Mosie aanvaar om SA se knellende droogte die hoof te bied

Suid-Afrika se Nasionale Raad van Provinsies (NPR) het ‘n mosie oor droogtehulp aanvaar, het RSG berig.

Die uiterste droogte die potensiaal het om voedselsekerheid en politieke bestendigheid te raak.

‘n Gebrek aan voedselsekerheid was een van die hoofredes wat tot die Arabiese Lente in Egipte gelei het, het ‘n opposisielid gesê.

Denemarke het intussen aangekondig dat hulle Suid-Afrika sal bystaan met watervoorsieningsprobleme.

Die Deense minister van Omgewingsake, Eva Kjer Hansen en die Suid-Afrikaanse minister van Water en Sanitasie, Nomvula Mokonyane het ‘n ooreenkoms in Johannesburg onderteken.

Dit volg te midde van die dreigende waterkrisis in die land wat talle munisipaliteite en die landbousektor raak. KwaZulu-Natal en die Vrystaat is reeds as droogte-rampgebiede verklaar.

Mokonyane sê Deense ondersteuning sal ‘n belangrike rol speel om volhoubare oplossings te vind. Hansen sê Denemarke sal sy tegnologie en ervaring bied.

Omdat die landbou-bedryf ‘n belangrike rol speel om maatskaplike en ekonomiese stabiliteit te verseker, het die NRP ‘n beroep op die regering gedoen om boere te ondersteun

Deur droogtehulp te verskaf en toe te sien dat voorgestelde beleid nie bykomende druk op die sektor plaas nie, kan bestendigheid geskep word.

Sitrusboere in die Laeveld sê intussen die uitwerking van die droogte op hul oeste is enorm. Kleinboere in die Bosbokrand-omgewing sê hul verlaagde produksie dwing hulle om werkers in die pad te steek.

Agri-Wes-Kaap sê intussen groot dele van die provinsie is op die rand van ‘n droogte. Met die uitsondering van die Suid-Kaap, wat goeie reënval gehad het, het die res van die land met een van die ergste droogtes in dekades te kampe.

Boere kan nie plant nie, terwyl die Departement van Landbou boere in die binneland gevra het om hul kuddes te verklein weens beperkte weiding.

Die woordvoerder van Agri-Wes-Kaap, Carl Opperman sê die provinsie se graanboere kry die swaarste.

Die LUR vir Landbou in Limpopo, Joy Matshokge wil intussen hê dat die regering dié provinsie weens die droogte tot rampgebied verklaar.

Matshokge sê sy het aan die regering geskryf en bystand versoek. Sy sê haar departement wil veeboere van voer voorsien.

Sy sê sodra ‘n bedrag vir ‘n begroting bepaal is, kan die departement begin om boere vir noodleniging te laat registreer.

Die toeriste-vereniging, Fedhasa, sê waterbeperkings wat weens die voortslepende droogte in Kwa Zulu-Natal ingestel is het ‘n negatiewe impak op die toeristebedryf in die provinsie.

Die federasie sê die meeste hotelle is afhanklik van natuurlike toeriste-aantreklikhede soos damme en die natuurlewe, en hulle sukkel nou om die mas op te kom.

Sommige hotelle moet spesiale reëlings tref om water vir hul gaste beskikbaar te stel. Dit is die ergste droogte sedert 1992 in die provinsie.

Fedhasa het intussen gevra dat die regering meer tegemoedkomend moet wees teenoor hotelle in die toepassing van waterbeperkings.

Die droogte in die iLembe-distrik in KwaZulu-Natal het vererger.

Die distrik sluit Ballito in. Die Hazelmere dam is slegs 27 persent vol, en riviere wat water aan Stanger en omliggende gebiede verskaf is baie droog.

Die burgemeester van iLembe, Welcome Mdabe waarsku dat die hele distrik binne drie maande sonder water kan wees.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.