Duitse polisiebaas waarsku dat Duitsland beheer verloor oor migrante

Deel op

Die Duitse polisie kan die daaglikse invloei van sowat tienduisend vlugtelinge nie meer beheer nie.

“Dit is ons grootste taak sedert die Tweede Wêreldoorlog,” het polisievakbondsbaas Rainer Wendt aan die Nederlandse dagblad De Telegraaf, gesê.

“Ons hou dit nie meer lank so vol nie. Ons gaan volledig beheer verloor,” het die polisieman in Berlyn gesê. Daarom moet die grense dadelik gesluit word, sê hy.

Rainer Wendt is woedend vir Oostenryk, wat die vlugtelinge gewoon deursmokkel: “Dit is onwettig en maak ons woedend, want Oostenryk is ‘n veilige land. Volgens die Dublin-reëls moet asielsoekers daar bly. En ons moet die mense nou op ons onkoste terugvlieg na die Balkan of Bangladesj.”

Geen oplossing is nog in sig ná ’n vergadering Maandag deur die leiers van die drie koalisievennote in die Duitse regering oor die vlugtelingkrisis nie.

Tussen 800 000 en ’n miljoen vlugtelinge en migrante sal na raming vanjaar in Duitsland opdaag.

Dit is twee keer meer as wat die land verlede jaar ontvang het en aansienlik meer as wat na enige ander lid van die Europese Unie gaan.

Kanselier Angela Merkel, leier van die Christen-Demokratiese Unie, Sigmar Gabriel, visekanselier en leier van die Sosiaal-Demokratiese Party, en Horst Seehofer, leier van die Beierse Christen-Sosiale Unie, het Maandag ‘n noodberaad gehou oor die immigrasiekrisis.

‘n Opvolgvergadering sal Donderdag gehou word oor deurgangsones by grensposte waar aansoeke om asiel hanteer kan word asook ‘n verbod op die hereniging van gesinne wat as “amper-vlugtelinge” beskryf word vir ten minste twee jaar.

Seehofer het aan Merkel ‘n ultimatum gestel om die tsoenami van fortuinsoekers te keer en dreig om die Merkel-regering voor die hof te daag weens ‘n oortreding van Duitsland se vlugtelingbeleid.

Merkel het Maandag aan sommige van Seehofer se eise toegegee om die opstand teen haar koalisie te keer. Sy wou egter nie toegee oor ‘n beperking in getalle van aansoekers nie.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.