dit is vandag, op enkele weke na, dertig jaar gelede dat P.W. Botha in Augustus 1985 sy beroemde of berugte « Rubicon »-toespraak voor die NP koukus in Durban gelewer het. Die toespraak is met skarrelende oorywer, ‘n mens kan byna sê, paniekbevangenheid, in opdrag van Pik Botha deur Suid-Afrikaanse ambassades wêreldwyd vooraf bekendgemaak. Sou dit wees dat Pik Botha ‘n heel ander toespraak verwag het as wat PW inderdaad gelewer het ? Wat meer as duidelik is, is dat daar ‘n volslae gaping was tussen wat PW beoog het om in sy toespraak te sê en wat Pik Botha se afkophoenderdepartment in die buiteland aangekondig het.

Die Rubicon is ‘n riviertjie in Noord-Italië met ‘n besondere historiese betekenis. In die tyd van Julius Caesar en Gnaeus Pompeius is die Romeinse ryk geregeer deur ‘n konsulaat, d.w .s. ‘n regering deur twee konsuls waarvan die een (Julius Caesar) beheer gehad het oor die gebiede oorkant die Alpe (Gallië of Frankryk vandag) en die ander een (Gnaeus Pompeius) oor die gebied duskant die Alpe, d.w.s. Rome , of dan, Italië . Die skeiding tussen die twee gebiede was die riviertjie, die Rubicon. Indien enige van die twee konsuls die Rubicon met ‘n leër sou oorsteek, sou dit onmiddellik burgeroorlog beteken . Julius Caesar het juis dít gedoen in 49 V.C. en ‘n sesjarige burgeroorlog was die gevolg .

In die tyd van die Romeinse burgeroorlog het die riviertjie dus reeds ‘n heel besondere simboliese en politieke betekenis gehad en hierdie simboliese betekenis word sedertdien algemeen in die politiek gebruik om ‘n waterskeidingsgebeurtenis van besondere belang aan te dui.

So was dit dan ook met P.W Botha se « Rubicon »-toespraak. Of so moes dit gewees het . Dit is terloops tipies van Pik Botha se teatrale styl om die toespraak as ‘n « Rubicon » te beskryf en dit ly geen twyfel nie dat die beskrywing van hom afkomstig is. Hierdie toespraak sou dus na verwagting ‘n heel nuwe bedeling in die Suid-Afrikaanse politiek inlui, met afskaffing van « apartheidsmaatreëls », wettiging van verbode partye, medeseggenskap in die landsbestuur deur swartes, stemreg en die joos weet wat nog. Die wêreldpers en openbare mening is dus as’t ware deur Pik se departement op ‘n gereedheidsgrondslag geplaas om hierdie epogmakende beleidsverklaring te ontvang.

Maar, daar speel PW toe glad nie saam nie en lewer een van die klassieke vingerswaaiende en dunliptoesprake waarvoor hy so bekend was en waarin omtrent alles en almal met die banvloek gedreig is. Die gevolg was dat die vooraf publisiteit deur Pik Botha se departement die buitelandse regerings, meningsvormers en die media voorberei het op presies die teenoorgestelde van wat PW in sy toespraak sou sê. ‘n Misverstand? Amateuragtigheid? Oëverblindery? Hoe dit ook al sy, hierdie toespraak, met die vooraf gejuig van Pik Botha se departement, was die doodsklok vir blanke regering in Suid-Afrika.

Wat het PW Botha besiel om die toespraak te maak? Wat was Pik Botha se oogmerk met die histeriese propagandasirkus vooraf? Die monumentale amateuragtigheid en onbeholpenheid van die hele operasie laat die vraag onstaan of daar dalk ‘n bedekte motief daaragter kon gewees het. Wat Pik Botha betref, was dit sekerlik moontlik, selfs waarskynlik dat hy PW in ‘n hoek sou wou druk sodat hy geen beweegruimte sou hê om enigiets anders te sê as wat Pik van hom verwag het nie. Pik se strategie was steeds om buitelandse druk te gebruik ten einde die proses van oorgawe in Suid-Afrika te versnel. Dis te betwyfel of PW self tot dié soort subtiliteit in staat was.

Hierdie was natuurlik nie die Nasionale Party se eerste halfgebakte operasie nie. Inteendeel lê die Nasionale Party se pad besaai met onbesonnenhede wat ons oneindige skade berokken het. Dink maar aan die tragikomiese « inval » in die Seychelle op 25 November 1981. En dan natuurlik die laaste en finale debakel, die kleitrappery by die « onderhandelinge » met die ANC waar die ANC-afgevaardigedes openlik vir die NP-« onderhandelaars » gelag het. Maar in daardie stadium was die Nasionale Party-regering so terminaal dekadent dat hulle waarskynlik oor die ANC se gelag gevlei gevoel het: minstens kon hulle darem daarin geslaag om ‘n reaksie uit te lok. Miskien was hulle aandag toe reeds gevestig op die eerste die beste geleentheid om die ANC se voete te kan was.

Die gevolge van hierdie Rubicon-fiasko was onberekenbaar. Nie lank na die toespraak nie het die « konserwatiewe » Republikeinse senator, Richard Lugar, in die Amerikaanse senaat ‘n verdoemende toespraak gelewer waarin hy die Suid-Afikaanse regering en sy beleid vermorsel het en waarmee hy die tapyt finaal onder President Reagan se voete uitgeruk het. President Reagan het tot op daardie oomblik nog konsekwent sy veto teen enige anti-Suid-Afrikaanse sanksies gebruik.

Spoedig na die « Rubicon »-debakel het Amerikaanse sanksies gevolg, met die gepaardgaande ineenstorting van die rand. Minder as ‘n jaar later is die Comprehensive Anti-Apartheid Act deur die Amerikaanse kongres aangeneem. En daarna het gevolg « swart ekonomiese bemagtiging » en uiteindelik gewoon « swart bemagtiging », met ander woorde, ANC-regering in Suid-Afrika.

PW Botha het dus nie die « Rubicon » oorgesteek soos Pik Botha en sy afkophoenderdepartement voorspel het hy sou doen nie, maar die wyse waarop hy voor die Rubicon vasgesteek het, is op so ‘n patetiese en ongeluksalige wyse bestuur dat ‘n mens vandag daaroor net kan lag of huil. Maar, weereens, dit kan wees dat dit so beplan was. As die « Rubicon »-fiasko ‘n waterskeiding was, dan was dit een wat direk tot ons ondergang gelei het.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.